Magnus Magnusson | |
---|---|
Gebore | Magnús Magnússon 12 Oktober 1929 |
Sterf | 7 Januarie 2007 (op 77) Balmore, Dunbartonshire, Skotland |
Nasionaliteit | Ysland |
Alma mater | Jesus College, Oxford |
Beroep | Joernalis, vertaler, skrywer en televisie-aanbieder |
Bekend vir | Mastermind-aanbieder, vertaalwerk |
Eggenoot | Mamie Baird |
Kinders | 5, insluitende Sally en Jon |
Ouer(s) | Sigursteinn Magnússon (vader) |
Magnus Magnusson, KBE ([ˈmaknus ˈmaknusɔn]; Yslandse spelling: Magnús Magnússon; * 12 Oktober 1929 in Reykjavik, Ysland; † 7 Januarie 2007 in Balmore, Dunbartonshire, Skotland) was 'n Yslandse joernalis, vertaler, skrywer en televisie-aanbieder. Magnusson was 'n Yslander van geboorte, maar het byna sy hele lewe in Skotland deurgebring, alhoewel hy nooit Britse burgerskap aanvaar het nie. Hy was getroud met die Skotse baanbrekerjoernalis en skryweres Mamie Baird (1925−2012), 'n boorling van Glasgow.
In die Verenigde Koninkryk het hy bekendheid verwerf as BBC-televisie-joernalis en aanbieder van die vasvraprogram Mastermind asook 'n verskeidenheid ander programme wat sy belangstelling in geskiedenis, argeologie en omgewingsake weerspieël het.[1] Die laasgenoemde pos het hy 'n kwarteeu lank beklee. Sy belangrikste werke as skrywer van nie-fiksie sluit 'n geskiedenis van Skotland (Scotland: The Story of a Nation, waarin hy veral die sleutelkonsepte van Skotse identiteit en nasiedom verduidelik) en die Wikings (The Vikings) in.