From Wikipedia_af - Reading time: 2 minPaul Rodenko | |
|---|---|
Rodenko ontvang die Poësie prys van die munisipaliteit van Amsterdam (1960) by Ab de Roos | |
| Gebore | Den Haag |
| Sterf | 9 Junie 1976 Warnsveld |
| Beroep | skrywer |
Paul Thomas Basilius Rodenko (26 November 1920, Den Haag - 9 Junie 1976, Warnsveld) was 'n belangrike Nederlandse digter, kritikus, essayis en vertaler. Hy was die seun van 'n Russiese vader en 'n Engelse moeder,[1] en die broer van die skryfster Olga Rodenko.
Tydens die oorlog werk hy mee aan die onwettige tydskrifte Maecenas (Den Haag) en Parade der Profeten (Utrecht). Sy poëtiese debuut maak hy in 1947 met sy vertaling van Dvenatsat (De twaalf) deur die Rus Alexander Blok. Danksy sy essays en bloemlesings oor die eksperimentele poësie in Nederland het 'n klimaat ontstaan waarin die vernuwende Beweging van Vijftig in die Nederlandse poësie in breërwordende kringe aanvaar is. Rodenko, wat onmiddellik na die oorlog in Parys gewoon het, waar hy hom intensief met die surrealisme en die eksistensialisme besig gehou het, was reeds voor die toetrede van die Vijftigers bewus van die gevolge van die Tweede Wêreldoorlog op die letterkunde. Sy essays getuig van 'n buitengewone erudisie; danksy sy veelsydige leeswerk en onafhanklike verwerking van Europese poësie in die algemeen, kon hy die innovasies in die Nederlandse poësie in die vyftigerjare moeiteloos in 'n breër Europese konteks plaas. Sy nadenke oor onder andere Gerrit Achterberg en Hans Lodeizen het baie bekend geword. Sy gedigte, wat in 1975 gebundel is onder die titel Orensnijder tulpensnijder is ook van besondere intensiteit. Hy het ook vertalings gemaak uit Russies, Frans, Duits en Engels.
Rodenko is saam met sy vrou Jettie Rodenko-Schaper begrawe in die Ooster-begraafplaas in Zutphen. Hulle het 'n seun en dogter gehad.
Die Poolse digter, vertaler en akademikus Jerzy Koch het ook van sy werk vertaal.
In Zutphen (in die wyk van Leesten) en in Amstelveen is 'n laan na hom venoem. In Dongen en Utrecht (in die wyk De Woerd) is ook strate wat na hom vernoem is.