From Wikipedia_af - Reading time: 4 min
| Swaardkolibrie | |
|---|---|
Bewaringstatus
| |
| Wetenskaplike klassifikasie | |
| Domein: | Eukaryota |
| Koninkryk: | Animalia |
| Filum: | Arthropoda |
| Klas: | Insecta |
| Orde: | Orthoptera |
| Suborde: | Ensifera |
| Spesie: | E. ensifera
|
| Binomiale naam | |
| Ensifera ensifera (Boissonneau, 1840)
| |
| Die verspreiding van die swaardkolibrie. | |
Die swaardkolibrie (Ensifera ensifera) is ’n spesie van die familie kolibries. Hulle kom voor in die Andesstreek van Suid-Amerika. Hulle is die enigste lid van die genus Ensifera en word gekenmerk deur hul buitengewoon lang snawel – dit is die enigste voël met ’n snawel wat langer as sy lyf kan wees. E. ensifera gebruik sy snawel om nektar uit blomme met lang blomkrone te drink en het saam met die plantspesie Passiflora mixta geëvolueer.
Hulle gebruik hul pote om hul vere te krap en plat te stryk omdat hul snawel te lank is. Dit is ’n ongewone spesie kolibrie, maar een van die grootstes.

Die swaardkolibrie is in 1839 die eerste keer deur Auguste Boissonneau beskryf.[2] Nes alle kolibries is hy lid van die familie Trochilidae in die orde Apodiformes. Hy is die enigste spesies van sy genus. Die naam ensifera ("swaarddraer") kom uit Latyn en verwys na sy uiters lang snawel.
Swaardkolibries is 13-14 cm lank van die punt van hul stert tot die basis van hul snawel. Die mannetjies is effens groter as die wyfies.[3] Die snawel self kan meer as 10 cm lank wees. Die voëls weeg tussen 10 en 15 g, en dit is dus een van die grootste soort kolibries.[4] Nes ander lede van die familie kan swaardkolibries agteruit vlieg en in die lug bly hang.[5]
E. ensifera toon geslagsdimorfie omdat die mannetjies en wyfies se vere verskil. Mannetjies het ’n koperkleurige kop, kopergroen rug, heldergroen maag, swartgroen keel en kopergroen stert. Wyfies het dieselfde kleur kop en rug, 'm wit maag met groen spikkels, ’n meer olyfkleurige keel en ’n gryserige-wit rand om die stert.[3]
E. ensifera is ’n neotropiese voël wat dwarsoor die newelwoude van Bolivia, Colombia, Ecuador, Peru en Venezuela voorkom.[6] Hulle word hoog op in berge aangetref, tussen 1 700 en 3 300 m maar meestal tussen 2 400 en 3 100 m.[3] Dié habitat word verkies vanweë die groot konsentrasie nektarproduserende blomme.[7] Die voëls bly heeljaar in die drie Andes-reekse, met geen bekende migrasiepatrone nie.[8] Die spesie het vermoedelik stabiele getalle en ’n wye geografiese verspreidingsgebied (meer as 60 000 km2), maar hulle is oneweredig versprei en dus moeilik om te vind, en dit bemoeilik navorsing.[9]