Adam Mickiewicz-universiteit | |
---|---|
Die aula aan die Mickiewiczplein | |
Latyn: 'Universitas Studiorum Mickiewicziana Posnaniensis' | |
Gestig: | 1919 |
Tipe: | Openbaar |
Rektor: | Bronisław Marciniak |
Ligging: | Poznań, Pole |
Affiliasies: | Santandergroep, Compostelagroep |
Die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań (Pools: Uniwersytet im. Adama Mickiewicza w Poznaniu, Poolse afkorting UAM) is een van die grootste Poolse universiteite en geleë in Poznań, Woiwodskap Groot-Pole. Die universiteit se oorsprong kan teruggevoer word na 1611.[1] Die universiteit het egter amptelik op 7 Mei 1919 oopgemaak. Sedert 1955 dra dit die naam van die Poolse Romantiese digter Adam Mickiewicz. Die universiteit word dikwels gelys as een van die drie top universiteite in Pole.[2][3]
In 2018 het die Shanghai Rangstelsel die universiteit binne die top 701-800 universiteite ter wêreld geplaas.[4]
Die Jesuïetekollege het op 28 Oktober 1611 onder die koninklike edik wat deur Koning Sigismund III Vasa gemaak is die eerste universiteit in Poznań geword. Hierdie edik is later versterk deur verdere edikte wat uitgereik is deur Koning Johannes II Casimir in 1650 en Koning Jan III Sobieski in 1678. Die universiteit het kragtens hierdie edikte grade aan sy studente toegeken. Die inhuldigingseremonie van die universiteit het egter eers 308 jaar nadat dit formeel gestig is plaasgevind met die 400ste herdenking van die stigting van die Lubrański Akademie–wat beskou word as die universiteit se spirituele voorloper–op 7 Mei 1919. Die universiteit se oorspronklike naam was Wszechnica Piastowska ("Universiteit van die Piast dinastie" – wszechnica - is 'n minder algemene Poolse woord vir "universiteit"). Dit is later in 1920 hernoem na Uniwersytet Poznański ("Poznań Universiteit")[5].
In 1920 het die bekende sosioloog Florian Znaniecki die eerste Poolse department van sosiologie aan die universiteit gestig. Dit was een van die eerste sosiologie departemente in Europa. In dieselfde tydperk het die botanis Józef Paczoski die wêreld se eerste instituut van fitososiologie gestig.
Na die inval van Pole is Poznań deur Duitsland geannekseer en die universiteit in 1939 deur die regering van Duitsland gesluit. Dit het in 1941 as 'n Duitse universiteit heropen wat tot 1944 bedryf is. Die personeel en studente van die Poolse universiteit, waarvan sommige deur die Duitsers uit Warskou verban is, het 'n ondergrondse Poolse "Universiteit van die Westelike Streke" (Uniwersytet Ziem Zachodnich) gestig, waarvan die klasse in private woonstelle gegee is. Baie van die professore en personeel is gevange geneem en in Fort VII in Poznań tereggestel, insluitende professor Stanisław Pawłowski (rektor in die jare 1932-33).[6] Na die afloop van die Tweede Wêreldoorlog het die universiteit op baie kleiner skaal weer oopgemaak. In 1950 is die Mediese Fakulteit–insluitende 'n Tandheelkunde- en Farmakologie afdeling– afgeskei om 'n aparte institusie, tans die Poznań Universiteit van Mediese Wetenskappe, te vorm. In 1955 het die Uniwersytet Poznański 'n nuwe naamgenoot aangeneem, die 19de eeuse Romantiese Poolse digter Adam Mickiewicz, wat tans die universiteit se naam is.
The universiteit se sentrale administrasiegebou is die Collegium Minus wat geleë is aan die westelike kant van Adam Mickiewicz-plein. (Dit is een van 'n groep geboue, insluitende die Rykspaleis, wat in die eerste dekade van die 20ste eeu gebou is toe Poznań steeds onder Duitse heerskappy was. Dit was oorspronklik 'n Koninklike Akademie.) Hierby word ingesluit die Aula, wat dikwels gebruik word vir seremonies en vir klassieke-musiek konserte en die Collegium Iuridicum (wat die Regsfakulteit bevat). Sommige klasse vind plaas in die Collegium Maius, een van die genoemde groep geboue (by ul. Fredry), alhoewel die gebou hoofsaaklik gebruik word deur die mediese universiteit. Ander geboue in die stadsentrum sluit die voormalige kommunistiese partye se hoofkwartiere by Święty Marcin in, die sogenaamde Collegium Novum (dit word hoofsaaklik gebruik vir taalklasse) by Al. Niepodległości, en die universiteit se biblioteek by ul. Ratajczaka.
Die universiteit maak ook gebruik van 'n aantal ander geboue in die suidelike en westelike distrikte van Poznań. Die universiteit is egter goed op dreef met die ontwikkeling van sy perseel by Morasko wat geleë is in die noorde van die stad. Met ingang 2006 het die Fakulteite van Fisika, Wiskunde, Rekenaarwetenskap, Biologie en Geografiese- en Geologiese Wetenskappe na die nuwe perseel geskuif. In 2015 het die Fakulteit van Geskiedenis (Collegium Historicum Novum) ook na die nuwe perseel geskuif.[7]
Die universiteit het ook eksterne takke in ander dorpe van Wes-Pole, insluitende Kalisz, Ostrów Wielkopolski en Słubice.
In die begin van die 2008/2009 akademiese jaar het die universiteit 46,817 voorgraadse studente (insluitende omtrent 18,000 wat in naweek- en aandklasse ingeskryf was), 1308 doktorale studente, en 2247 andersoortige nagraadse studente, gehad. Die aantal voorgraadse studente het effens afgeneem tussen 2005 en 2008.[8]
Aan die einde van 2008 het die universiteit 'n totaal van 2892 lektore gehad, insluitende 257 volle professors en 490 assosiaat/assistent professore. Dit het ook 2120 ander werknemers gehad.[9]
Die universiteit beskik ook oor 'n Department Afrikaans binne die Fakulteit Nederlands en Suid-Afrikaans waar die Afrikaanskenner Jerzy Koch klasgee.
Soos die meeste ander Poolse universiteite ken Adam Mickiewicz-universiteit die volgende grade toe:
Die universiteit het ook die volgende fakulteite:
Van die Universiteit se bekendste gegradueerdes is:
Ontvangers van ere doktorsgrade sluit Maarskalk Józef Piłsudski, Maarskalk Ferdinand Foch, Marie Curie, Ignacy Paderewski, Roman Dmowski, Witold Hensel, Wisława Szymborska, Ernst Håkon Jahr en JM Coetzee in.