Beta Persei A / B / C
| ||||
Sterrebeeld | Perseus | |||
Spektraaltipe | B8V (A)[1] / K0IV (B)[2] / A5V (C) | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 03h 08m 10.1315s[1] | |||
Deklinasie | +40° 57′ 20.332″[1] | |||
Skynmagnitude (m) | 2,12[1] | |||
B-V-kleurindeks | -0,05[3][3] | |||
U-B-kleurindeks | -0,37[3] | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 3,59 / 0,79 / 1,67 | |||
Radius (R☉) | 4,13 / 3,0 / 0,9 | |||
Ligsterkte (L☉) | 98 / 3,4 / 4,1 | |||
Ouderdom (jaar) | < 3×108 | |||
Temperatuur (K) | 9 200[4] / 4 500 / 8 500 | |||
Eienskappe | ||||
Veranderlikheid | Verduisterende veranderlike | |||
Veelvoudigheid | Dubbelster | |||
Ander name | ||||
Algol, Gorgona, Gorgonea Prima, Demon Star, El Ghoul, β Persei, β Per, Beta Per, 26 Persei, BD+40°673, FK5 111, GC 3733, HD 19356, HIP 14576, HR 936, PPM 46127, SAO 45864 | ||||
|
Algol (ook Beta Persei, β Per of die Duiwelster genoem) is ’n helder ster in die sterrebeeld Perseus. Dit is een van die bekendste verduisterende dubbelsterre[5] en die eerste een wat ontdek is. Dit is ook een van die eerste veranderlike sterre wat nie ’n nova is nie wat ontdek is.
Algol is eintlik ’n driedubbele sterstelsel (Beta Persei A, B en C), waarin die groot, helder Beta Persei A gereeld deur die dowwer Beta Persei B verduister word. Dus is Algol se skynbare magnitude byna konstant 2,1, maar dit verdof elke 2 dae, 20 uur en 49 minute tot 3,4 tydens die rofweg 10 uur lange gedeeltelike verduisterings. Daar is ook ’n sekondêre verduistering (die "tweede minimum") wanneer die helder ster voor die dowwe ster verbybeweeg. Hierdie tweede verduistering kan net foto-elektries waargeneem word.[6] Die klas veranderlike sterre bekend as Algol-veranderlikes is na dié ster genoem.
Van die Aarde af gesien, vorm Algol A en Algol B ’n verduisterende dubbelster vanweë hul wentelvlak. Algol is egter eintlik ’n driedubbele stelsel: die verduisterende paar word deur net 0,062 AE geskei (1 AE is die afstand tussen die Aarde en die Son), terwyl die derde ster in die stelsel (Algol C) sowat 2,69 AE van hulle af is. Die wentelperiode van die drie sterre is 681 dae. Hul totale massa is sowat 5,8 sonmassas, en die massaverhouding tussen A, B en C is sowat 4,5:1:2.
Sterre | Semi-hoofas | Wentel-eksentrisiteit | Wentelperiode | Inklinasie |
---|---|---|---|---|
A–B[7] | 0,00218″ | 0,00 | 2,86736 dae[8] | 97,69° |
(AB)–C[9] | 0,09461″ | 0,225 | 680,05 dae | 83,98° |
Die bestudering van Algol het gelei tot die Algol-paradoks in ster-evolusie: hoewel twee sterre in ’n dubbelstelsel op dieselfde tyd vorm en sterre met ’n groot massa se evolusie vinniger is as dié met ’n kleiner massa, is opgemerk dat Algol A, wat ’n groter massa het, nog in sy hoofreeksfase is terwyl Algol B, wat ’n kleiner massa het, ’n subreusester en dus in ’n latere evolusiefase is. Die paradoks kan opgelos word met massaoordrag: B het aanvanklik die grootste massa gehad en dus het dit ’n subreus geword. Die ster het sy Roche-lob oorskrei en die meeste van sy massa is oorgedra aan die kleiner A, wat nog in die hoofreeks is. Dit het tot gevolg gehad dat A nou die grootste massa het. In sommige dubbelstelsels soortgelyk aan Algol kan ’n gasvloei gesien word.[10]
Die stelsel toon ook veranderlike aktiwiteite in die vorm van X-strale en radiogolf-uitbarstings. Eersgenoemde word vermoedelik veroorsaak deur die ’n wisselwerking tussen die magneetvelde van A en B en die massaoordrag.[11] Die radiogolf-uitstralings word dalk veroorsaak deur magnetiese siklusse soortgelyk aan dié van sonvlekke, maar omdat die magneetvelde van hierdie sterre tot 10 keer so sterk is as dié van die Son, is die uitstralings kragtiger en meer gereeld.[12]
Algol is sowat 92,8 ligjare van die Son af geleë, maar sowat 7,3 miljoen jaar gelede het dit binne 9,8 ligjare van die Sonnestelsel af verbybeweeg.[13] Hul skynbare magnitude was toe -2,5, wat heelwat helderder is as dié van Sirius vandag. Vanweë die groot totale massa van die Algol-stelsel (5,8 sonmassas) kon die swaartekrag groot genoeg gewees het om die Oort-wolk van die Sonnestelsel te versteur en die getal komete na die binneste deel van die Sonnestelsel te laat toeneem. Dit sou egter in ’n klein mate gewees het.[14]
Die ster het histories in verskeie kulture ’n sterk verbintenis met duiwels en geweld.
Die naam Algol is afgelei van die Arabiese رأس الغول ra's al-ghūl: kop (ra's) van die lykverslinder (al-ghūl).[15] Die naam "Duiwelster" is ’n direkte vertaling daarvan.[16]
In Hebreeuse folklore is Algol Rōsh ha Sāṭān of "Satan se Kop" genoem.[16] Hipparcos en Plinius die ouere het dit ’n aparte sterrebeeld gemaak, maar wat aan Perseus verbind was.[16]
Ptolemeus het na Algol verwys as "die Gorgo van Perseus" en dit verbind met die dood deur onthoofding: ’n tema wat die Griekse mite weerspieël van die held Perseus se oorwinning oor die Gorgo Medusa toe hy haar kop afgekap het.[17]