Josef Anton Bruckner (4 September 1824, Ansfelden, Oostenryk – 11 Oktober 1896, Wene) was ‘n Oostenrykse komponis van ‘n aantal hoogs oorspronklike, en wat slegs beskryf kan word as monumentale, simfonieë. Hy was ook ‘n orrelis en pedagoog wat baie gewyde en sekulêre koormusiek gekomponeer het.
Bruckner was die seun van 'n skoolhoof van 'n dorpskool en 'n orrelis in Bo-Oostenryk. Hy het teen die ouderdom van vier jaar talent getoon op die viool en spinet, en teen die ouderdom van tien jaar het hy spelers by die kerkorrel begin vervang. In 1835-36 het hy in Hörsching saam met sy pleegpa, J.B. Weiss - 'n mindere komponis - begin studeer. Na sy vader se dood in 1837 het Bruckner ingeskryf by die monnikeskool van St. Florian as 'n koorseun. Hierdie briljante Barokinstansie, met sy manjifieke orrel, sou weldra Bruckner se spirituele tuiste word. Hy het in 1840-41 in Linz opleiding as 'n assistent skoolonderwyser ontvang, en nadat hy poste beklee het in Windhaag en Kronstorf, het hy in 1845 teruggekeer na St. Florian as 'n ten volle gekwalifiseerde laerskool onderwyser. Bruckner het vir omtrent 'n dekade by St. Florian klasgegee, en in 1848 is hy aangestel as die hooforrelis van die abdy-kerk.
Intussen het sy komposisionele vaardighede met rasse skrede toegeneem, en onder die St. Florian tydperk kan onder andere 'n uitstekende Mis in D Mineur (1849) getel word. Die invloed van Franz Schubert en Felix Mendelssohn is in hierdie werke bygevoeg tot die Weense klassieke idioom waarin Bruckner geskryf het. Alhoewel Bruckner uiteindelik ongelukkig geraak het met sy beperkte vooruitsigte by die eensame klooster, was hy huiwerig om die pos vir 'n suiwer musikale loopbaan te verlaat. In 1856 is hy op teësinnige wyse deur sy vriende oortuig om aansoek te doen vir die pos van katedraal-orrelis by Linz, welke hy maklik verkry het. Op dieselfde tyd het hy 'n vyfjaar-lange korrespondensiekursus in gevorderde harmonie en kontrapunt begin onder die Weense pedagoog Simon Sechter. Bruckner het regdeur sy volwasse lewe 'n intense toegewydheid getoon aan die spirituele lewe; 'n onblusbare en onuitputbare aptyt vir musikale studie, revisie of hersiening, en ook verbetering. Met sy provinsialisme en toegewyde aard, was hy in vreemde geselskap tussen die gesofistikeerde komponiste van die Romantiek welke sy tydgenote was. Hy het nooit verander wat betref sy eenvoud van karakter, sy plattelandse aksent en kleding, sy sosiale naïwiteit, of sy onvoorwaardelike eerbied, gehoorsaamheid en onderdanigheid aan gesag nie. Alhoewel daar in die lig van sy prestasies nie getwyfel kan word aan sy intellektuele kragte nie, was hy inwaarts onseker van homself, en het hy konsekwent na getuigskrifte ten opsigte van sy vermoë gesoek. Sy private lewe het 'n ongelukkige patroon van passievolle maar onbeantwoorde verhoudinge met jonger, meestal tienermeisies, aangeneem. In 1861 het Bruckner sy moeilike studies met Sechter afgesluit met uitstekende getuigskrifte, en hy het ook die beoordelaars by 'n orreleksamen in Wene verstom. Die styl in werke soos sy sewedelige Ave Maria (1861) vertoon 'n nuwe vryheid, diepte en selfversekerdheid. Hy het nou voortgegaan met 'n studie van vorm en orkestrasie saam met Otto Kitzler, en gedurende hierdie tyd het hy die musiek van Liszt, Berlioz, en veral, Wagner, ontdek. Kitzler se produksie in 1863 in Linz van Wagner se opera Tannhäuser het 'n enorme indruk op Bruckner gemaak. Die eerste van sy drie orkestrale koorstukke, die Mis in D Mineur (1864), is die hoogtepunt van hierdie tydperk van streng, selfopgelegde opleiding en die stadige groei na volwassenheid. Na twee vroeëre essays in orkesvorm het Bruckner sy Simfonie No. 1 in C mineur in 1866 voltooi. Dieselfde jaar het hy die Mis in E Mineur voltooi, wat saam met die Mis in F mineur (1868) sy drieluik van groot feestelike misse voltooi het. Bruckner het deurgaans in sy kreatiewe volwassenheid ook 'n pragtige reeks motette voltooi wat die kolossale stappe van sy simfoniese vordering uitstippel, met onder andere die Locus iste, Christus factus est, en Ecce sacerdos magnus. Hulle word beskou as van die hoogste prestasies van Rooms-Katolieke kerkmusiek. Bruckner het aan die einde van 1866 'n ergere senuweeaanval gehad, waarvan hy herstel het na drie maande in 'n sanatorium, alhoewel intense periodes van depressie hom later sou lastig val. In 1868 het hy sy onderwyser (Sechter, wat intussen oorlede is) opgevolg as professor aan die Weense Konservatorium. Hy het aldaar in harmonie en kontrapunt klas gegee en was geliefd by sy studente vir sy onvergeetlike en innemende styl.
Die laaste 25 jaar van Bruckner se lewe het hoofsaaklik bestaan uit die komposisie van sy simfonieë, d.i. die skepping van nuwe begripsvorme, en sy stryd om sukses te behaal in die aangesig van fiere en woedende opposisie. Die dapperheid en oorspronklikheid van sy musiek het hom vasgeloop in onverstaanbaarheid en is bespot deur die gesaghebbende Weense kritikus Eduard Hanslick, wat 'n voorstander was van die Duitse komponis Johannes Brahms en sy abstrakte musiek, en onsimpatiek was teenoor Wagner. Bruckner was 'n vurige bewonderaar van Wagner, en hy is verkeerdelik gebrandmerk as 'n dissipel van Wagner. Sy loopbaan is benadeel deur sy onbewuste betrokkenheid in die vurige geveg tussen die volgelinge van Wagner en Brahms. Bruckner het in 1875 'n langverwagte pos as lektor aan die Universiteit van Wene gekry, ten spyte van die opposisie van Hanslick, wat toe die dekaan van die universiteit se musiekfakulteit was. In 1878 is Bruckner verkies as lid van die Hofkapelle, waar hy vir 'n aantal jare 'n onbetaalde orrelis was. Bruckner se belangrikste kamermusiekwerk, die strykkwintet in F Majeur, is in 1879 voltooi. 'n Monumentale toonsetting van die Te Deum het in 1884 hierop gevolg. Later dieselfde jaar was die dirigent Arthur Nikisch se premiere van Bruckner se Simfonie No. 7 in E Majeur in Leipzig Bruckner se eerste ondubbelsinnige triomf. Dit was 'n keerpunt in sy artistieke lotsgevalle. Sy ander simfonieë het hierna in Duitsland en self in Wene wye aftrek begin kry. Teen die vroeë 1890's was Bruckner 'n bekende en gerekende figuur, en 'n eredoktorsgraad in filosofie is in 1891 deur die Universiteit van Wene aan hom toegeken. Sy laaste koor-orkeswerke was Psalm 150 (1892) en Helgoland (1893). Drie bewegings van sy Simfonie No. 9 in D Mineur was teen 1894 gereed, maar hy kon nie die Finale voor sy dood voltooi nie. Hy is begrawe in St. Florian.
Bruckner het basies slegs een simfoniese begrip nagestreef, wat met die verloop van sy loopbaan stadig ontwikkel en verander het. Die sleutel tot sy behandeling van groot musikale vorme is die dramatiese gebruik van tonaliteit oor 'n lang tydsverloop. (Die adagio beweging van 'n Bruckner simfonie kan 'n ontsagwekkende emosionele ondervinding van 30 minute lank wees) Sy vroegste simfonieë verteenwoordig die eerste fase van hierdie ontwikkeling, terwyl die Simfonie No. 3 in D Mineur (1873) die essensie van sy volwasse styl ontsluier. Die Simfonie No. 5 in B-mol majeur (1875–76) het hierdie vorm sy finale aanslag gegee, welke Bruckner sou najaag in 'n verdere drie voltooide simfonieë en 'n onvoltooide simfonie. Die eerste bewegings van Bruckner se simfonieë open sagkens, en die tonale tussenspel word dikwels gesuggereer in selfs die vroegste mate. (sien maatstreep) Hierdie bewegings is in sonatevorm, maar Bruckner gebruik drie kontrasterende temas in die eksposisie eerder as die gebruiklike twee. Die tweede tema is dikwels sangerig, met melodiese stringe wat tegelykertyd verskyn. Die musiek bou op na klimakse in 'n stapsgewyse wyse by wyse van klimmende, opeenvolgende repetisies. Die adagios (tweede bewegings) bestaan op tipiese wyse uit 'n uitgerekte wysiging van twee tematiese groepe ter uitbreiding van die ABABA vorm. Hierdie stadige bewegings, wat opbou na massiewe klimakse, verkry dikwels 'n onvergelykbare sublimiteit. Die scherzos (derde bewegings) is gebaseer op dansritmes, maar hulle wissel grootliks wat betref hul tempo, and hul dreunende, aanhoudende temas verkry 'n asemrowende en asembenemende kwaliteit in die latere simfonieë.
Die trio seksie van die scherzo bevat dikwels 'n teer en sagte landelike dans, soos die wat Bruckner in sy jeug vergesel het. Die finale bewegings, soos die eerste, is gebou op 'n drie-onderwerp uitgebreide sonatevorm, en inkorporeer aspekte van die eerste drie bewegings. Die laaste beweging van die Vyfde Simfonie, wat eindig in 'n massiewe dubbele fuga, is uniek in Bruckner se simfonieë en is ongetwyfeld sy beste finale. Beide die eerste en laaste bewegings van Bruckner se simfonieë bevat gewoonlik utgebreide kodas met vlammende perorasies.
Met sy gedissiplineerde akademiese opleiding, sterk godsdienstige neigings, en ongewoon stadige pad na volwassenheid, is Bruckner meer vergelykbaar met 'n Barok- of Renaissancekomponis as een uit die Romantiek. Tog is sy volwasse komposisionele styl gewaagd wat betref vorm, harmonie en tonaliteit. Sy ontsaglike polifonie se vaardighede, sy vermoë om argaïese vorms te inkorporeer binne sy eie gevorderde styl, sy voorliefde vir skielike kontraste van dinamika en sy gebruik van manjifieke koperblaasinstrument-effekte getuig alles van sy gewaagdheid en oorspronklikheid. Bruckner se orkestrasie is egter merkwaardig ekonomies, maar verskil heeltemal van die uitbundige homogeniteit van Wagner. Groepe instrumente word afwisselend of beurtelings gespeel in kontrasterende groepe (bv. koperblaasinstrumente teenoor houtblaasinstrumente), wat 'n pragtige en monumentale grootsheid bereik wat buite proporsie is tot die relatief beskeie aantal en tipe instrumente wat gebruik word. Geen van Bruckner se simfonieë is programmaties, behalwe insoverre hulle "gelaai is met die grootsheid van God."
As gevolg van die talle omwerkinge en wysigings wat Bruckner aangebring het aan sy simfoniese werke, het die probleem nog altyd voorgekom welke weergawe die geskikste vir opvoerings is. As 'n algemene reël is die eerste weergawe gewoonlik verkieslik. Die tweede helfte van die 20ste eeu het 'n groot uitbreiding gesien wat betref die publiek se waardering van Bruckner, wie se musiek definitief 'n geduldige benadering aan die kant van die luisteraar beloon.[1]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |