Arnaldur Indriðason | |
---|---|
Arnaldur Indriðason in 2004 | |
Gebore | 28 Januarie 1961 |
Nasionaliteit | Ysland |
Beroep | Skrywer |
Ouer(s) | Indriði G. Þorsteinsson |
Arnaldur Indriðason (* 28 Januarie 1961 in Reykjavik) is 'n Yslandse skrywer van speurverhale. Hy het in 1996 'n graad in geskiedenis aan die Universiteit van Ysland verwerf en was later vir 'n langer tydperk as joernalis en filmkritikus vir die dagblad Morgunblaðið werksaam.
Arnaldur Indriðason het tot dusver elf romans geskryf wat in 26 lande vrygestel en in tale soos Duits, Noors, Deens, Sweeds, Fins, Engels, Nederlands, Tsjeggies, Spaans, Portugees en Frans vertaal is. Die meeste van Indriðason se speurverhale handel om kommissaris Erlendur Sveinsson en sy kollegas van die Reykjavikse polisiekantoor, en met die derde roman in hierdie reeks, Mýrin, het Indriðason internasionale bekendheid verwerf.
Mýrin handel om 'n verkragting wat eers ná enkele jare aan die lig kom toe die dader in misterieuse omstandighede vermoor word. Die outeur het in hierdie boek 'n aktuele en emosionele onderwerp aangespreek aangesien die versameling van genetiese gegewens van Yslandse burgers in 'n databank en erflike siektes 'n sentrale rol in die boek speel.
Mýrin (Engelse titel: Jar City) is in 2006 deur die regisseur Baltasar Kormákur met Ingvar Eggert Sigurðsson in die hoofrol verfilm. Die film is met die hoofprys van die 42ste Filmfees van Karlovy Vary (Karlsbad) in die Tsjeggiese Republiek bekroon.
Slegs twee van Indriðason se werke val nie in die speurverhaal-kategorie nie en kan eerder as rillerromans beskryf word. Napóleonsskjölin handel om 'n politieke intrige van die Amerikaanse geheimediens in Ysland - spore van 'n vliegtuig lei tot die gletser Vatnajökull. Bettý is die verhaal van 'n femme fatale, 'n beeldskone jong dame wat as 'n verleidster optree en alles doen om haar doelwit te bereik. Die geslaagde verrassingseffek in die middel van die boek herinner aan die einde van The Sixth Sense. Die twee romans was blykbaar minder aantreklik vir lesers van Indriðason se speurverhale en het dan ook byvoorbeeld in Duitsland slegs as sagtebande verskyn.