Buccaneer | |
---|---|
Buccaneer S.2B, RAF Mildenhall, 1988 | |
Tipe | Aanvalsvliegtuig |
Vervaardiger | Blackburn Aircraft Ltd Hawker Siddeley |
Nooiensvlug | 30 April 1958 |
Vrygestel | 17 Julie 1962 |
Onttrek | 1993 |
Status | Onttrek |
Hoofgebruikers | Britse Vloot Britse Lugmag Suid-Afrikaanse Lugmag |
Die Blackburn Buccaneer was 'n vliegdekskipgebaseerde aanvalsvliegtuig wat in die 1950's ontwerp is, in staat om 'n atoombom onder die radardekking te vervoer.[1] Dit was 'n Britse lae-vlak subsoniese aanvalsvliegtuig wat in die Britse Vloot (Royal Navy) en later die Britse Lugmag (Royal Air Force) gedien het, tot sy uitdiensstelling in 1994. Dit is ontwerp en aanvanklik deur Blackburn Aircraft op Brough gebou, maar het later bekend gestaan as die Hawker Siddeley Buccaneer toe Blackburn 'n deel van die Hawker Siddeleygroep geword het.
Die Britse Vloot het oorspronklik die Buccaneer as 'n vlootaanvalsvliegtuig verkry, wat in staat was om vanaf hul vliegdekskepe te opereer. Die bekendstelling van hierdie tipe tuig in 1962 het vooruitgang wat deur die Sowjetvloot gemaak is, uitgebalanseer. Die Buccaneer was in staat tot die lewering van kernwapens asook konvensionele ammunisie vir teenskeepse oorlogvoering, en was tipies aktief in die Noord-Seegebied. Vroeg tydens die eerste produksievliegtuie se gebruik, het 'n reeks rampe plaasgevind weens onvoldoende enjinkrag, dus is die Buccaneer S.2 daarna met die kragtiger Rolls Royce Speyenjins toegerus.
In Oktober 1962 is 16 vliegtuie deur die Suid-Afrikaanse Lugmag bestel, gelewer as die Buccaneer A.50.[2] Dit was 'n S.2 vliegtuig met die toevoeging van 'n Bristol Siddeley BS.605 vuurpylenjin om bykomende stukrag op die "warm en hoë" Afrikavliegvelde te lewer. Die A.50 was ook toegerus met 'n versterkte onderstel, hoëkapasiteitwielremme en handopvoubare vlerke. Hulle was toegerus om die AS-30 geleide lug-tot-oppervlakmissiele te gebruik. In-vlugbrandstofaanvulling is ook gespesifiseer en omrede die lang Suid-Afrikaanse kuslyn, is groter 1 628 liter (358 gelling) tenks aangebring.[3] Sedert die Buccaneer in Suid-Afrika in diens geneem is, het dit geblyk dat die ekstra stukrag van die BS.605 vuurpylenjins onnodig is; die vuurpyle is baie selde gebruik en uiteindelik ook verwyder van alle vliegtuie.[4] Suid-Afrika wou later nóg Buccaneers aankoop, maar die Britse regering het verdere bestellings geblokkeer weens die Verenigde Nasies se sanksieveldtog teen Suid-Afrika.[5]