| |||||
Leuse: Onen hag oll (Kornies: Een en almal) | |||||
Geografie | |||||
Status | Seremoniële en (kleiner) nie-metropolitaanse graafskap | ||||
---|---|---|---|---|---|
Gewes | Suidwes-Engeland | ||||
Oppervlakte - Totaal - Admin. Raad - Scilly-eilande |
3 563 km2 3 562 km2 16 km2 |
||||
Administratiewe hoofstad | Truro | ||||
ISO 3166-2 | GB-CON | ||||
ONS kode | 15 | ||||
NUTS 3 | UKK30 | ||||
Demografie | |||||
Bevolking - Totaal (2017 skatting) - Bevolkingsdigtheid - Admin. Raad - Admin. bev. |
Gelys 39ste 563 600 158 / km2 Gelys 23ste 529 500 | ||||
Etnisiteit | 99,0% Blankes, waarvan 6,8% van Korniese afkoms | ||||
Politiek | |||||
Cornwall County Council http://www.cornwall.gov.uk/ | |||||
Uitvoerende gesag | Liberaal-Demokrate / Onafhanklik | ||||
Parlementslede sedert 2019 |
| ||||
Distrikte (tot 2009) | |||||
Cornwall (soms Cornwallis in Afrikaans genoem) vorm saam met die Scilly-eilande 'n graafskap in die verresuidweste van Engeland, Verenigde Koninkryk, met 'n oppervlakte van 3 563 vierkante kilometer en 'n bevolking van sowat 563 600 in 2017. Dit is ’n gewilde bestemming vir toeriste en branderplankryers. Voorheen was daar baie tinmyne.[1]
Cornwall is 'n skiereiland aan die Atlantiese Oseaan en die Engelse Kanaal met 'n kuslyn van sowat 320 km (die skiereiland is sowat 120 km lank, met 'n maksimum breedte van 72 km). Die Tamarrivier vorm die oostelike grens met die graafskap Devon. Cornwall se heideveld is ryk aan kaolien (porseleinaarde) en tin.[2]
'n Baie gematigde kusklimaat maak van Cornwall met sy natuurskoon en sy klein visserdorpies een van die gewildste gebiede vir toerisme in die Verenigde Koninkryk en bevoordeel ook landbou en tuinbou. Danksy die invloed van die Golfstroom is 'n aantal plekke in Cornwall geskik vir Mediterreense en subtropiese fauna.[3]
Nywerhede sluit mynbou, looiery, tekstiel- en papiervervaardiging in. Cornwall het 'n oorwegend landelike karakter met min groter dorpe. Die grootste stedelike nedersetting is die Camborne/Redruth-woonbuurt met 55 400 inwoners, gevolg deur St Austell-woonbuurt met 34 700 inwoners en die Falmouth/Penryn-woonbuurt met 33 000 inwoners. Die hoofstad Truro (en aangrensende gebiede) het 'n bevolking van 23 041 inwoners.[4]
Die oudste nedersettings in Cornwall dateer uit die vroeë steentydperk. Die boere en vissers, wat tydens die later steentydperk na Cornwall geïmmigreer het, het die plaaslike megalietkultuur ontwikkel, waarvan die hunegrafte naby Bodmin en Penwith die bekendste oorblyfsels is. 'n Nuwe golf immigrante, wat hulle teen die einde van die laat steentydperk in die gebied gevestig het, was meesters van beker- en bronsvervaardiging.
Die Keltiese setlaars van die 6de eeu v.C. het die gebied vanuit die ooste binnegestroom en die ystervervaardiging en -bewerking in Cornwall ingevoer. Saam met Devon en Somerset het Cornwall die stamgebied van die Cornouiërs in die weste en die Dumnoniërs in die ooste gevorm, wat albei vroeë variante van die Kelties-Britanniese taal gepraat het.
Met die Romeinse verowering van Brittanje in 40 n.C. het Cornwall 'n toevlugsoord en sentrum van Keltiese weerstand teen die besetters geword wat sy onafhanklikheid kon handhaaf. Die Romeinse stad Isca Dumnoniorum (die huidige Exeter) het as die administratiewe hoofstad van die gebied oos van Cornwall gedien. Terwyl die Walliese en Engelse plekname Dyfnaint en Devon nog steeds na die Dumnoniërs verwys, leef die Cornouiërs in die naam Cornwall voort. Die woord het sy etimologiese oorsprong in die Anglo-Saksiese wealas ("uitlanders, Britte, Walliesers") en die Latynse Cornubia, 'n Romeinse weergawe van die Britse Cornouia of "Land van die Cornouiërs".
Onderlinge twiste het aangehou totdat die legendariese koning Artus vanuit sy kasteel Tintagel met die pasifikasie van Cornwall begin het. Die kerstening van die gebied deur Ierse, Walliese en Bretonse sendelinge het in die 5de eeu 'n aanvang geneem.
Cornwall het ook tydens die Anglo-Saksiese heerskappy van Engeland daarin geslaag om sy Keltiese karakter te handhaaf. Nogtans het 'n deel van die Keltiese bevolking onder die druk van die Germaanse veroweraars na die Franse vasteland gevlug, waar hulle in Bretagne 'n nuwe tuiste gevind het.
In teenstelling met die antieke tydperk lewer die historiese dokumente uit die vroeë Middeleeue geen presiese inligting oor Cornwall op nie, aangesien die destydse geskiedskrywers die name Kernow (die inheemse naam van Cornwall) en Kernev, die gebied van die huidige Cornouaille in Bretagne, deurmekaar gebruik het.
Sedert die 9de eeu het Kornies as 'n selfstandige taal naas Oud-Bretons en Oud-Wallies bestaan. Die Keltiese bevolking in die ooste is deur Sakse uit Devon verdring. Athelstan, die koning van die Wes-Saksiese Koninkryk Wessex, het die Keltiese bevolking uit Exeter verdryf en die laaste onafhanklike koning van Cornwall, Hywel, verslaan. Die Tamarrivier het nou die grens tussen die Saksiese koninkryk en die verowerde gebiede gevorm. Administratief het Cornwall nou 'n deel van Engeland gevorm.
Tydens die oorloë teen die Sakse het die literêre legendes van Koning Artus en Tristan en Isolde ontstaan, wat danksy hulle Bretonse weergawe, die Matière de Bretagne, die aanleiding vir die Franse ridder- en graal-epiek van die 13de en 14de eeu gegee het.
Ná die Normandiese verowering van Engeland in die jaar 1066 het ook Cornwall ses jaar later onder Normandiese heerskappy gekom, maar steeds 'n oorwegend Keltiese gebied gebly. In hierdie tydperk het Cadoc, 'n inheemse hoof, oor Cornwall geheers. Sy kenmerkende swart wapenskild met die goue buile het later die aanleiding vir die wapen van die Hertogdom van Cornwall gegee. Die Engelse koning Edward III het Cornwall tot 'n graafskap met 'n besondere status verhef. Desondanks het die destydse landelike adel van Cornwall oorwegend uit Normandiërs bestaan, met 'n Saksiese middelklas en die Keltiese bevolking as die nederste laag van die maatskappy. 'n Aantal dokumente in Kornies dateer uit hierdie tydperk, maar alhoewel die taal nog vier eeue lank gebesig is, was dit nou toenemend die taal van die armes en die gebiede in die uiterste weste. Soos elders in Engeland het Anglo-Normandies en later Engels die status van amptelike taal gekry.
Tans is Cornwall 'n graafskap (Engels: county) van Engeland en serdet 2009 'n unitary authority. Die inwoners van Cornwall is die enigste Keltiese bevolking van die Verenigde Koninkryk wat geen besondere grondwetlike status het nie.
Hoewel die inwoners van Keltiese afkoms is, geniet hulle nie dieselfde status as die Skotte, Walliesers en Noord-Iere nie; die laaste vrou wat die ou inheemse taal Kornies nog as haar moedertaal beskou, Dolly Pentreath, is in 1780 oorlede. Die bevolking van Cornwall word dus nie as 'n etniese minderheid beskou nie, soos byvoorbeeld die Skots-Galiestalige inwoners van die Skotse hoogland.[5]
Vandag begin die taal egter herrys; die Old Cornwall-beweging het reeds in die eerste helfte van die twintigste eeu begin om meer belangstelling vir die Korniese taal te wek. Enkele honderd mense praat vandag weer Kornies as hul tweede taal, naas Engels.[5]
Cornwall is een van die armste grafskappe in die Verenigde Koninkryk met 'n bruto binnelandse produk van €24,500 per jaar teenoor 'n Britse gemiddeld van €36,500 per jaar (2018-syfers).[6] Tradisioneel was die ontginning van koper en tin een van die vernaamste nywerhede in Cornwall, maar gedurende die afgelope eeu het hierdie industrie agteruitgegaan. Vandag is toerisme die grafskap se belangrikste ekonomiese aktiwiteit, wat 24% van sy inkomste bydra met landbou en visvang wat aansienlike bemagtiging verskaf. In onlangse jare het Cornwall 'n belangrike punt vir telekommunikasie geword, aangesien baie trans-kontinentale ondersese kommunikasielyne in Cornwall opduik. Die nuutste bedryf wat homself in Cornwall gevestig het, is die lugvaartbedryf wat die Newquay-lughawe as 'n lanseerplek vir satelliete gebruik.
Cornwall is 'n toerisme bestemming en het baie merkwaardige besienswaardighede.
Die Edenprojek is 'n navorsingsentrum waar verskeie klimate en verwante flora (biome) in geodesiese koepels nageboots word. Dit is in 'n voormalige kleimyn gebou en het in 2001 geopen. Dit het sewe koepels, waarvan die grootste 'n deursnee van sowat 90 meter het. Die koepels is in twee trosse verdeel – een wat die gasheer is vir 'n tropiese reënwoudbioom (1,56 ha) en die ander wat 'n Mediterreense bioom huisves (0,654 ha).[7]
Cornwall is in misterie gehul. Baie van sy kerke en dorpe is vernoem na plaaslike heiliges, insluitend:
Historiese geboue sluit in die Tintagel-kasteel, waar, volgens legende, koning Artur gebore is, en St Michaels Mount, 'n abdij wat op 'n eiland gebou is wat met laagwater te voet bereikbaar is.
Keltiese gebiede in Europa | ||
---|---|---|