Delila, uit die Sorekdal, is volgens Rigters in die Hebreeuse Bybel 'n vrou waarmee Simson 'n verhouding gehad het.
Die etimologie en betekenis van die naam Delila (Hebreeus: דְּלִילָה, dəlilāh) verskaf verskeie gesprekspunte:
Nadat Simson 'n verhouding met Delila aanknoop, word sy genader deur die Filistynse stadvorste. Hulle beloof haar 'n groot hoeveelheid silwer indien sy kan ontdek waarin Simson se geweldige krag lê, en hoe hulle hom weerloos kan maak. Delila het daarin geslaag om die geheim van sy geweldige krag by Simson te ontlok deur hom herhaaldelik daaroor uit te vra. Die eerste keer antwoord hy: "As hulle my met sewe klam boogsnare vasmaak, sal ek net so magteloos wees soos enige ander mens."[5] Delila probeer dit, waarskynlik terwyl Simson slaap, maar die boogsnare breek asof dit toutjies is.
Delila vra hom opnuut na sy geheim. Hierdie keer antwoord Simson: "As ek behoorlik vasgebind word met nuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees."[6] Maar Simson laat die toue soos draadjies van sy arms breek.
Delila het vir Simson gesê: "Hoe lank gaan jy nog 'n gek van my maak en vir my leuens vertel? Sê my tog waarmee kan jy vasgebind word." Hy sê toe vir haar: "Jy moet net my sewe haarlokke in jou materiaal op die weefstoel vasweef."[7] Maar hy trek daarna maklik sy hare uit die materiaal.
"So het sy dae lank by hom bly neul en hom lastig geval. Hy het so ongeduldig geraak dat hy kon sterf. Toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Hy het vir haar gesê: 'My hare is nooit geskeer nie, want ek is van my geboorte af aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn en ek sal magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees."[8] "Delila het besef dat hy haar hierdie keer sy lewensgeheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat roep: 'Kom hierdie keer! Hy het my sy lewensgeheim vertel.' Hulle het toe na haar toe gekom en die geld saamgebring. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep, en sy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. [9] "So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn. Toe sy sê: 'Die Filistyne is hier, Simson!' het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk. Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie. Die Filistyne het hom gegryp en sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met 'n dubbele bronsketting geboei." [10]
Volgens Flavius Josephus word Simson se verhouding met Delila voorafgegaan deur 'n noodlottige gedagteverandering van die hoofpersoon. Aan die een kant verontskuldig hy Simson se algemene menslike swakheid, maar aan die ander kant was Simson volgens Josephus goed bewus daarvan dat hy afwyk van die pad van sy vader, en maak hy daarmee 'n bewustelike keuse om met Delila in gesprek te tree. Delila self word prontuit deur Flavius 'n "hoer" genoem. Simson woon saam met haar buite die eg: dit was die begin van sy noodlottige einde.[11]