From Wikipedia (Af) - Reading time: 26 min
| Donald Trump | |
|---|---|
| 45ste en 47ste President van die Verenigde State | |
| Ampstermyn | 20 Januarie 2017 – 20 Januarie 2021 20 Januarie 2025 – |
| Voorganger | Barack Obama (2017) Joe Biden (2025) |
| Opvolger | Joe Biden (2021) |
| Geboorteplek | Jamaica, Queens, New York |
| Sterftedatum | |
| Sterfteplek | |
| Eerste Dame | Melania Trump (née Knauss) |
| Politieke party | Republikein (2012–hede; 2009–11; 1987–99)[1] |
| Visepresident | Mike Pence (2017–2021) James David Vance (2025–2029) |
| Handtekening | |
Donald Trump | |
|---|---|
| Gebore | Donald John Trump |
| Nasionaliteit | |
| Beroep | Voorsitter en president van die Trump-organisasie Voorsitter van Trump Plaza Associates, LLC Voorsitter van Trump Atlantic City Associates Gasheer van The Apprentice (2004–15) |
| Politieke party | Republikein Vorige affiliasies: Onafhanklik (2011–12)[1] Demokrate (2001–09;[1] 1987[2]) Reformiste (1999–2001)[1] |
| Eggenoot | Ivana Zelníčková (1977–91) Marla Maples (1993–99) Melania Knauss (2005–hede) |
| Kinders | 5: Donald jr., Ivanka, Eric, Tiffany, Barron |
| Ouer(s) | Fred Trump Mary Anne MacLeod Trump |
| Webwerf | donaldjtrump.com |
Donald John Trump (gebore 14 Junie 1946 in Jamaica, Queens, New York) is ’n Amerikaanse sakemagnaat wat van 2025 tot 2029 as die 47ste Amerikaanse president dien. Van 2017 tot 2021 was hy ook die 45ste Amerikaanse president.
Trump het in 1968 met 'n baccalaureusgraad in ekonomie aan die Universiteit van Pennsilvanië gegradueer. Hy het in 1971 president van die Trump-familie se eiendomsbesigheid geword en op luukse verblyf gefokus. Na 'n reeks besigheidsbankrotskappe in die 1990's het hy verskeie newe-ondernemings van stapel gestuur. Van 2004 tot 2015 was hy gasheer en medevervaardiger van die werklikheidstelevisiereeks The Apprentice.
Hy was die Republikeinse Party se kandidaat in 2016 en het sy Demokratiese teenstander Hillary Clinton op 8 November 2016 in die Amerikaanse presidentsverkiesing verslaan, hoewel hy minder stemme as sy op hom verenig het. Hy is op 20 Januarie 2017 as die 45ste president beëdig. Op 20 Januarie 2021 is hy deur die Demokraat Joe Biden opgevolg, wat hom in die Amerikaanse presidentsverkiesing 2020 verslaan het.
Trump het die verkiesing in November 2024 gewen met 312 verkiesingstemme teenoor die voormalige visepresident Kamala Harris se 226,[3] en daardeur was hy die tweede president in die geskiedenis van die VSA (na Grover Cleveland in 1892) om vir 'n nieopeenvolgende tweede termyn verkies te word.[4] Hy het ook die gewilde stem gewen met 'n pluraliteit van 49,8% teenoor Harris se 48,3%.[5]
Op 70 jaar was Trump in 2016 die oudste en welvarendste persoon wat ooit die amp van president van die VSA beklee het, asook die eerste sonder enige voorafgaande militêre of politieke loopbaan en die vyfde wat op nasionale vlak geen meerderheid van die uitgebragte stemme op hom verenig het nie. Trump is ook ’n belegger, skrywer en TV-persoonlikheid. In 1971 het hy die voorsitter van die eiendomsgroep geword wat in besit van sy familie is, en dit hernoem tot The Trump Organization. Hy het die onderneming vervolgens uitgebrei om die bou en opknapping van wolkekrabbers, hotelle, kasinos en gholfbane in te sluit. Die onderneming Trump Entertainment Resorts is deur hom gestig en beheer.
Donald Trump se voorouers aan vaderskant is afkomstig uit die Duitse nedersetting Kallstadt in die Palts-streek, en van die Buite-Hebride in Skotland aan moederskant. Sy grootouers en sy moeder is almal in Europa gebore. Trump is op 14 Junie 1946 in Jamaica, Queens, 'n woonbuurt in New York gebore. Hy is die vierde van vyf kinders van Frederick Christ "Fred" Trump (1905–1999) en Mary Anne Trump (née MacLeod, 1912–2000). Trump het twee susters, Maryanne en Elizabeth, en twee broers, Fred Jr., en Robert. Trump se ouer broer, Fred Jr., het in 1981 weens alkoholisme gesterf. Trump het al aangedui dat sy broer se dood aanleiding gegee het tot sy besluit om homself te weerhou van enige alkoholiese drank en sigarette. Robert Trump is in Augustus 2020 oorlede.
Een van Trump se verkiesingsbeloftes was om 'n muur teen die Meksikaanse grens op te rig, en Republikeine het oorweeg om aksyns van tot 20% op Meksikaanse invoere te hef wat effektief vir die muur sou betaal. Meksiko is byvoorbeeld die grootste verskaffer van vars groente aan die VSA, en het in 2016 groente ter waarde van $5,6 miljard na die VSA uitgevoer.[6] Teen die einde van Trump se termyn het betonmure of metaalheinings oor 'n afstand van 423 myl gestrek, waarvan sekere dele opknappings van bestaande mure was.
Die prioriteite van Donald Trump se buitelandse en veiligheidsbeleid het hul uiting gevind in die leuse America first – 'n merkbare koersverandering en breuk met Washington se politieke tradisies. Met hierdie nuwe doktrine het Trump beoog om groter speelruimte in sy buitelandse beleid te laat vir nasionale belange van die Verenigde State waar dit eensydig afdwingbaar was. Sy administrasie het gevolglik daarna gestrewe om verpligtinge, wat die VSA ingevolge internasionale ooreenkomste aangegaan het, te verminder en die land se militêre slaankrag te vergroot.[7] Die klem is dadelik geplaas op bestryding van gewelddadige ekstremisme en die herposisionering vir grootmoondheidskompetisie met China en Rusland.[8]
President Trump het 'n beleid in werking gestel wat beoog het om China se toenemende geopolitiese invloed hok te slaan. Spesifiek is daar opgetree teen China se ongunstige handelspraktyke en hul strewe na politieke, ekonomiese en tegnologiese dominansie deur finansiering van groot projekte in ontwikkelende lande. Daar is gevrees dat bates en natuurlike hulpbronne van arm lande in Chinese hande sal val wanneer hierdie lande nie hul Chinese leningsverpligtinge kan nakom nie. China se strategiese belange in Afrika het reeds veral olie, gas, steenkool en metale ingesluit, wat vir hul konstruksie- en vervaardigingsektore benodig is, terwyl Afrika lenings vir infrastruktuurprojekte benodig het. Zambië, Angola, die DRK, Mosambiek, Ethiopië, Soedan, Kenia en Djiboeti het onder die lande getel wat teen 2018 reeds van hul bates aan Chinese beheer moes afstaan.[9]
Daar is perke gestel op Chinese beleggings in die VSA wat kon meebring dat Amerikaanse tegnologie en handelsgeheime in Chinese hande val, en die uitvoer van siviele kerntegnologie na China is in 2018 aan streng beperkings onderwerp. Doeane-aksyns (Eng: tariffs) van $250 miljard is op Chinese goedere geplaas ten einde handelspraktyke te kortwiek wat Amerikaanse maatskappye benadeel het.[10]
In sy verkiesingsveldtog het Trump sterk kritiek uitgespreek oor Amerika se buitelandse hulp tydens sy voorgangers se termyne. 'n Afskaling van buitelandse hulp sou egter in China se hande speel wat beplan het om $1 miljard se konstruksiehulp aan 100 lande beskikbaar te stel. Gevolglik is Trump se beleid in Oktober 2018 aangepas om buitelandse hulpprogramme vir infrastruktuur in Afrika, Asië en die Amerikas te bevorder. Dié hulpprogramme het $60 miljard se lenings, leningswaarborge en versekering teen politieke risiko's vir maatskappye behels wat in ontwikkelende lande sake wou doen. Die hoop is uitgespreek dat die nuwe stelsel beleggings volgens maksimum ekonomiese en politieke effek sou toeken, en gelykertyd die korrupsie en wanbestuur sou systap waardeur China se beleggings in Maleisië en elders gekenmerk is.[10]
Weens Trump se kenmerkende America first-benadering was belangrike beleidsaanpassings jeens Afrika te wagte. Desondanks is Amerika se voorafgaande betrokkenheid by Afrika grootliks uit sy eie oorwegings en die kongres se invloed gehandhaaf. Sy grondige skeptisisme oor buitelandse betrokkenheid, en veral in armer ontwikkelende lande, het wel hand aan hand gegaan met 'n afskaling van dié internasionale handelsooreenkomste wat as onbillik teenoor die Verenigde State beskou is. Amerikaanse steun vir internasionale hulporganisasies waarvan Afrika afhanklik is, het onder die loep gekom, en Amerika se beperkte militêre teenwoordigheid in Afrika is ingekort van 7 200 ontplooide personeel in 2018, tot 7 000 in 2019 en 6 000 in 2020. Ten spyte van die besnoeiing van AFRICOM-magte, is beplan om tussen 2021 en 2025 meer as $330 miljoen te spandeer om 27 basisse op die vasteland te versterk en uit te brei.[8]
Trump het min aptyt vir betrokkenheid by Afrika se interne beleidskwessies getoon. Tydens sy eerste termyn het hy dan nie soos sy twee voorgangers na die vasteland gereis nie, en Afrika se publieke gesondheid of die integriteit van hul verkiesings het geen hernieude aandag geniet nie. Rex Tillerson, sy minister van buitelandse sake, het ontslae geraak van sy departement se kenners rakende Afrika-aangeleenthede, en sy opvolger Mike Pompeo het hierdie kundigheid eweneens nie herstel nie. Trump het Afrika-staatshoofde op die periferie van die VN se Algemene Vergadering ontmoet en enkele Afrika-leiers is in die Withuis ontvang. Diplomasie is gefokus op handel, belegging en hulp, benewens die finansiering van groot hulp- en beleggingsinisiatiewe, en die vestiging van nuwe ondernemings.[8]
In weerwil van Trump se begrotingsvoorstelle wat buitelandse hulp sou inkort, het die Republikeins-beheerde kongres duur humanitêre programme voortgesit, insluitend die president se noodplan vir vigsverligting (PEPFAR). Die staatsdepartement en Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) se hulp aan Afrika-lande het $7,1 miljard in die 2019-boekjaar beloop, wat met besteding deur die regering van president Barack Obama gestrook het. Een sg. onregverdige handelsooreenkoms, die African Growth and Opportunity Act, waarvolgens Afrika-produkte suid van die Sahara sonder aksyns na die VSA uitgevoer word, is ongeskonde behou. Trump het ook sy eie handels- en beleggingsinisiatief, Prosper Africa, van stapel gestuur vir fasilitering van private Amerikaanse beleggings in Afrika. Die by-Trump ongewilde Overseas Private Investment Corporation wat finansierings- en beleggingsversekering aan Afrikalande verskaf het, is saam met USAID se ontwikkelingskredietowerheid omskep in die U.S. International Development Finance Corporation wat grootliks op Afrika gefokus is.[8]
In die verkiesing van 2020 het 159 633 396 Amerikaners gestem, die grootste aantal tot nog toe, waarvan Biden en Harris 51,3% op hul verenig het, en Trump en Pence, 46,8%. Trump was van mening dat grootskaalse verkiesingsbedrog die skaal in Biden se guns geswaai het, en het etlike geregtelike aksies geloods om sekere bepalende uitslae ongeldig te verklaar. Die deelstaat Texas het ook 'n aksie geloods maar was ewe onsuksesvol in die hof. Uiteindelik het Trump, sy regsverteenwoordiger Rudy Giuliani en ander Republikeine vurige toesprake voor die Kapitoolgebou gehou. 'n Groot aantal aggressiewe optoggangers het die Kapitool bestorm en binnegedring. Hiervoor het die senaat gepoog om Trump nogmaals in 'n staat van beskuldiging te plaas, maar kon nie die nodige tweederde meerderheid verkry om hom aan te kla nie.[11]
Sedert hy sy eerste presidentskap verlaat het, was Trump die onderwerp van verskeie ondersoeke na sowel sy saketransaksies as sy optrede tydens die presidentskap. In Februarie 2021 het die distriksprokureur vir Fulton County, Georgia, 'n kriminele ondersoek na Trump se telefoonoproepe aan die Georgia-sekretaris van buitelandse sake, Brad Raffensperger, aangekondig. Afsonderlik het die New Yorkse Staatsprokureur-generaal se kantoor siviele en kriminele ondersoeke gelas na Trump se sakebedrywighede, die ondersoek was in samewerking met die Manhattan-distriksprokureur se kantoor. Teen Mei 2021 het 'n spesiale jurie aanklagte teen Trump oorweeg. In Julie 2021 het die aanklaers van New York die Trump-organisasie aangekla van 'n "15 jaar skema om die regering te bedrieg".
In Desember 2021 het die New York Staatsprokureur-generaal se kantoor Trump gedagvaar om sekere dokumente voor te lê. Op 25 April 2022 het regter Arthur Engoron in die staat New York Trump weens minagting van die hof aangekla omdat hy nie aan die dagvaarding voldoen het nie.
Toe hy die Withuis verlaat het, het Trump etlike bokse dokumente saamgeneem na sy woning by Mar-a-Lago in Florida. Die Amerikaanse Nasionale Argief- en Rekordadministrasie het probeer om die dokumente in die hande te kry, soos vereis deur die Presidensiële Rekordswet, en het 15 bokse in Februarie 2022 ontvang. Hulle het later die Departement van Justisie ingelig dat sommige van die materiaal as geklassifiseerde nasionale veiligheidsinligting gemerk is.
In Junie 2022 het die departement van justisie 'n jurie-dagvaarding aan Trump gestuur, waarin enige bykomende dokumente wat geklassifiseer is, aangevra is.
Op 8 Augustus 2022 het FBI-agente met 'n lasbrief Trump se woning by Mar-a-Lago deursoek as deel van 'n ondersoek na die moontlike wanhantering van dokumente en materiaal wat na die Argief gestuur moes gewees het. Hulle was op soek na geklassifiseerde items en dokumente, insluitend dié wat met kernwapens verband hou. Die Geheime Diens het "toegang vergemaklik" vir die FBI, en Trump se prokureur was teenwoordig. Op 12 Augustus 2022 is die teks van die deursoeklasbrief aan die publiek vrygestel, met verwysing na die ondersoek van drie moontlike misdade: oortreding van die Spioenasiewet, dwarsboming van die gereg en die verwydering of vernietiging van staatsrekords. Die lys van dokumente en ander materiaal wat deur die FBI gekonfiskeer is, is ook vrygestel; dit het 11 stelle geklassifiseerde dokumente gelys, insluitend vier wat as "hoogsgeheim" gemerk was.[12][13][14]
In Maart 2023 is Trump deur 'n groot jurie van Manhattan aangekla op 34 aanklagte van bedrog. Dit maak hom die eerste voormalige Amerikaanse president wat kriminele aanklagte in die gesig staar. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.[15]
Op 15 November 2022 het Trump sy kandidatuur vir die 2024 Amerikaanse presidentsverkiesing aangekondig en 'n geldinsamelingsrekening geopen.[16][17] Hiermee word hy die vermoedelike genomineerde vir die Republikeinse Party.[18] In Maart 2023 het die veldtog begin om 10 persent van die skenkings na Trump se leierskap-komitee (PAC) te herlei. Trump se veldtog het teen Maart 2024 V$100 miljoen aan rekeninge vir sy regskostes betaal.[19][20]
In Desember 2023 het die hooggeregshof in Colorado beslis dat Trump gediskwalifiseer is vir die Republikeinse voorverkiesing in Colorado vir sy rol in die aanhitsing van die aanval op 6 Januarie 2021 op die Kongres. In Maart 2024 het die Amerikaanse Hooggeregshof sy naam in 'n eenparige besluit op die stembrief herstel, wat beslis het dat Colorado nie die gesag het om Artikel 3 van die 14de Wysiging toe te pas nie, wat opstandelinge verbied om 'n federale amp te beklee.[21]
Op 5 November 2024 is hy herkies as die 47ste president van die Verenigde State toe hy Kamala Harris na maandelange veldtogte en stemwerwery in die presidensiële verkiesing verslaan het.

Trump is in die oor beseer in 'n sluipmoordpoging tydens 'n veldtogsaamtrek op 13 Julie 2024 in Butler, Pennsilvanië.[22][23] Ná die skietery het Trump sy vuis in die lug gebal toe hy deur die Geheime Diens weggelei is. Hy het later mediese sorg by 'n plaaslike mediese fasiliteit ontvang, waar daar aangekondig is dat dit goed gaan met hom. ’n Saamtrekganger is deur geweervuur getref en gedood, en twee ander is in ’n ernstige toestand gelaat.[24][25] Die oortreder is ook op die toneel deur die Geheime Diens doodgeskiet.[26][27] Amptenare het aangekondig dat die skietery as 'n poging tot sluipmoord ondersoek word.[28][29][30] Die FBI het die 20-jarige Thomas Matthew Crooks van Bethel Park, Pennsilvanië, geïdentifiseer as die skieter in die sluipmoordpoging.[31][32]

Trump het sy tweede termyn met sy inhuldiging op 20 Januarie 2025 begin.[33] Hy het die oudste individu geword om die presidentskap te aanvaar[34] en die eerste president met 'n skuldigbevinding aan misdryf.[35]
Met sy ampsaanvaarding het Trump 'n reeks uitvoerende bevele onderteken wat die grense van uitvoerende gesag getoets het. Baie het onmiddellike regsuitdagings gekry.[36] Hy het op sy eerste dag meer uitvoerende bevele uitgereik as enige ander president.[37] Vier dae na sy tweede termyn, het ontleding wat deur Time gedoen is, bevind dat byna twee derdes van sy uitvoerende optrede "weerspieël of is gedeeltelik" voorstelle van Projek 2025.[38] Hy het ongeveer 1 500 oproeriges op 6 Januarie begenadig, insluitend diegene wat die polisie gewelddadig aangeval het, en die vonnisse van 14 versag.[39] In sy eerste weke het verskeie van sy optrede federale wette, regulasies en die Grondwet geïgnoreer of oortree, volgens die opinie van Amerikaanse regsgeleerdes.[40][41][42] In sy administrasie se eerste maand het Trump negentig uitvoerende bevele, memorandums en opdragte uitgereik,[43] en sy bevele en die pogings om die federale regering te verklein, is reeds deur ongeveer sewentig regsgedinge landwyd uitgedaag.[44]
Trump het 'n aanstellingsbevriesing regoor die federale regering geïmplementeer en beveel dat telewerk van federale werknemers binne 30 dae gestaak moet word.[45][46] Hy het 'n hersiening van baie loopbaanstaatsdiensposte beveel met die doel om hulle te herklassifiseer in na-wil-poste sonder werkbeskerming.[46][47][48] Hy het massabeëindigings van federale werknemers geïnisieer,[49] wat deur regskenners beskryf is as ongekend of in stryd met federale wetgewing,[50] met die doel om hulle te vervang met werkers wat meer in lyn is met sy agenda.[51] Teen einde Februarie het die administrasie meer as 30 000 mense afgedank.[52] Hy het 'n einde aan diversiteit, gelykheid en insluiting (DEI)-projekte in die federale regering gemaak en werknemers in DEI-kantore op verlof geplaas. Hy het Uitvoerende Bevel 11246, wat regstellende aksie en niediskriminasiepraktyke vir federale kontrakteurs verskans het, herroep.[53][54]
Trump en Elon Musk probeer om die grootste deel van USAID af te breek.[55] Nadat 'n beperkingsbevel einde Februarie verval het, het Trump 2 000 werknemers op administratiewe verlof geplaas.[56]
Trump het olie-, gas- en chemiese aktiviste by die EPA aangestel om klimaatregulasies en besoedelingsbeheer om te keer.[57] Hy het 'n nasionale energienoodgeval verklaar, wat die opskorting van omgewingsregulasies toelaat, die reëls vir fossielbrandstofontginning verslap en hernubare energieprojekte beperk.[58][59] Hy het 'n hersiening van die "wettigheid en voortgesette toepaslikheid" van die EPA-bedreigingsbevinding geïnisieer, wat die basis is van die meeste federale regulasies oor kweekhuisgasse,[60] en het weer die VSA aan die Parys-ooreenkoms oor klimaatsverandering onttrek.[61]
Trump het dikwels diversiteit, gelykheid en insluiting en wakkerheid geblameer vir probleme in die regering en die samelewing, en het diversiteit gelyk gestel aan onbevoegdheid.[62] Hy het pro-diversiteitsbeleid in die federale regering herroep en omgekeer.[63][64] Sy administrasie het 'n aggressiewe benadering gevolg teen wat dit "geslagsideologie" genoem het, wat die vermoë beëindig het om die geslag wat op paspoorte gelys word te verander, federale befondsing gestaak het aan entiteite wat geslagsbevestigende sorg aan mense onder 19 verskaf, transgender-mense uit die weermag verbied het, en transgender-vroue verhoed om mee te ding in vrouesportprogramme by instellings wat federale fondse ontvang.[65][66]
In sy eerste dae in sy amp het Trump grenspatrollie-agente opdrag gegee om migrante wat die grens oorsteek summier te deporteer, die CBP One-toepassing wat gebruik is om grensoorgange te skeduleer, gedeaktiveer, die oorblyfsels in Meksiko-beleid hervat, dwelmkartelle as terreurgroepe aangewys, en beveel dat bouwerk aan 'n grensmuur hervat moet word.[67][68]
Teen Maart 2025 het die aantal migrante wat deur CBP by die grens aangekeer is, tot die laagste vlak in 15 jaar gedaal, en Meksikaanse owerhede het eweneens 'n 90%-afname in migrante by die grens aangeteken.[69] Trump het probeer om massadeportasies te implementeer, met "Immigration and Customs Enforcement" (ICE) wat 'n doelwit van 1 200 tot 1 500 daaglikse arrestasies gestel het. Die werklike aantal arrestasies het egter agtergebly by hierdie doelwitte en die koerse van arrestasies onder die Obama- en Biden-administrasies.[70][71][72] Trump het aanvanklik deportasie-operasies in heiligdomstede en teen individue gefokus op "teikenlyste" van misdadigers wat voor die Trump-administrasie gevorm is. Verwydering is ook bespoedig vir asielaansoekers wat nie aan vereistes voldoen het nie.[73][74][75] Trump het die paroolstatus van migrante wat die VSA binnegekom het onder CBP One en CHNV humanitêre parool herroep.[68][75] Hy het gepoog om geboorteregburgerskap te verwyder en die vlugtelingtoelatingsprogram op te skort.[76][77] Op 29 Januarie 2025 het hy die Laken Riley-wet onderteken.[78]
Trump het die VSA se buitelandse beleid wesenlik verander.[79] Sy tweede termyn se buitelandse beleid is beskryf as imperialisties en ekspansionisties,[80][81] en die voortsetting van 'n isolasionistiese "America First" buitelandse beleidsagenda.[82] Sy verhoudings met bondgenote was transaksioneel en het gewissel van onverskilligheid tot vyandigheid, insluitend dreigemente van anneksasie van soewereine state.[83][84] Hy het die Amerikaanse regering beveel om befondsing aan die WGO te staak, op te hou om met hul saam te werk en het die VSA se voorneme aangekondig om die WGO formeel te verlaat.[85][86][87]Trump het omvangryke tariewe op sy grootste handelsvennote ingestel, insluitend China, Kanada en Meksiko.[88]
Hy en sy inkomende administrasie het aansienlik gehelp om 'n wapenstilstand tussen Israel en Hamas saam met die Biden-administrasie te bewerkstellig, wat 'n dag voor sy inhuldiging in werking gestel is.[89][90] Hy het toegewings aan Rusland gemaak[91] en is beskryf as aan Rusland se kant in die Russiese inval in die Oekraïne.[83][84][92] Trump het in Februarie 2025 'n hoogs omstrede vergadering met Zelenskyy gehou waar hy hom mondelings besweer het, wat die eerste keer in die Amerikaanse geskiedenis was dat 'n sittende president 'n besoekende staatshoof verbaal aanval tydens 'n besoek.[93][94]
Op 6 Februarie 2025 het Marco Rubio, minister van buitelandse sake, aangekondig dat hy nie die G20 buitelandse ministers-beraad in Johannesburg sal bywoon nie, met verwysing na Suid-Afrika se "omstrede wet op grondonteiening" as een van sy redes.[95]
Die volgende dag het president Trump 'n Uitvoerende Bevel uitgereik om enige hulp of bystand aan Suid-Afrika op te skort, met verwysing na Suid-Afrika se onteieningswet wat na bewering teen Afrikaners gediskrimineer het. [96] In reaksie hierop het Chrispin Phiri, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, die besluit veroordeel en gesê dit is onsensitief teenoor Suid-Afrika se historiese ervaring met kolonialisme en Apartheid en het bygevoeg dat dit op verkeerde inligting en propaganda gegrond is."[97] Tydens sy jaarlikse staatsrede het Suid-Afrikaanse president Cyril Ramaphosa] "vroeg in Februarie 2010 in Suid-Afrika nie geïntimideer of rondgestoot gaan word nie."[98] In 2025 het Reuters berig dat Errol Musk 'n telefoonoproep tussen Ramaphosa en Trump-bondgenoot Elon Musk gereël het in reaksie op die opskorting van Amerikaanse hulp aan Suid-Afrika.[99]
Vroeg in Maart 2025 het Ramaphosa 'n verklaring uitgereik waarin hy "teenproduktiewe megafoondiplomasie" verwerp het nadat Trump 'n plasing op sosiale media gepubliseer het waarin hy sy vroeëre bewering herhaal dat Suid-Afrika grond van boere konfiskeer.[100]
Op 14 Maart 2025 het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Marco Rubio, Suid-Afrikaanse ambassadeur Ebrahim Rasool persona non grata verklaar vir sy kritiek op Donald Trump se presidensiële veldtog in 2024.[101] en sy beleide.[102]
Op 12 Mei 2025 het die Trump-administrasie die eerste groep Wit Suid-Afrikaners na die Verenigde State gebring deur middel van sy vlugtelingprogram.[103] Suid-Afrika se ministerie van buitelandse sake het die stap "polities gemotiveerd" genoem.[104] Die Episkopale Kerk van die VSA het gereageer deur hul vennootskap met die federale regering te beëindig, aangesien hulle moreel gekant was teen die hervestiging van die wit Afrikaners.[105]
In sy tweede termyn het president Trump kabinetslede gekies met persoonlike lojaliteit aan hom, en baie aangesteldes het nie die relevante ondervinding vir hul portefeuljes nie.[106][107] Op 3 Februarie 2025 het die Withuis gesê dat Elon Musk 'n spesiale staatswerknemer is.[108] Trump het aan Musk se departement van regeringsdoeltreffendheid (DOGE), amptelik die US DOGE Service Temporary Organisation,[108][109] toegang tot baie federale regeringsagentskappe gegee. Musk se spanne het in die administrasie se eerste maand in agtien departemente en agentskappe gewerk,[110] insluitend in die Tesourie-departement se $5 triljoen-betalingstelsel,[111] die kleinsake-administrasie, die kantoor van personeelbestuur en die algemene dienste-administrasie.[112]
Sien hoofartikel: Heffings tydens die tweede Trump-administrasie
In die Withuis Roostuin-toespraak op 2 April 2025 het Trump verklaar dat 2 April "Bevrydingsdag" was, en die aankondiging beskryf as "een van die belangrikste dae in die Amerikaanse geskiedenis" en "ons verklaring van ekonomiese onafhanklikheid." Die president het 'n tweevlak-heffingstruktuur onthul: 'n basislynheffing van 10% wat universeel toegepas word op invoer uit alle lande met die uitsondering van Kanada en Mexiko, en bykomende landspesifieke "wederkerige" heffings gebaseer op wat die administrasie as onbillike handelspraktyke deur ongeveer 60 individuele nasies beskou het.[113][114] Die 10%-basislyntarief het om 12:01 vm. EST op 5 April 2025 (04:01 UTC) begin, terwyl die hoër landspesifieke heffings om 12:01 vm. EST op 9 April 2025 sal begin.[114]
Hy het op Dag 1 meer uitvoerende bevele uitgereik as enige vorige president
{{cite news}}: Text "ABC News]]" ignored (hulp)
{{cite news}}: Gaan datum na in: |access-date= (hulp)
{{cite news}}: Gaan datum na in: |access-date= (hulp)
{{cite web}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
Mr. Trump has rebuffed NATO and aligned himself with the longstanding, principal threat to the alliance: Russia.
But it underscores Mr. Trump's impulse to squeeze even America's traditional allies as he applies his transactional approach to foreign policy.
Dit sal moeilik wees om te dink aan 'n sterker demonstrasie van hoe radikaal mnr. Trump besig is om Amerika se plek in die wêreld te herkalibreer na skaars 'n maand terug in die amp. Hy posisioneer die Verenigde State in die kamp van die wêreld se vernaamste skelm state in opposisie met die lande wat Amerika se beste vriende sedert die Tweede Wêreldoorlog of voorheen was.