Ford Madox Ford | |
---|---|
ongeveer 1905 foto | |
Gebore | Joseph Leopold Ford Hermann Madox Hueffer 17 Desember 1873 Merton, Londen, Surrey, Engeland |
Sterf | 26 Junie 1939 (op 65) Deauville, Frankryk |
Beroep | Romansier, uitgewer |
Eggenoot | Elsie Martindale Hueffer |
Kinders | 3 |
Ford Madox Ford (gebore as Joseph Leopold Ford Hermann Madox Hueffer /ˈhɛfər/);[1] 17 Desember 1873 – 26 Junie 1939) was 'n Engelse romansier, digter, kritikus en redakteur. Sy joernaaltydskrifte, The English Review en The Transatlantic Review, was van groot belang vir die ontwikkeling van die vroeë 20ste eeuse Engelse- en Amerikaanse letterkunde.
Ford word veral onthou om sy romans The Good Soldier (1915), die Parade's End tetralogie (1924–1928) en The Fifth Queen trilogie (1906–1908). The Good Soldier word dikwels ingesluit as deel van die grootste letterkundige werke van die 20ste eeu.
Ford is gebore in Wimbledon, Londen[2] as die seun van Catherine Madox Brown en Francis Hueffer. Hy was die oudste van drie kinders. Sy broer was Oliver Madox Hueffer en sy suster Juliet Hueffer, die vrou van David Soskice en moeder van Frank Soskice. Ford se vader, wat musiekresensent vir The Times geword het, was Duits en sy moeder Engels. Sy oupa aan vaderskant, Johann Hermann Hüffer, was die eerste uitgewer om die werk van die Wesfaalse digteres en skryfster Annette von Droste-Hülshoff te publiseer. Hy is vernoem na sy oupa aan moederskant, die Pre-Rafaëlitiese skilder Ford Madox Brown, wie se biografie hy uiteindelik sou skryf. Sy moeder se ouer halfsuster was Lucy Madox Brown, die vrou van William Michael Rossetti, en die moeder van Olivia Rossetti Agresti.
In 1889, ná die dood van hul vader, het Ford en Oliver by hul grootvader in Londen gaan woon. Ford het University College School in Londen bygewoon, maar nooit universiteit toe gegaan nie.[3] In November 1892 het hy op 18-jarige leeftyd 'n Katoliek geword, "very much at the encouragement of some Hueffer relatives, but partly (het hy gebieg) galled by the 'militant atheism and anarchism' of his English cousins."[4]
In 1894 het Ford saam met sy skoolvriendin, Elsie Martindale weggeloop. Die paartjie is in Gloucester getroud en het na Bonnington verhuis. In 1901 het hulle na Winchelsea verhuis.[3] Hulle het twee dogters gehad, Christina (gebore 1897) en Katharine (gebore 1900).[5]Ford se bure in Winchelsea het die skrywers Joseph Conrad, Stephen Crane, W.H. Hudson, Henry James, in nabygeleë Rye, en H.G. Wells ingesluit.[3]
In 1904 het Ford 'n agorafobiese ineenstorting gehad as gevolg van finansiële- en huweliksprobleme. Hy het na Duitsland gereis om tyd saam met familie daar deur te bring en behandeling te ondergaan.[3]
In 1909 het Ford sy vrou verlaat en saam met die Engelse skryfster Isobel Violet Hunt begin woon, saam met wie hy die literêre tydskrif The English Review gepubliseer het. Ford se vrou het geweier om van hom te skei en hy het probeer om 'n Duitse burger te word om 'n egskeiding in Duitsland te verkry. Dit was onsuksesvol. 'n Verwysing in 'n geïllustreerde artikel na Violet Hunt as "Mev. Ford Madox Hueffer" het aanleiding gegee tot 'n suksesvolle lasteraksie wat in 1913 deur Mev. Elsie Hueffer gebring is. Ford se verhouding met Hunt het nie die Eerste Wêreldoorlog oorleef nie.[6]
Ford het die naam Ford Madox Hueffer gebruik, maar dit in 1919 na die Eerste Wêreldoorlog verander, deels om die bepalings van 'n klein nalatenskap na te kom[7], deels "because a Teutonic name is in these days disagreeable", en moontlik om verdere regsgedinge van Elsie te vermy indien daar na sy nuwe metgesel, Stella, as "Mev. Hueffer" verwys word.[8]Tussen 1918 en 1927 het hy saam met Stella Bowen, 'n Australiese kunstenares 20 jaar jonger as hy, gewoon. In 1920 het Ford en Bowen 'n dogter gehad, Julia Madox Ford.[9]
In die vroeë 1930's het Ford 'n verhouding aangegaan met Janice Biala, 'n Pools-gebore kunstenares van New York, wat verskeie van Ford se latere boeke geïllustreer het.[10] Hierdie verhouding het geduur tot die laat 1930's.
Ford het gedurende die laaste jare van sy lewe onderrig gegee aan Olivet College in Olivet, Michigan, VSA. Hy het in Junie 1939 in Honfleur, Frankryk, siek geword, en is kort daarna in Deauville op die ouderdom van 65 oorlede.
Een van Ford se bekendste werke is die roman The Good Soldier (1915). The Good Soldier, wat net voor die Eerste Wêreldoorlog afspeel, gaan oor die tragiese uitgewekene lewens van twee "perfekte paartjies", een Brits en een Amerikaans, met behulp van ingewikkelde terugflitse. In die "Dedicatory Letter to Stella Ford", wat die roman voorafgaan, berig Ford dat 'n vriend The Good Soldier aangewys het "die beste Franse roman in die Engelse taal!" Ford het homself as 'n "Tory wat besorg is oor historiese kontinuïteit" uitgespreek, en geglo dat dit die romanskrywer se funksie is om as die historikus van sy eie tyd te dien.[11] Hy het egter nie veel ooghare gehad vir die Konserwatiewe Party nie, en na dit verwys as "the Stupid Party."[12]
Ford was betrokke by Britse oorlogspropaganda na die begin van die Eerste Wêreldoorlog. Hy het gewerk vir die Buro vir Oorlogspropaganda, bestuur deur C. F. G. Masterman, saam met Arnold Bennett, G. K. Chesterton, John Galsworthy, Hilaire Belloc en Gilbert Murray. Ford het twee propagandaboeke vir Masterman geskryf; When Blood is their Argument: An Analysis of Prussian Culture (1915), met die hulp van Richard Aldington, en Between St Dennis and St George: A Sketch of Three Civilizations (1915).
Nadat hy die twee propagandaboeke geskryf het, het Ford op 41-jarige ouderdom op 30 Julie 1915 by die Welch Regiment van die Britse Leër aangesluit. Hy is na Frankryk gestuur. Ford se oorlogservaringe en sy vorige propaganda-aktiwiteite het sy tetralogie Parade's End (1924–1928) geïnspireer, wat in Engeland en aan die Westerse Front voor, tydens en na die Eerste Wêreldoorlog afspeel.
Ford het tientalle romans sowel as essays, poësie, memoires en literêre kritiek geskryf. Hy het saam met Joseph Conrad gewerk aan drie romans, The Inheritors (1901), Romance (1903) en The Nature of a Crime (1924, hoewel baie vroeër geskryf). Gedurende die drie tot vyf jaar na hierdie direkte samewerking was Ford se bekendste prestasie The Fifth Queen-trilogie (1906–1908), historiese romans gebaseer op die lewe van Catherine Howard, wat Conrad destyds "die swanesang van die historiese roman" genoem het.[13] T.S. Eliot was vol lof vir Ford se gedig Antwerp (1915). Eliot het dit bestempel as "the only good poem I have met with on the subject of the war".[14]
Ford se roman Ladies Whose Bright Eyes (1911, uitgebreid hersien in 1935)[15] is 'n "tydsreis" roman; soortgelyk aan Twain se klassieke teks A Connecticut Yankee in King Arthur's Court, met die verskil dat dit die moeilikhede dramatiseer en beklemtoon, en nie die belonings met betrekking tot sulke tipe omstandighede nie.
Toe die Spaanse Burgeroorlog uitbreek het Ford hom aan die kant van die linkse Republikeinse faksie geskaar: "I am unhesitatingly for the existing Spanish Government and against Franco’s attempt—on every ground of feeling and reason...Mr Franco wishes to establish a government resting on the arms of Moors, Germans, Italians. Its success must be contrary to world conscience."[16]
Wikiquote het aanhalings in verband met Ford Madox Ford |
Wikisource bevat oorspronklike werke deur of oor Ford Madox Ford |