George Dantzig | |
George B. Dantzig ontvang die Nasionale Wetenskapsmedalje deur Gerald Ford in 1976
| |
Gebore | 8 November 1914 Portland, Oregon |
---|---|
Oorlede | 13 Mei 2005 (op 90) Stanford, Kalifornië |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Vakgebied | Wiskundige, operasionele navorsing, Rekenaarwetenskap, Ekonomie, Statistiek |
Instelling(s) | Amerikaanse Lugmag-Kantoor van Statistieke beheer RAND Korporasie Universiteit van Kalifornië, Berkeley Stanford-universiteit |
Alma mater | Baccalaureusgrade – Universiteit van Maryland Magistergraad – Universiteit van Michigan Doktor van die Filosofie – Universiteit van Kalifornië, Berkeley |
Doktorale promotor(s) | Jerzy Neyman |
Doktorale student(e) | Robert Fourer Ellis L. Johnson Thomas Magnanti Roger J-B Wets Yinyu Ye |
Bekend vir | Lineêre programmering Simpleksalgoritme Dantzig-Wolfe ontbindingsbeginsel Veralgemeende lineêre programmering Veralgemeende boonste jaag Max-vloei min-cut stelling van netwerke Kwadratiese programmering Aanvullende spilpunt-algoritmes Lineêre aanvullende probleem Stogastiese programmering |
Beïnvloed deur | Wassily Leontief John von Neumann Marshal K. Wood |
Invloed op | Kenneth J. Arrow Robert Dorfman Leonid Hurwicz Tjalling C. Koopmans Thomas L. Saaty Paul Samuelson Philip Wolfe |
Toekennings | John von Neumann Teorieprys (1974) Nasionale medalje van Wetenskap in Wiskunde, Statistiek, en rekenaarwetenskappe (1975) Harvey-prys (1985) Harold Pender-toekenning (1995) |
George Dantzig was 'n Amerikaanse wiskundige en operasionele navorser. Gebore 8 November 1914 in Portland, Oregon, VSA, en oorlede op 13 Mei 2005 in Palo Alto, Kalifornië. Hy word as die "vader van lineêre programmering" beskou.
Dantzig het sy doktorsgraad in wiskunde van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, in 1946 ontvang. In dieselfde jaar is hy aangewys as wiskunde raadgewer vir die VSA-Lugmaghoofkwartier. Die deurbraak wat Dantzig beroemd gemaak het was sy ontdekking van die simpleksmetode vir lineêre programmering (LP).
Sy betrokkenheid by die Amerikaanse oorlogspoging in en na die Tweede Wêreldoorlog het hom in aanraking gebring met 'n aantal optimeringsprobleme wat dieselfde lineêre eienskappe gehad het. Sy deurbraak in die ontwikkeling van die simpleksmetode het hom gelei tot die sistematisering van die veld. Dantzig was dan ook die eerste persoon om die algemene lineêre programmeringsprobleem te formuleer (1947) en sy wiskundige eienskappe te ondersoek.
Die ontwikkeling van die simpleksmetode is opgevolg met 'n reeks algoritmiese verbeterings wat sinvolle probleme binne die (uiters beperkte) berekeningsvermoë van korporatiewe en akademiese gebruikers van die tyd gebring het. Dit was nou vir gebruikers moontlik om 'n verskeidenheid van probleme in LP-vorm te giet en meganisties op te los.
Dantzig kan met reg die vader van lineêre programmering genoem word.
Die ontstaan van lineêre programmering as studieveld het byna onmiddellik gelei tot die veralgemening wiskundige programmering wat 'n omvattender definisie is waarin lineêre programmering net een veld is. Wiskundige programmering is vandag nog een van die twee of drie belangrikste velde in operasionele navorsing.
Hy het die gebruik van lineêre programmering ywerig aangemoedig deur onder meer 'n handboek oor die onderwerp te skryf - "Linear Programming and Extensions". Dié werk het in 1963 as 'n navorsingstudie van die Rand Corporation verskyn en is uitgegee deur Princeton University Press. In die tweede hoofstuk noem Dantzig die ekonome en wiskundiges wat tot die veld bygedra het en hulle werk. 'n Klassifisering van velde binne die omvattende veld van wiskundige programmering word hier aangetref; waarskynlik die eerste. (Dit is waarskynlik die enigste hoofstuk wat vandag nog gelees sal word – maar deur geskiedskrywers.)
Dantzig het vir dekades lank voortgegaan om nuwe toepassings vir lineêre programmering te soek en die ontwikkeling van spesiale algoritmes (bv om groot probleme te hanteer) te ondersteun. Hy het ook jonger navorsers aangemoedig om op hierdie probleme te werk.
Onder die eerbetonings wat Dantzig te beurt geval het tel die Von Neumann-prys vir operasionele navorsing in 1975.