Gereformeerde Kerk Krugersdorp | ||
Sluit in | Featherbrooke Estate Kenmare Krugersdorp-Noord Krugersdorp-Sentraal Luipaardsvlei Monumentdorp Muldersdrift Noordheuwel Noordkruin Pinehaven Proteartif Rangeview Rant-en-Dal Siverfields Wentworth Park en talle aftreeoorde | |
Klassis | Groter Johannesburg | |
Huidige predikant(e) | Dr. Wim Vergeer Dr. De Wet Saaiman | |
Belydende lidmate | 527 | |
Dooplidmate | 101 | |
Adres | H.v. Premier- en 3 Beginstraat Krugersdorp-Noord | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 25 April 1896 | |
Afgestig van | Rustenburg | |
Eerste predikant | Postma, Martinus (1897–1904, 1909–1912) |
Die Gereformeerde kerk Krugersdorp is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) op die Wes-Randse dorp Krugersdorp en sedert 1986, toe dit 90 jaar oud was, die enigste van die twee gemeentes aan die Witwatersrand uit die 19de eeu wat steeds bestaan. Die Gereformeerde kerk Johannesburg is net ’n maand ná Krugersdorp gestig, op 23 Mei 1896, maar het ná ’n paar gedaantewisselings in 1986 ontbind. Een van die twee ander Gereformeerde kerke op die dorp, Krugersdorp-Oos, is by GK Krugersdorp ingelyf. Krugersdorp-Wes bestaan nog selfstandig.
Op die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk van die Zuid-Afrikaansche Republiek wat op 16 Maart 1896 en volgende dae op Heidelberg, Transvaal sitting geneem het, is daar toestemming verleen om twee gemeentes aan die Witwatersrand af te stig, naamlik dié van Krugersdorp en Johannesburg. Op 25 April 1896 is dan afgestig van Rustenburg die Gereformeerde gemeente Krugersdorp in teenwoordigheid van die volgende deputate: ds. Johannes de Ridder, ouderlinge. H.P. Steyn en A. Venter (Rustenburg), ds. J.L. Maury en ouderlinge. J.A. Bezuidenhout en G.A. van der Walt (Potchefstroom). Die gemeente is in twee wyke verdeel, naamlik Hekpoort en Hoogeveld, en dit het gestrek oor Krugersdorp tot by Die Moot na die noorde; oor Randfontein en omgewing weswaarts tot by Stenekoppies en Manhaarrand. In April van die volgende jaar het Rietfontein en omgewing ook bygekom.
Tot konsulent is gekies ds. P.S. Snyman van Heidelberg. Die lidmate van Krugersdorp het blykens die notule van hierdie gemeente eers sorteer onder die gemeente van Rustenburg, want hiervan is opgeteken: "In den loop van het jaar 1895 werd door byna al de manslidmaten van de wyk Hekpoort resorteerende onder de Gemeente Rustenburg, Z.A.R., een beleefd verzoekschrift ingediend om als zelfstandige Gemeente te Krugersdorp gesticht te worden. De Kerkraad van Rustenburg genoemd verzoekschrift al dadelyk in behandeling nemende, besloot te antwoorden, dat hy dat verzoekschrift naar de e.k. Algemene Vergadering zou zenden en krachtig zou ondersteunen het verzoek daarin gedaan. Den 16 Maart 1896 en volgende dagen zat de Algemene Vergadering te Heidelberg, Z.A.R. en daar werd besloten dat de wyk Hekpoort als gemeente te Krugersdorp zou gesticht worden."
Die aanvangsjare van die gemeente Krugersdorp word gekenmerk deur die ywer om grond vir die kerk in hande te kry, soos dit maar die geval is met elke pas gestigte gemeente. Nou was dit die gewoonte in die tyd van die Republiek dat die regering plase aan die kerke present gee. Oudl. S. Potgieter, wat hom besonder vir hierdie saak beywer het, ontvang dan ook opdrag van die kerkraad om grond vir die kerk aan te vra. Die Gemeente ontvang nou twee plase: Vrye Gunst in die Piet Retiefse en Nooitgedacht in die Rustenburgse distrik. In Oktober 1899 meld die notule dat die Gemeente ook nog erwe 15, 16, 17 en 136 van die Republikeinse regering ontvang het. In Mei 1904, agt jaar ná die stigting, het die gemeente 'n sierlike kerkgebou en pastorie in gebruik geneem. Dit het egter nie gebeur sonder baie worsteling op finansiële gebied nie. Dinge het op die Witwatersrand vinnig uitgebrei. Dit word baie duidelik weerspieël in die geskiedenisse van die verskillende gemeentes: Op die heel eerste kerkraadsvergadering van die Krugersdorpse gemeente (20 Oktober 1896) word daar alreeds 'n brief van die pas gestigte gemeente Johannesburg voorgelees waarin gevra word dat die twee gemeentes kombineer om 'n predikant te beroep.
Reeds in September 1897 het die kerkraad besluit om ’n kerk te bou, maar die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902) het dié plan vir eers in die wiele gery. In 1903 kon toe tot kerkbou oorgegaan word en is die boumeester P. Enslin aangestel. Toe die bouwerk begin, was £1 530 beskikbaar, maar die beraamde koste het £2 200 beloop. By voltooiing later daardie jaar het die koste van die gebou egter op £5 660 gestaan. Dis nie bekend wat tot dié verhoging aanleiding gegee het nie, maar dit kon moontlik swak toesig gewees het. Onder meer word melding gemaak van 28 000 stene wat oorgebly het nadat bouwerk voltooi is. Gevolglik het die gemeente onder ’n swaar skuldlas gebuk gegaan wat hy eers vroeg in die twintigerjare kon delg. Dié gebou is op 14 Mei 1904 ingewy nadat die hoeksteen op 16 Julie 1903 gelê is, sonder dat dit vermeld deur wie. Eers moes kerkgangers hul eie sitplek voorsien, maar later daardie jaar is banke wel aangebring.
Mettertyd het die ou kerk te klein geword vir die groeiende gemeente en was dit ook baie vervalle. Bouwerk aan die nuwe kerkgebou het op 20 Januarie 1956 begin en die hoeksteen is op 24 Maart daardie jaar deur ds. Wimpie de Klerk gelê. Op 20 September 1956 is die gebou aan die kerkraad oorhandig en op 20 Oktober daardie jaar is dit feestelik in gebruik geneem. Die argitek was Johan de Ridder, lidmaat van die Gereformeerde kerk Pretoria-Sunnyside, en die boumeester ’n plaaslike lidmaat, Siebrin Woudstra. Peet Pelser was verantwoordelik vir die elektriese installasie, die teëlwerk is behartig deur Piet Kleinloog en die houtwerk deur die Van Kraam-broers, eweneens almal lidmate van Krugersdorp. Die gebou beeld die vertikale verhouding met God uit, wat beklemtoon word deur twee mure met blougekleurde ruite. Die ou kerk is omstreeks 1956 gesloop.
Die eerste orrel in die ou kerk, ’n groot huisorrel, het in 1937 plek gemaak vir ’n pyporrel. Dié orrel is in die nuwe kerkgebou ingebou en vergroot. Dit is so aangepas dat dit voldoen het aan die eise van die tyd, met inagneming van die beginsels van die klassieke kerkorrel uit die Baroktyd. Aanvanklik het die verboude orrel 1 087 pype gehad met altesaam 16 registers waardeur 16 verskillende klankkombinasies voortgebring kon word. In 1975 is dit uitgebou tot 1 465 pype en opnuut op 23 Maart van daardie jaar in gebruik geneem.