Gesta Danorum ("Dade van die Dene") is 'n patriotiese werk oor die Deense geskiedenis deur die 12de-eeuse skrywer Saxo Grammaticus ("Saxo die Geletterde", letterlik "die Grammatikus"). Dit is die mees ambisieuse letterkundige onderneming van die Middeleeuse Denemarke en 'n belangrike bron vir die nasie se vroeë geskiedenis.[1][2] Dit is ook een van die oudste bekende dokumente oor die geskiedenis van Estland en Letland.
Die werk bestaan uit 16 boeke wat in Latyn geskryf is op uitnodiging van die Deense aartsbiskop Absalon. Dit beskryf die Deense geskiedenis en in 'n mate die Skandinawiese geskiedenis van die voorgeskiedenis tot in die laat 12de eeu. Gesta Danorum bied daarbenewens 'n unieke Skandinawiese siening van Europese sake in die Hoë Middeleeue en vul bronne uit Wes- en Suid-Europa aan.
Die 16 boeke, hoofsaaklik in prosa en hier en daar in poësie, kan in twee dele verdeel word: Boeke 1-9, wat oor die Noorse mitologie en halflegendariese Deense geskiedenis handel, en Boeke 10-16, oor die Middeleeuse geskiedenis. Boek 9 eindig met Gorm die Oue. Die laaste drie boeke (14-16), wat Deense verowerings aan die suidkus van die Oossee en oorloë teen Slawiese volke beskryf, is baie waardevol vir die geskiedenis van die Wes-Slawiese stamme en Slawiese mitologie. Boek 14 bevat 'n unieke beskrywing van die tempel op die eiland Rügen.
Presies wanneer Gesta Danorum geskryf is, is onseker. Daar is egter algemene konsensus dat dit nie voor 1208 voltooi is nie. Die laaste gebeurtenis in die laaste boek (Boek 16) is oor koning Knoet VI van Denemarke wat Pommere onder hertog Bogislaw I in 1186 oorweldig het. Die voorwoord van die boek, wat aan aartsbiskop Anders Sunesen opgedra is, noem egter die Deense verowering van die streke noord van die Elbe in 1208.
Boek 14, wat omtrent 'n kwart van die hele werk uitmaak, eindig met Absalon wat in 1178 as aartsbiskop aangestel word. Omdat die boek so groot is en Absalon van groter belang is as koning Waldemar I, kon dié boek eerste geskryf gewees en 'n volledige werk uitgemaak het. Dit is moontlik dat Saxo dit later met Boeke 15 en 16 uitgebrei het om die storie te vertel van koning Waldemar I se laaste jare en koning Knoet se eerste jare.
Saxo het toe vermoedelik Boeke 11, 12 en 13 geskryf en daarna die eerste 10 boeke. Dit sal die 22 jaar verduidelik wat verloop het tussen die laaste gebeurtenis in die laaste boek en die gebeurtenis in 1208 wat in die voorwoord beskryf word.
Die oorspronklike manuskripte van die werk het verlore gegaan, buiten vier fragmente: die Angers-, Lassen-, Kall-Rasmussen- en Plesnerfragment. Die Angersfragment is die grootste en die enigste een wat in Saxo se eie handskrif geskryf is. Die ander drie is van afskrifte uit omstreeks 1275. Al vier fragmente is in die versameling van die Deense Koninklike Biblioteek in Kopenhagen, Denemarke.
Die hele teks het egter bewaar gebly. In 1510-1512 het Christiern Pedersen, 'n Deense vertaler wat in Parys gewerk het, Denemarke deursoek vir 'n bestaande afskrif van Saxo se werk. Teen dié tyd het die enigste kennis van sy werk gekom uit 'n opsomming van 1342, Compendium Saxonis. Die naam Gesta Danorum word juis in dié opsomming aangetref. Die titel wat Saxo self gebruik het, is onbekend.
Pedersen het eindelik 'n afskrif opgespoor in die versameling van aartsbiskop Birger Gunnersen van Lund, Skone (Skone is nou deel van Swede, maar was toe nog deel van Denemarke). Die aartsbiskop het dit vir hom geleen, en met die hulp van die drukker Jodocus Badius is Gesta Danorum toe gedruk.
Sekere aspekte van Gesta Danorum vorm die basis van William Shakespeare se toneelstuk Hamlet. Saxo se weergawe, wat in Boeke 3 en 4 voorkom, is baie soortgelyk aan Shakespeare se Hamlet.[3]