Die historiese vakterm Gilded Age verwys na 'n tydperk van vinnige ekonomiese groei in die Verenigde State - veral in die noordelike en westelike deelstate - wat in die 1870's begin en tot omstreeks 1900 voortgeduur het. Die Gilded Age se eerste helfte oorvleuel met die middelperiode van die Victoriaanse tydperk in die Verenigde Koninkryk en die Belle Époque in Frankryk. Sy beginjare ná die Amerikaanse Burgeroorlog oorvleuel met die Reconstruction Era (Tydperk van heropbou) wat in 1877 geëindig het en in die 1890's deur die sogenaamde Progressive Era opgevolg is.
Aangesien loonvlakke in die Verenigde State destyds betreklik hoër was as in Europa, veral vir vakarbeiders, het ekonomiese groei gedurende die "Goue Tydperk" gepaard gegaan met massa-immigrasie van miljoene Europeërs. Reële loonstygings van sowat 60 persent tussen 1860 en 1890, waaruit die meerderheid van die snel groeiende werkersklas voordeel kon trek, is aangedryf deur die grootskaalse uitbreiding van die Amerikaanse nywerheidsektor. Die gemiddelde jaarlikse loon vir 'n fabriekswerker (insluitende mans, vroue en kinders) het van VSA-$380 in 1880 gestyg tot $564 in 1890 - 'n verhoging van 48 persent. Nogtans was die al hoe groter rykdom gekonsentreer in die hande van 'n klein elite entrepreneurs en sakemagnate wat hele bedrywe deur monopolies en kartelle oorheers het en na wie as robber barons ("roofbarons") verwys is, terwyl miljoene immigrante uit arm Europese lande nie maklik in die Amerikaanse arbeidsmark geïntegreer kon word nie en in ellende verkeer het.
Die Amerikaanse buitelandse beleid gedurende die Gilded Age was in baie opsigte deur avonturisme gekenmerk wat sy hoogtepunt in 1898 bereik het met die Spaans-Amerikaanse Oorlog en die anneksasie van die Filippyne en van Hawaii.[1]
Die term Gilded Age is ontleen aan die titel van 'n roman van Mark Twain, The Gilded Age: A Tale of Today, wat in 1873 gepubliseer is en die tydperk se onderliggende sosiale kwessies op 'n satiriese manier behandel.