From Wikipedia (Af) - Reading time: 2 min


Die hamsa of gamsa (Arabies: خمسة, khamsah, chamsah; Hebreeus: חַמְסָה; Berbers: ⵜⴰⴼⵓⵙⵜ, tafoest) is 'n amulet in die vorm van 'n handpalm. Dit is gewild deur die Midde-Ooste en Noord-Afrika, en word dikwels as juwele en muurversierings gebruik.[1][2]
Die uitbeelding van die oop regterhand is 'n beeld wat telkemale deur die geskiedenis erken en gebruik is as 'n teken van beskerming. Daar word deur sommiges (hoofsaaklik Moslems, Jode en Katolieke) geglo die hamsa bied verdediging teen die bose oog. Daar is al vermoed die oorsprong van die hamsa lê in Antieke Egipte of Kartago (hedendaagse Tunisië) en dat dit moontlik met die godin Tanit verband gehou het.
Hamsa is 'n Arabiese woord wat "vyf" beteken, asook "die vyf vingers van die hand".[3][4] Die hamsa is ook bekend as die Hand van Fatima (genoem na die dogter van die profeet Mohammed)[5] of die Hand van Maria.