Die Hasmoneërs was 'n dinastie van priester-konings wat van 142-63 v.C. oor Judea geheers het.
In die 160's v.C. onder leiding van die Makkabeërbroers kom die Jode in opstand teen die Seleukiede. In 104 v.C. neem hulle die koningstitel aan. Onder hulle is Judea 'n tempelstaat, waar die hoëpriester van Yahweh in Jerusalem koning is. Die Hasmonese staat brei vinnig uit oor die buurgebiede Samaria, Galilea, Idumea, die kusstede en Peraia oor die Jordaan en dele van Gilead. Die bewoners word gedwing om hulle tot die Joodse geloof te bekeer. Die konings herstel ou tradisies, maar is ook sterk Hellenisties. Die Griekse taal speel 'n groot rol en in 76 v.C. kan selfs 'n vrou die troon bestyg: Salome, die weduwee van Alexander Jannaeus, hoewel sy geen priester kan wees nie. Die Hasmoneërs sluit vroeg 'n bondgenootskap met Rome. Josephus beskryf ses verdrae tussen 160 en 100 v.C. Die betrekkings bly goed tot Pompeius in 63 v.C. Jerusalem verower en die tempel skend deur saam met sy manne die Heilige der Heilige van die tempel te betree.[1]