Honfleur | |
---|---|
Vieux Port, die historiese hawe van Honfleur | |
Koördinate: 49°25′11″N 0°14′02″O / 49.41972°N 0.23389°O | |
Land | Frankryk |
Gewes | Basse-Normandie |
Département | Calvados |
Arrondissement | Lisieux |
Kanton | Honfleur |
Regering | |
• Burgemeester | Michel Lamarre |
Oppervlak | |
• Stad | 13,67 km2 (5,28 vk. myl) |
Hoogte | 0–117 m (0–384 ft) |
Bevolking | |
• Stad | 7 425 |
• Digtheid | 543/km2 (1 410/vk. myl) |
• Metro | 17 632 |
Poskode | 14600 |
Skakelkodes | 14333 |
Webwerf | ville-honfleur.com |
Honfleur is 'n hawestad in die département Calvados (Frankryk) met 'n bevolking wat in 2017 op 7 425 beraam is. Die stad, wat sowat 200 km noordoos van Parys en 90 km oos van Bayeux aan die suidelike oewer van die Seinemonding teenoor die groot seehawe en nywerheidstad Le Havre geleë is, staan veral bekend vir sy ou hawe wat ook 'n vasmeerplek vir kleiner plesierbote (jagte) bied. Die seilregatta van Honfleur word jaarliks in September in die Seinebaai gehou.
Alhoewel Honfleur naby die geallieerde landingsplekke in Normandië op 6 Junie 1944 - Utah Beach, Omaha Beach, Gold Beach, Juno Beach en Sword Beach - geleë was, het die stad oorlogverwoesting gespaar gebly.
Honfleur se huise langs klein historiese straatjies bekoor met kleurryke fasades wat - net soos die heuwellandskap in die omgewing - 'n gewilde motief vir skilders soos die "vader van Franse realisme" Gustave Courbet, Jean-Baptiste Camille Corot, Eugène Boudin, Claude Monet en die Nederlander Johan Barthold Jongkind was. Die belangrikste verblyfplek vir die kunstenaarskring was Ferme Saint-Siméon onder leiding van Mère Toutain, 'n plaashuis teen die stadsrand wat in die middel van die 19de eeu as tradisionele gashuis (auberge) gedien het.
Die kenmerkende skilderstyl van die école de Honfleur speel 'n beduidende rol in die impressionistiese beweging. Honfleur se Sint Katharinakerk (Église Sainte-Catherine) is die grootste sakrale houtgebou in Frankryk met twee skepe en 'n vrystaande kloktoring.[1] Die historiese vakwerkhuise rondom die kerk, wat onder meer kunsgalerye en restourante huisves, is 'n tradisionele ontmoetplek vir kunstenaars.
Die Pont de Normandie, wat Honfleur met Le Havre verbind, is in 1995 ingewy en behoort tot die langste brûe in Europa.
Die eerste skriftelike verwysing na Honfleur dateer uit 1027, die tydperk van Richard III, hertog van Normandië. Teen die middel van die 12de eeu was die stad 'n belangrike vervoerspilpunt langs die handelsroete tussen Rouen en Engeland.
Honfleur het veral sedert die Honderdjarige Oorlog tussen Engeland en Frankryk voordeel getrek uit sy strategiese ligging naby die see en langs een van die belangrikste riviere in Frankryk. Daarnaas lê Honfleur in 'n welvarende gebied.
Koning Karel V van Frankryk het met die versterking van Honfleur begin om sodoende die toegang tot die Seinemonding vir Engelse skepe te blokkeer. Desondanks het Engelse troepe daarin geslaag om Honfleur in 1357 in te neem en in die tydperk tussen 1419 en 1450 ook permanent te beset. Afgesien van hierdie periode onder Engelse bewind het Honfleur as basis vir Franse strooptogte langs die Engelse kus gedien, waartydens in die vyftigerjare van die 15de eeu onder meer die stad Sandwich in Kent verwoes is.
Met die einde van die Honderdjarige Oorlog het Honfleur danksy die groeiende seehandel 'n ekonomiese bloeitydperk beleef wat slegs deur die godsdienstige onluste van die 16de en laat 18de eeu tydelik onderbreek is. Honfleur was die vertrekhawe vir bekende seevaarders soos Binot Paulmier de Gonneville, wat in 1503 vanaf Honfleur se hawe na die Brasiliaanse kusgebiede vertrek het; Jean Denis, 'n boorling van Honfleur wat in 1506 'n besoek aan die eiland Newfoundland (Terre Neuve) en die monding van die Sint-Laurensrivier gebring het, en Samuel de Champlain, die stigter van Quebecstad, wat in 1608 sy ekspedisie na Quebec onderneem het.
Honfleur het tot een van die vyf vernaamste Franse hawestede vir onder meer die slawehandel gegroei, met handelsbetrekkinge wat so ver gestrek het as Kanada, die Antille-eilande, die kusgebiede van Afrika en die Asore-eilande. Op bevel van Jean-Baptiste Colberte is die stad se versterkings in hierdie tydperk afgebreek.
Die oorloë van die Franse rewolusie en die Eerste Keiserryk het veral as gevolg van die Engelse kontinentale blokkade tot die ekonomiese agteruitgang van Honfleur gelei. Selfs die groeiende houthandel met die Noord-Europese lande tydens die 19de eeu kon net bydra tot 'n tydelike ekonomiese herlewing.
Le pont de Normandie Hierdie stylvolle, 856 m. lang brug, wat in 1995 geopen is, verbind Honfleur met Le Havre. Vir 'n kort ruk was die brug die langste kabelbrug ter wêreld.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Honfleur. |