Die Horiete, Hoerriete of Choerriete (Horities: Ḫu-ur-ri) was tydens die Bronstydperk ’n volk in die Nabye Ooste. Hulle het ’n Horities-Oerartiese taal, Horities, gepraat en in Anatolië en Noord-Mesopotamië gewoon. Die grootste en invloedrykste Horitiese nasie was die multi-etniese koninkryk Mitanni, wat waarskynlik gevorm is deur ’n Indo-Europeessprekende heersersklas wat oor ’n hoofsaaklik Horitiese bevolking regeer het. Die bevolking van die Indo-Europeessprekende Hetitiese Ryk in Anatolië het ’n groot getal Horiete ingesluit en daar is ’n aansienlike Horitiese invloed op die Hetitiese mitologie.
Teen die vroeë Ystertydperk was die Horiete in ander volke opgeneem, behalwe miskien in die koninkryk Urartu.
Die Horiete het ’n ergatief-agglutinatiewe taal gepraat wat gewoonlik Horities genoem word en wat onverwant is aan naburige Semitiese of Indo-Europese tale; dit kon dalk ’n geïsoleerde taal gewees het.
Die Oerartiese taal van die Ystertydperk is nou verwant aan Horities. Verskeie vooraanstaande Russiese taalkundiges, soos S.A. Starostin en W.W. Iwanof, beweer Horities en Hattities is verwant aan die Noordoos-Kaukasiese tale.[1]
Van die 21ste eeu v.C. tot die laat 18de eeu v.C. het Assirië kolonies in Anatolië beheer, en die Horiete en Hattiete het Assiries-Akkadiese wigskrif in omstreeks 2000 v.C. vir hul taal aangeneem. Wigskriftekse in Horities in in verskeie plekke soos Hattusa en Ugarit gevind, sowel as in een van die langste Amarna-briewe, wat deur koning Tushratta van Mitanni aan farao Amenhotep III van Antieke Egipte geskryf is. In 1983 is ’n langer Horitiese teks met ’n Hetitiese vertaling by Hattusa ontdek.