’n Interseks, interseksueel of interseks(uele) persoon[1][2] is ’n individu wat gebore is met een van vgerskeie variasies van geslagseienskappe, insluitend chromosome, geslagskliere, geslagshormone of geslagsdele, wat "nie pas by die tipiese definisies van manlike of vroulike liggame nie".[3][4] Hierdie atipiese variasies kan by geboorte fisiek sigbaar wees omdat ’n baba met onduidelike voortplantingsorgane gebore word, of andersins is dit nie sigbaar nie en kan ’n mens dwarsdeur sy lewe onbewus daarvan wees.[5]
Voorheen is na intersekse as hermafrodiete of "aangebore eunugs" verwys.[6][7] In die 19de en 20ste eeu het sommige mediese kenners nuwe terme aanbeveel om die eienskappe wat hulle gesien het te klassifiseer. Die eerste terme was "ware hermafroditisme" en "vroulike of manlike pseudohermafroditisme".[8] Dié terme word nie meer gebruik nie. Dit word as misleidend en stigmatiserend beskou as dit vir mense gebruik word.[9] ’n "Hermafrodiet" word nou gedefinieer as ’n "dier of plant wat beide manlike en vroulike voortplantingsorgane het".[8] In 1917 het Richard Goldschmidt die term "interseksualiteit" geskep om na ’n verskeidenheid fisieke geslagsonduidelikhede te verwys.[8] In ’n kliniese opset word die term "geslagsontwikkelingsteurings" sedert 2006 gebruik.[10] Dié term is omstrede sedert dit begin gebruik is.[11][12][13]
Stigmatisering en diskriminasie staar interseksuele mense van hulle geboorte af in die gesig, of vandat dit bekend word dat hulle interseksueel is, byvoorbeeld tydens puberteit. Dit kan kindermoord, verlating en die stigmatisering van gesinne insluit.[14][15][16] Wêreldwyd word sommige kinders wat met onduidelike uitwendige geslagsorgane gebore word, chirurgies of met hormone verander om sosiaal aanvaarbaarder eienskappe te skep. Dit is egter omstrede en daar is geen bewyse dat dit voordele inhou nie.[17] Sulke behandeling kan sterilisasie insluit. Ook volwassenes, insluitend bekende vroulike atlete, is al aan sulke behandeling onderwerp.[18][19]
Sulke kwessies word al hoe meer as die skending van menseregte beskou.[20][21][22] Organisasies vir intersekse het ook al verklarings uitgereik oor die skending van menseregte, soos die Malta-verklaring van 2013 deur die derde Internasionale Interseksforum.[23]
Sekstoewysing by geboorte hang gewoonlik af van ’n kind se anatomiese geslags- en fenotipe. Die syfer vir die geboorte van interseks babas is van slegs 0,018% tot rofweg 1,7%, na gelang van watter toestande as interseksueel beskou word.[24] Ander interseksuele toestande betrek chromosome, geslagskliere en geslagshormone.[24][25] Sommige intersekse kan as ’n seun of meisie grootgemaak word, maar later in hulle lewe as die ander geslag geïdentifiseer word, terwyl die meeste met hulle toegewese geslag bly identifiseer.[26][27] In 2011 was Christiane Völling die eerste interseks wat suksesvol skadevergoeding geëis het in ’n saak oor chirurgie sonder toestemming.[28] In April 2015 het Malta die eerste land geword wat mediese ingryping sonder toestemming om geslagseienskappe te verander, verbied het. Dit sluit interseksuele mense in.[29][30]
Suid-Afrika was die eerste land wat interseksuele mense eksplisiet in wette teen diskriminasie genoem het.[31]
Die VN se Kantoor van die Hoë Kommissaris vir Menseregte verklaar:
Interseks mense word gebore met geslagseienskappe (insluitend geslagsdele, geslagskliere en chromosoompatrone) wat nie pas by die tweeledige begrip van manlike en vroulike liggame nie. Interseks is ’n sambreelterm wat gebruik word om ’n wye reeks natuurlike liggaamsvariasies te beskryf. In sommige gevalle is interseksuele eienskappe by geboorte sigbaar, terwyl dit in ander gevalle nie sigbaar is nie tot met puberteit. Sommige interseksuele chromosoomvariasies is dalk glad nie fisiek sigbaar nie.[32]
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word "interseks" gedefinieer as ’n aangebore onreëlmatigheid van die voortplantings- en geslagstelsel. Dit is moeilik om ’n raming te maak van die voorkoms van interseks by geboorte, want daar is geen konkrete parameters vir die definiëring daarvan nie.
In biologiese terme kan geslag by geboorte deur middel van ’n aantal aanwesige faktore vasgestel word:[33]
die inwendige voortplantingsanatomie (soos die baarmoeder in vroue), en
die uitwendige geslagsdele.
Mense wie se eienskappe by geboorte nie heeltemal tipies manlik of vroulik is nie, is interseks.[34] Sommige interseks eienskappe is nie altyd by geboorte sigbaar nie; sommige babas kan onduidelike geslagsdele hê, terwyl ander onduidelike inwendige organe kan hê. Ander sal nie daarvan bewus word dat hulle interseks is nie totdat hulle genetiese toetse ondergaan, omdat dit nie uit hulle fenotipe duidelik is nie.
Mense was al van die vroeë tyd af bewus van interseks mense. Van die vroegste voorbeelde word in die mitologie aangetref: Die Griekse historikus Diodorus Siculus het in die 1ste eeu v.C. geskryf van die mitologiese Hermafroditos, wat "gebore is met ’n fisieke liggaam wat ’n kombinasie is van dié van ’n man en dié van ’n vrou", en glo bonatuurlike eienskappe gehad het.[35]Ardhanarishvara, ’n androgene, saamgestelde vorm van die god Sjiwa en die godin Parwati, het sy oorsprong in die 1ste eeu n.C. in die Koesjan-kultuur.[36] ’n Standbeeld van Ardhanarishvara staan in die Meenakshi-tempel, ’n Hindoe-tempel in Madurai, Indië, en toon duidelik beide manlike én vroulike liggaamselemente.[37]
Beide die Griekse en Romeinse geneeshere Hippokrates (omstreeks 460-370 v.C.) en Galenus (129 - omstreeks 200/216 n.C.) het geslag beskou as ’n spektrum tussen mans en vroue, met "baie skakerings tussenin, insluitend hermafrodiete, ’n perfekte balans van manlik en vroulik".[38] Die Romeinse naturalis Plinius die ouere (23/24-79 n.C.) het mense beskyf "wat van albei geslagte gebore is, wat ons hermafrodiete noem, tegelykertyd androgien" (andr-, "man", en gin-, "vrou", uit Grieks).[39]Augustinus van Hippo (354 - 28 Augustus 430), die invloedryke Katolieke teoloog, het in Die Letterlike Betekenis van Genesis geskryf mense word geskep in twee geslagte, behalwe "soos wat met sommige geboortes gebeur, in welke geval ons hulle androgiene noem".[38]
In middeleeuse en vroeë moderne Europese tye het die Romeinse reg, postklassieke kerkreg en later gemenereg na mense se geslag verwys as mans, vroue of hermafrodiete. Laasgenoemde het dieselfde regte as mans of vroue gehad, na gelang van watter eienskappe die dominantste was.[40] Die 12de-eeuse Decretum Gratiani verklaar: "Of ’n hermafrodiet getuie vir ’n testament mag wees, hang af van watter geslag oorheersend is".[41][42][43] Die basis van gemenereg, die 17de-eeuse Institutes of the Lawes of England, beskryf hoe ’n hermafrodiet kon erf, "óf as man óf as vrou, volgens die geslag wat oorheersend is".[44][45]
Sommige nie-Europese gemeenskappe het geslags- en genderstelsels wat meer as die twee kategorieë "man" en "vrou" erken. Sommige kulture, soos die Suid-AsiatieseHijra-gemeenskappe, kan ’n interseks of derde genderkategorie insluit.[46][47] Volgens die Hawaise kultuur besit interseks individue meer mana, of spirituele krag, as ’n man of vrou.
In die Victoriaanse tydperk het mediese skrywers terme soos "ware hermafrodiet" bekendgestel, vir iemand wat beide eierstok- en testikulêre weefsel gehad het. Ander terme was "manlike pseudohermafrodiet" vir iemand met testikulêre weefsel, maar óf vroulike óf onduidelike seksuele anatomie, en "vroulike pseudohermafrodiet" vir iemand met eierstokweefsel, maar óf manlike óf onduidelike seksuele anatomie. Sommige latere terminologiese veranderings het vooruitgang in genetika weerspieël, terwyl ander vermoedelik bloot verkleinerend was.[48]
Die term "interseksualiteit" is in 1917 deur die Duits gebore Amerikaanse genetikus Richard Goldschmidt geskep.[49] Die eerste voorstel dat die term "hermafrodiet" met "interseks" vervang word, is in die 1940's deur die Grieks-Engelse geneesheer Cawadias gemaak.[50]
Sedert die begin van die moderne geneeskundige wetenskap het sommige intersekse met onduidelike uitwendige geslagsdele chirurgie ondergaan om hulle geslagsdele soos dié van óf ’n man óf ’n vrou te laat lyk. Chirurge het interseks babas by geboorte as ’n "sosiale noodgeval" aangedui.[51] Volgens ’n genderbeleid wat aanvanklik deur die Nieu-Seeland-Amerikaanse sielkundige en seksuoloog John Money opgestel is, sou vroeë ingryping help om verwarring oor genderidentiteit te voorkom, maar daar is nie bewyse daarvoor nie.[52] Vroeë ingryping het nadelige gevolge vir sielkundige en fisieke gesondheid.[53] Aangesien vooruitgang in chirurgie dit moontlik maak om interseks toestande te verbloem, is baie mense nie bewus van hoe dikwels interseks toestande onder mense voorkom of dat dit enigsins voorkom nie.[54]
Organisasies vir menseregte skenk al hoe meer aandag aan skadelike praktyke en kwessies van diskriminasie teen interseks mense. Van die internasionale organisasies wat dit doen, is die Raad van Europa, die Kantoor van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Menseregte en die Wêreldgesondheidsorganisasie. Daarbenewens vind internasionale interseksforums en toenemende samewerking onder gemeenskapsorganisasies plaas. Tog verloop die opstelling, inwerkingstelling en afdwinging van interseks menseregte in nasionale regstelsels stadig.
Stigmatisering en diskriminasie van geboorte af kan insluit kindermoord, verlating en die stigmatisering van gesinne. Soos genoem op die "Interseks menseregte"-blad, is die geboorte van ’n interseks kind dikwels in die verlede beskou as ’n vloek of ’n teken dat die ma ’n heks is, veral in dele van Afrika.[14][15] Verlatings en kindermoord is aangemeld in Uganda,[14]Kenia,[55]Suid-Asië[56] en China.[16]
Interseks babas, kinders en adolessente ervaar ook "normaliserende" ingrypings wat medies onnodig is, en dit sonder hulle toestemming.[57][58] Ingrypings is al deur verdedigers van menseregte beskryf as ’n skending van baie regte, onder meer die reg op liggaamlike integriteit en privaatheid en teen diskriminasie en eksperimentering.[59]
Hierdie ingrypings vind dikwels plaas met die toestemming van die ouers, terwyl die interseks self regtens te jonk is om daartoe in te stem. Sulke ingrypings word gekritiseer deur die WGO, VN-organisasies en ’n toenemende getal streeks- en nasionale instellings vanweë die nadelige uitwerking daarvan, insluitend trauma, impak op seksuele funksie en sensasie, en die skending van regte op fisieke en geestelike integriteit.[3]
Die VN-organisasies het besluit ingryping tydens die babajare moenie toegelaat word nie en dat gewag moet word dat die kind oud genoeg is om deel van die besluitnemingsproses te wees – dit maak daarvoor voorsiening dat hulle hulle volle toestemming kan gee.[60] In April 2015 het Malta die eerste land geword wat chirurgiese ingryping sonder toestemming verbied het.[29][30] In dieselfde jaar het die Raad van Europa die eerste instelling geword wat verklaar het dat interseks mense die reg het om nié chirurgiese ingryping te ondergaan nie.[29][30][61]
Interseks babas, kinders, adolessente en volwassenes "word dikwels gestigmatiseer en onderwerp aan verskeie menseregteskendings", insluitend diskriminasie in opvoeding, gesondheidsorg, indiensneming, sport en openbare dienste.[32][3][4] ’n Paar lande beskerm interseks mense teen diskriminasie. Suid-Afrika was die eerste land wat intersekse eksplisiet in wette teen diskriminasie genoem het. Die aktivis Sally Gross het in 2000 gehelp om die term "interseks" in nasionale wette te laat insluit.[31][62] Ander lande is Australië[63] en Malta.[64]
Navorsing in die laat 20ste eeu het gelei tot ’n mediese konsensus dat diverse interseks liggame normale, maar relatief seldsame, vorme van menslike biologie is.[65][66] Die navorser Milton Diamond lê klem op die belangrikheid daarvan om versigtig te wees watter terme ’n mens gebruik ten opsigte van interseks mense:
Eerstens beveel ons die gebruik van die terme "tipies", "gewoonlik" of "die algemeenste" aan waar dit gebruiklik is om die term "normaal" te gebruik. Indien moontlik, vermy uitdrukkings soos verkeerd of onderontwikkel, foute in ontwikkeling, defektiewe geslagsdele en abnormale foute van die natuur. Lê klem daarop dat al hierdie toestande biologies verstaanbaar, maar statisties seldsaam is.[67]
Sommige mense met interseks eienskappe identifiseer as interseks en ander nie.[68][69] In Australiese sosiologiese navorsing wat in 2016 gepubliseer is, is bevind 60% van deelnemers gebruik die term "interseks" om hulle geslagseienskappe te beskryf, insluitend mense wat as interseks identifiseer en dié wat sê hulle het ’n interseks variasie of, minder algemeen, ’n interseks toestand. Sowat 75% het hulleself ook as manlik of vroulik beskryf.[27] Die meeste het diagnostiese etikette gebruik en byvoorbeeld na hulle geslagschromosome verwys. Die woordkeuse het afgehang van die gehoor.[27]
In navorsing in 2017 deur die Lurie-kinderhospitaal in Chicago en die AIS-DSD-steungroep is bevind 80% van die deelnemers het baie gehou van, gehou van of neutraal gevoel teenoor "interseks" as ’n term.[70]
Sommige interseks organisasies verwys na "interseks mense" en "interseks eienskapvariasies"[71] terwyl ander meer gemedisineerde taal gebruik, soos "mense met interseks toestande",[72] of mense "met interseks toestande of DSD's (differences of sex development)" en "kinders wat met variasies van geslagsanatomie gebore is".[73] In Mei 2016 het die organisasie Interact Advocates for Intersex Youth in ’n verklaring gesê al hoe meer mense verstaan en aanvaar die term "interseks".[74]
Volgens ’n studie deur die Amerikaanse Urologievereniging het 53% van die deelnemers nie van die term gehou nie.[75] In ’n studie in 2020 is bevind 43% hou nie van die term nie.[76] Nog ’n studie in 2020 het bevind sowat 43% van 179 deelnemers het gedink dit is ’n swak term, terwyl 20% neutraal daaroor gevoel het.[77]
’n Hermafrodiet is ’n organisme wat beide manlike en vroulike voortplantingsorgane het. Tot in die middel 20ste eeu is "hermafrodiet" as sinoniem vir "interseks" gebruik.[50] Die terme "manlike pseudohermafrodiet", "vroulike pseudohermafrodiet" en veral "ware hermafrodiet"[78] word nie meer gebruik nie, want dit weerspieël histologie (weefselleer) van die geslagskliere.[79] Mediese terminologie het verander, nie net vanweë kommer oor taalgebruik nie, maar ook danksy ’n verskuiwing in die begrip van genetika.
Hermafroditisme moet dus nie met interseks verwar word nie. Eersgenoemde verwys slegs na ’n spesifieke fenotipiese voorstelling van die seksorgane, terwyl laasgenoemde na ’n ingewikkelder kombinasie van fenotipiese en genotipiese voorstellings verwys. Die term "hermafrodiet" vir interseks individue word as stigmatiserend en misleidend beskou.[80] Dit word nou net gebruik vir dier- en plantspesies wat tweeslagtig is, dus met manlike en vroulike voorplantingstelsels.
"Geslagsontwikkelingsteurings" (Engels: disorders of sex development of DSD) is ’n omstrede term.[11][12] Die definisie daarvan sluit in aangebore toestande waarin die ontwikkeling van chromosoom-, geslagsklier- en anatomiese geslag atipies is. Baie interseks mense, aktiviste, ondersteuners en akademici keur die term af omdat dit impliseer dat interseks ’n steuring is. Dit is beledigend vir interseks individue wat nie voel daar is iets met hulle verkeerd nie.[81] Alternatiewe terme is al voorgestel, soos "geslagsontwikkelingsvariasies".[13]
Die Britse Interseksvereniging verwerp ook die term "geslagsontwikkelingsteurings" en wys daarop dat daar minimale betrokkenheid van interseks verteenwoordigers was toe op dié term besluit is.[82] In Mei 2016 het Interact Advocates for Intersex Youth ook in ’n verklaring hulle teenkanting uitgespreek teen die gebruik van patologiserende taal vir mense wat met interseks eienskappe gebore is.[74]
In ’n studie is bevind sowat 69% van die deelnemers het gevoel die term "geslagsontwikkelingsteuring" is op hulle toestand van toepassing of was neutraal, terwyl 31% gevoel het die term is nie op hulle toestand van toepassing nie.[83]
Interseks kan teenoor "transgender" gestel word;[84] laasgenoemde is die toestand waar iemand voel sy genderidentiteit stem nie ooreen met sy toegewese geslag nie.[84][85] In ’n studie in 2012 is bevind tussen 8,5% en 20% van mense met interseks variasies ondervind genderdisforie.[86]
Die verhouding tussen intersekse en die gay, lesbiese, biseksuele en trans gemeenskap is ingewikkeld,[87] maar interseks mense word dikwels by LGBT gevoeg om die LGBTI-gemeenskap te vorm. Emi Koyama beskryf hoe insluiting in LGBTI daartoe kan lei dat interseks-spesifieke menseregtekwessies nie aandag kry nie, onder meer omdat die vals indruk gewek word "dat interseks mense se regte beskerm word" deur wette wat LGBT-mense beskerm, en dat mense nie verstaan baie intersekse is nie LGBT nie.[88] Volgens Organisation Intersex International Australia voel sommige interseks mense aangetrokke tot dieselfde geslag terwyl ander heteroseksueel is, maar "LGBTI-aktivisme veg vir regte van mense wat buite die verwagte tweeledige geslags- en gendernorme val".[89] Volgens Julius Kaggwa van Uganda is die gay gemeenskap onbewus van interseks mense se spesifieke behoeftes, hoewel hulle "ons ’n plek van relatiewe veiligheid bied".[90]
’n Interseks karakter is die verteller in Jeffrey Eugenides se romanMiddlesex, wat die Pulitzerprys gewen het. Die memoires Born Both: An Intersex Life deur die interseks skrywer en aktivis Hida Viloria het talle pryse gewen en is in 2017 in Amerika aangewys as een van die Top-10-volwasseboeke vir Tieners.
Televisieprogramme en rolprente oor interseks is skaars. Die Spaanse rolprent XXY het op die Cannes-rolprentfees van 2007 die Critics' Week-prys gewen.[91]Faking It het nie net die eerste interseks hoofkarakter in ’n televisieprogram gehad nie,[92] maar ook TV se eerste interseks karakter wat deur ’n interseks akteur vertolk is.[93]
Interseksbewustheidsdag is ’n internasionale dag om klem te lê op die uitdagings van interseks mense. Dit vind jaarliks op 26 Oktober plaas en gedenk die eerste openbare demonstrasie deur interseks mense, op 26 Oktober 1996 in Boston.[94]
Interseksgedenkdag of -solidariteitsdag is nog ’n internasionale dag vir interseksuele mense en vind elke jaar op 8 November plaas. Dit gedenk die verjaardag van Herculine Barbin, ’n Franse interseks wie se memoires later deur Michel Foucault gepubliseer is in Herculine Barbin: Being the Recently Discovered Memoirs of a Nineteenth-century French Hermaphrodite.
Erik Schinegger, Foekje Dillema, Maria José Martínez-Patiño en Santhi Soundarajan is almal onderwerp aan vernederende toetse vir geslagsverifikasie wat daartoe gelei het dat hulle nie meer aan mededingende sportkompetisies kon deelneem nie. Stanisława Walasiewicz is postuum as ongeskik verklaar om te kon deelneem.[95]
Katrina Karkazis, Rebecca Jordan-Young, Georgiann Davis en Silvia Camporesi het beweer die IAAF se beleide oor "hiperandrogenisme" in vroulike atlete is "taamlik gebrekkig". Volgens hulle sou die beleid nie mense teen skending van privaatheid beskerm nie, dit sou van atlete vereis om onnodige behandeling te ondergaan om te kan deelneem en sou "genderpolisiëring" verskerp. Hulle het aanbeveel dat atlete toegelaat word om deel te neem ooreenkomstig hulle wetlik erkende gender.[99]
In 2019 het die IAAF se nuwe reëls in werking getree waarkragtens vroue soos Semenya nie aan die 400 m, 800 m en 1 500 m mag deelneem nie tensy hulle medisyne gebruik om hulle testosteroonvlakke te verlaag.[100][101][102][103]
Die raming van die aantal mense wat interseks is, wissel na gelang van watter toestande as interseks beskou word.[24] Leonard Sax het geraam die voorkoms is sowat 0,018% van die wêreldbevolking.[24] Volgens ’n verslag van 2018 is die aantal babas wat met onduidelike geslagsdele gebore word in die omgewing van 0,02% tot 0,05%.[104]
Anne Fausto-Sterling en haar medeskrywers sê in twee artikels van 2000 dat 1,7% van menslike geboortes (1 uit elke 60) interseks kan wees, insluitend variasies wat eers later duidelik word, soos met puberteit of wanneer iemand swanger probeer raak.[105][106] Hulle publikasies word wyd aangehaal,[61][107][108] hoewel aspekte daarvan deesdae as verouderd beskou word, soos die gebruik van die nou wetenskaplik inkorrekte term "hermafrodiet".[109] Altesaam 1,5 persentasiepunte van die 1,7% (88% van dié wat hier as interseks beskou word) bestaan uit mense met laataanvang- aangebore bynierhiperplasie (LAABH). Leonard Sax meen egter LAABH is, "uit ’n klinikus se oogpunt, nie ’n interseks toestand nie".[24]
Intersex Human Rights Australia hou steeds by die syfer 1,7% "ondanks sy gebreke".[110] "Dié raming vind aansluiting by enige 'individu wat afwyk van die Platoniese ideaal van fisieke dimorfie op die chromosoom-, genitale, geslagsklier- of hormoonvlak' en dit som dus die hele bevolking op wat gestigmatiseer word – of die gevaar loop om gestigmatiseer te word – vanweë aangebore geslagseienskappe."
Individue met diagnoses van geslagsontwikkelingsteurings kan stigma en diskriminasie ervaar of nie, insluitend mediese ingryping om hulle "normaal" te maak. Menseregte-instellings het ’n beroep gedoen dat interseks eienskappe sover moontlik gedemedisineer word.[22][61]
Die volgende tabel som die voorkoms van sommige interseks eienskappe op:
Iatrogenies (veroorsaak deur mediese behandeling, bv. progestien wat vir ’n swanger ma gegee is)
Geen
Geen raming
5α-reduktasetekort
Mans
Geen raming
Gemengde gonadale disgenese
Geen
Geen raming
Syfers kan verskil van bevolking tot bevolking vanweë genetiese oorsake. In die Dominikaanse Republiek is 5α-reduktasetekort nie ongewoon op die dorp Las Salinas nie, en dus word dié interseks eienskap sosiaal aanvaar.[129] Hoewel die seuns ’n Y-chromosoom en manlike inwendige organe het, lyk hulle by geboorte dikwels uitwendig soos meisies en word hulle as meisies grootgemaak. Om en by puberteit veroorsaak manlike hormone vermanliking en begin hulle werklike geslag duidelik word. Dan verander hulle van geslag en word verder as seuns grootgemaak. Mans met dié eienskap word güevedoces genoem (Spaans vir "eiers teen 12"). Altesaam 12 uit 13 families het een of meer mans met die geen. Die algehele voorkoms op die dorp is dat een uit elke 90 mans draers is, en ander mans óf niedraers óf nieaangetaste draers.[130]
Die algemene pad van seksuele differensiasie, waar ’n vrugbare vrou ’n XX-chromosoompaar en ’n vrugbare man ’n XY-paar het, is relevant tot die ontwikkeling van interseks toestande.
Tydens bevrugting voeg die sperm óf ’n X-chromosoom (vroulik) óf ’n Y-chromosoom (manlik) by die X-chromosoom in die eiersel. Dit bepaal die genetiese geslag van die embrio.[131] In die eerste weke van ontwikkeling is geneties manlike en vroulike fetusse "anatomies ononderskeibaar", met primitiewe geslagskliere wat teen die sesde week begin ontwikkel. Die geslagskliere kan tot óf testikels (manlik) óf eierstokke (vroulik) ontwikkel, na gelang van die daaropvolgende gebeure.[131] Tot in die sewende week lyk manlike en vroulike fetusse identies.
Teen die agtste week ná bevrugting begin die geslagskliere van die XY-embrio tot funksionerende testikels ontwikkel, wat testosteroon afskei. Eierseldifferensiasie, vir XX-embrio's, begin eers teen sowat 12 weke ná bevrugting. In ’n tipiese vroulike differensiasie ontwikkel die Müllerbuisstelsel in die baarmoeder, Fallopiusbuise en binneste derde van die vagina. In manlike fetusse veroorsaak die Müllerbuis-inhiberende hormoon (MIH) dat dié buisstelsel agteruitgaan. Hierna veroorsaak androgene dat die Wolffbuisstelsel ontwikkel, en dit ontwikkel weer tot die saadleiers, saadsakkies en ejakulasiebuise.[131] Met geboorte is die tipiese fetus reeds manlik of vroulik wat betref die in- én uitwendige geslagsdele.
’n Variasie van simptome kan by interseks babas voorkom. Onduidelike geslagsdele is die algemeenste teken, en kan insluit ’n mikropenis, ’n vergrote klitoris, gedeeltelike versmelting van die skaamlippe, vertraagde of afwesige puberteit, onverwagte veranderings met puberteit, hipospadies, labiale of liesmassas (wat testikels kan blyk te wees) in meisies en onafgesakte testikels (wat eierstokke kan blyk te wees) in seuns.[132]
Omdat daar variasie is in al die prosesse van die ontwikkeling van die geslagsdele, kan ’n kind gebore word met ’n seksuele anatomie wat tipies vroulik lyk met ’n vergrote klitoris, of tipies manlik met ’n klein penis wat aan die onderkant oop is. Vrugbaarheid wissel.
Die orchidometer is ’n mediese instrument waarmee die volume van die testikels gemeet kan word. Dit is deur die Switserse padriatriese endokrinoloog Andrea Prader ontwikkel. Die Praderskaal[133] en Quigleyskaal is visuele waarderingstelsels waarmee genitale voorkoms gemeet kan word.[134][135]
Ander metodes kan ook ingespan word, soos ’n kariotipe-weefselmonster (deur foto's van chromosome), wat kan bepaal watter oorsaak van interseks aanwesig is; ’n endoskopiese ondersoek; en ultraklank- en hormoonstimulasietoetse.[136]
Interseks kan in vier hoofkategorieë verdeel word: 46, XX-interseks; 46, XY-interseks; ware gonadale interseks; en ingewikkelde of onbepaalde interseks.
Dit is wat voorheen "vroulike pseudohermafroditisme" genoem is. Mense met dié toestand het vroulike inwendige geslagsdele en kariotipe (XX) en verskeie grade van uitwendige genitale virilisasie (vermanliking).[137] Uitwendige geslagsdele is vermanlik as die vroulike fetus aan ’n oormaat androgene blootgestel was.[132] Die chromosome en eierstokke is dus dié van ’n vrou, maar uitwendige geslagsdele lyk manlik. Die skaamlippe is versmelt, en die klitoris is vergroot en lyk soos ’n penis. Die oorsaak kan wees manlike hormone wat tydens swangerskap ingeneem is, aangebore adrenale hiperplasie, gewasse in die ma wat manlike hormone produseer of ’n aromatasetekort (aromatase is ’n ensiem wat die omsetting van androgene na estrogene kataliseer.)[132]
Dié toestand was voorheen bekend as "manlike pseudohermafroditisme" en word gedefinieer as die onvolledige vermanliking van die uitwendige geslagsdele.[138] Die persoon het dus die chromosome van ’n man, maar die uitwendige geslagsdele is nie ten volle gevorm nie, onduidelik of duidelik vroulik.[132][139] Die toestand het baie moontlike oorsake, soos probleme met die vorming van testikels en testosteroon.[132] Daar kan ook probleme wees met die gebruik van testosteroon. Sommige mense het nie die ensiem wat nodig is om testosteroon in dihidrotestosteroon om te skakel nie, en dit is die oorsaak van 5α-reduktasetekort.[132] Androgeenongevoeligheidsindroom is die algemeenste oorsaak van 46, XY-interseks.[132]
Dié toestand is voorheen "ware hermafroditisme" genoem. So ’n persoon het asimmetriese geslagskliere, met eierstok- en testikulêre differensiasie apart of as ovotestikels gekombineer.[140] In die meeste gevalle is die oorsaak onbekend; dit is egter al in sommige studies verbind met algemene landbou-insekdoders.[140]
Dit is wanneer iemand enige chromosoomkonfigurasie het wat verskil van 46, XX- of 46, XY-interseks.[132] Die toestand lei nie tot ’n wanbalans tussen in- en uitwendige geslagsdele nie.[132] Daar kan egter probleme met geslagshormoonvlakke, algehele geslagsontwikkeling en die getal geslagschromosome wees.[132]
Daar is ’n verskeidenheid menings oor watter toestande en eienskappe interseks is en watter nie, na gelang van die definisie van interseks wat gebruik word. Huidige definisies wat op mensregte geskoei is, noem ’n groot verskeidenheid geslagseienskappe wat verskil van algemene verwagtings van die manlike en vroulike liggaam.[32] In 2015 het die Raad van Europa,[61] die Europese Unie se Agentskap vir Basiese Regte[141] en die Inter-Amerikaanse Kommissie vir Menseregte[142] ’n beroep gedoen dat mediese klassifikasies hersien word op grond daarvan dat hulle ’n inbreuk maak op die reg op gesondheid; die Raad van Europa het sy kommer daaroor uitgespreek dat "die gaping tussen die verwagtings van menseregte-organisasies van interseks mense en die ontwikkeling van mediese klassifikasies moontlik oor die afgelope dekade groter geword het".[61][141][142]
Mediese ingrypings word gedoen vanweë fisieke gesondheidsorge en sielkundige risiko's. Debatte word oor albei soorte ingrypings gevoer, veral omdat die gevolge van chirurgiese (en baie hormonale) ingrypings lewenslank en onomkeerbaar is. Kwessies oor fisieke gesondheid sluit in akkurate vasstelling van risikovlakke, noodsaaklikheid en tydsbepaling. Sielkundige beweegredes is veral onder die soeklig omdat noodsaaklikheid sosiale en kulturele belange weerspieël.
Daar bestaan geen kliniese konsensus oor bewyse, tydsberekening vir chirurgie, noodsaaklikheid, die soort chirurgie en die graad van verskille wat ingryping genoodsaak nie.[143][144][145] Besware oor chirurgiese ingryping sluit in trauma, impak op seksuele funksie en sensasie, en skending van menseregte op fisieke en geestelike integriteit.[3] Besware sluit in dié van gemeenskapsaktiviste,[48] verskeie internasionale menseregte-organisasies[20][61][23][146] en gesondheidsinstelling[147] en nasionale liggame vir etiek.[53][148]
In die geval waar geslagskliere ’n kankerrisiko inhou, soos in sommige gevalle van androgeenongevoeligheidsindroom,[149] is kommer al uitgespreek dat beweegredes vir behandeling en besluitneming oor kankerrisiko ’n weerspieëling kan wees van ’n begeerte na chirurgiese "normalisering".[22]
Vervrouliking- en vermanlikingchirurgie: Chirurgiese prosedures hang af van diagnose, en daar is die kommer of chirurgie enigsins gebruik behoort te word. Chirurgie vind gewoonlik kort ná geboorte plaas. Verdedigers van die praktyk voel dit is nodig dat individue duidelik as manlik of vroulik geïdentifiseer word sodat hulle sosiaal kan funksioneer en "normaal" kan ontwikkel. Sielkundige redes word dikwels aangegee.[10] Dit word deur baie menseregte-instellings en -skrywers gekritiseer. Anders as ander estetiese chirurgiese prosedures op kinders, soos ’n operasie vir ’n gesplete verhemelte, kan genetiese chirurgie negatiewe gevolge hê vir seksuele funksionering later in die lewe of lei tot gevoelens van andersheid of onaanvaarbaarheid.[150]
Hormoonbehandeling: Daar is baie bewyse van voorgeboortelike toetsing en hormoonbehandeling om interseks eienskappe te voorkom of uit te skakel.[151] Dit word verbind met seksuele oriëntasie en gender-niekonformiteit.[151][152]
Sielkundige ondersteuning: Alle belangegroepe is ten gunste van sielkundige ondersteuning. ’n Gesamentlike verklaring deur deelnemers aan die derde Internasionale Interseksforum in 2013 vra onder meer: "Erkenning dat medisinering en stigmatisering van interseks mense lei tot aansienlike trauma en sorge oor geestelike gesondheid. Om liggaamlike integriteit en die welsyn van interseks mense te verseker, moet outonome, niepatologiese psigososiale en portuurgroepsteun hulle lewe lank aan interseks mense beskikbaar wees (soos hulle dit nodig het), sowel as aan ouers en/of versorgers."
Genetiese seleksie en terminasie: Die etiek van genetiese diagnose voor die inplanting van embrio's om interseks eienskappe te verhoed, was die onderwerp van 11 verslae in die uitgawe van Oktober 2013 van die American Journal of Bioethics.[153] Daar is baie bewyse dat aborsies plaasvind as gevolg van voorgeboortelike toetsing, sowel as voorgeboortelike hormoonbehandeling om interseks eienskappe te voorkom.[154]
Foto's van die geslagsdele van interseks kinders word in mediese gemeenskappe vir wetenskaplike doeleindes versprei. Individue met interseks eienskappe kan dus onderwerp word aan herhaalde genitale ondersoeke en aan mediese spanne ten toon gestel word. Probleme daarmee is al bespreek,[155] asook die etiek, beheer en gebruik daarvan.[156][157]
Die DSM-5 het ’n verandering ingesluit van die term "genderidentiteitsteuring" na "genderdisforie". Die hersiene kode sluit nou spesifiek interseks mense in wat nie met hulle toegewese geslag by geboorte identifiseer nie en klinies aansienlike angs of benadeling ervaar.[158]
↑ 10,010,1Houk, C. P.; Hughes, I. A.; Ahmed, S. F.; Lee, P. A.; Writing Committee for the International Intersex Consensus Conference Participants (Augustus 2006). "Summary of Consensus Statement on Intersex Disorders and Their Management". Pediatrics. 118 (2): 753–757. doi:10.1542/peds.2006-0737. ISSN0031-4005. PMID16882833. S2CID46508895.
↑ 11,011,1Davis, Georgiann (11 September 2015). Contesting Intersex: The Dubious Diagnosis. New York University Press. pp. 87–89. ISBN978-1479887040.
↑"What is intersex?". Intersex Society of North America. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 November 2013. Besoek op 18 November 2013.
↑Diodorus Siculus (1935). Library of History (Book IV). Loeb Classical Library Volumes 303 and 340. C H Oldfather (trans.). Cambridge, MA: Harvard University Press. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2008.
↑Swami., Parmeshwaranand (2004). Encyclopaedia of the Śaivism (1ste uitg.). New Delhi: Sarup & Sons. ISBN978-8176254274. OCLC54930404.
↑Shankar, Gopi (Maart–April 2015). "The Many Genders of Old India". The Gay & Lesbian Review Worldwide. 22: 24–26 – via ProQuest.
↑Plinius, Natural History 7.34: gignuntur et utriusque sexus quos hermaphroditos vocamus, olim androgynos vocatos; Veronique Dasen, "Multiple Births in Graeco-Roman Antiquity," Oxford Journal of Archaeology 16.1 (1997), p. 61.
↑Lynn E. Roller, "The Ideology of the Eunuch Priest," Gender & History 9.3 (1997), p. 558.
↑Raming, Ida; Macy, Gary; Bernard J, Cook (2004). A History of Women and Ordination. Scarecrow Press. p. 113.
↑E Coke, The First Part of the Institutes of the Laws of England, Institutes 8.a. (1st Am. uitg. 1812) (16de Europese uitg. 1812).
↑Greenberg, Julie (1999). "Defining Male and Female: Intersexuality and the Collision Between Law and Biology". Arizona Law Review. 41: 277–278. SSRN896307.
↑"India's Third Gender Rises Again". Sapiens. Wenner-Gren Foundation for Anthropological Research. 26 September 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2020. Besoek op 26 April 2020.
↑Greenberg, Julie A. (Junie 2017). "Legal, ethical, and human rights considerations for physicians treating children with atypical or ambiguous genitalia". Seminars in Perinatology. 41 (4): 252–255. doi:10.1053/j.semperi.2017.03.012. PMID28478089.
↑Zderic, Stephen (2002). Pediatric gender assignment : a critical reappraisal; [proceedings from a conference ... in Dallas in the spring of 1999 which was entitled "pediatric gender assignment – a critical reappraisal"]. New York, NY: Kluwer Acad. / Plenum Publ. ISBN978-0306467592.
↑Frader, J.; Alderson, P.; Asch, A.; Aspinall, C.; Davis, D.; Dreger, A.; Edwards, J.; Feder, E. K.; Frank, A.; Hedley, L. A.; Kittay, E.; Marsh, J.; Miller, P. S.; Mouradian, W.; Nelson, H.; Parens, E. (Mei 2004). "Health care professionals and intersex conditions". Arch. Pediatr. Adolesc. Med. 158 (5): 426–8. CiteSeerX10.1.1.572.1572. doi:10.1001/archpedi.158.5.426. PMID15123472.
↑Molina B Dayal, MD, MPH, Assistant Professor, Fertility and IVF Center, Division of Reproductive Endocrinology and Infertility, Medical Faculty Associates, George Washington University distingquishes what 'true hermaphroditism' encompasses in their study of Ovotestis. Hier te vinde: "Ovotesticular Disorder of Sexual Development". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Desember 2007. Besoek op 2 Januarie 2008.
↑Langman, Jan; Thomas Sadler (2006). Langman's medical embryology. Hagerstown, MD: Lippincott Williams & Wilkins. p. 252. ISBN978-0-7817-9485-5.
↑Feder, E. (2009) 'Imperatives of Normality: From "Intersex" to "Disorders of Sex Development".' A Journal of Lesbian and Gay Studies (GLQ), 15, 225–247.
↑Chaleyer, Rani (10 Maart 2015). "Intersex: the 'I' in 'LGBTI'". Special Broadcasting Service. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Julie 2015. Besoek op 4 Julie 2015.
↑Springer, A.; van den Heijkant, M.; Baumann, S. (Junie 2016). "Worldwide prevalence of hypospadias". Journal of Pediatric Urology. 12 (3): 152.e1–152.e7. doi:10.1016/j.jpurol.2015.12.002. PMID26810252.
↑Reference, Genetics Home. "Turner syndrome". Genetics Home Reference (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2020. Besoek op 19 Desember 2019.
↑Yen and Jaffe's reproductive endocrinology : physiology, pathophysiology, and clinical management (7th uitg.). Elsevier/Saunders. 13 September 2013. ISBN9781455727582.
↑Reference, Genetics Home. "Swyer syndrome". Genetics Home Reference (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Desember 2019. Besoek op 21 Desember 2019.
↑Boehmer, Annemie L. M.; Brüggenwirth, Hennie; van Assendelft, Cissy; Otten, Barto J.; Verleun-Mooijman, Marja C. T.; Niermeijer, Martinus F.; Brunner, Han G.; Rouwé, Catrienus W.; Waelkens, J. J.; Oostdijk, Wilma; Kleijer, Wim J.; van der Kwast, Theo H.; de Vroede, Monique A.; Drop, Stenvert L. S. (September 2001). "Genotype Phenotype in Families with Androgen Insensitivity Syndrome". The Journal of Clinical Endocrinology & Metabolism. 86 (9): 4151–4160. doi:10.1210/jcem.86.9.7825. PMID11549642.
↑Anne Fausto-Sterling (2000). Sexing the Body: Gender Politics and the Construction of Sexuality. New York: Basic Books.
↑Marchal, Joseph (3 Julie 2010). "Bodies Bound for Circumcision and Baptism: An Intersex Critique and the Interpretation of Galatians". Theology & Sexuality. 16 (2): 163–182. doi:10.1558/tse.v16i2.163. ISSN1355-8358. S2CID143514837.
↑Baylis, Françoise; Borgerson, Kirstin; Hoffmaster, Barry; Sherwin, Susan (6 Oktober 2011). Health Care Ethics in Canada. Cengage Learning. ISBN9780176504649. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2020. Besoek op 28 Mei 2020.
↑Kamijo, H.; Narita, O. (November 1997). "emale pseudohermaphroditismjournal=Nihon Rinsho. Japanese Journal of Clinical Medicine". 55 (11): 2925–2929. ISSN0047-1852. PMID9396289. {{cite journal}}: Cite journal requires |journal= (hulp)
↑Migeon, C. J. (Julie 1980). "Male pseudohermaphroditism". Annales d'Endocrinologie. 41 (4): 311–343. ISSN0003-4266. PMID7011168.
↑Lee, Peter A.; Nordenström, Anna; Houk, Christopher P.; Ahmed, S. Faisal; Auchus, Richard; Baratz, Arlene; Baratz Dalke, Katharine; Liao, Lih-Mei; Lin-Su, Karen; Looijenga, Leendert H.J.; Mazur, Tom; Meyer-Bahlburg, Heino F.L.; Mouriquand, Pierre; Quigley, Charmian A.; Sandberg, David E.; Vilain, Eric; Witchel, Selma; and the Global DSD Update Consortium (28 Januarie 2016). "Global Disorders of Sex Development Update since 2006: Perceptions, Approach and Care". Hormone Research in Paediatrics. 85 (3): 158–180. doi:10.1159/000442975. ISSN1663-2818. PMID26820577.
↑Mouriquand, Pierre D. E.; Gorduza, Daniela Brindusa; Gay, Claire-Lise; Meyer-Bahlburg, Heino F. L.; Baker, Linda; Baskin, Laurence S.; Bouvattier, Claire; Braga, Luis H.; Caldamone, Anthony C.; Duranteau, Lise; El Ghoneimi, Alaa; Hensle, Terry W.; Hoebeke, Piet; Kaefer, Martin; Kalfa, Nicolas; Kolon, Thomas F.; Manzoni, Gianantonio; Mure, Pierre-Yves; Nordenskjöld, Agneta; Pippi Salle, J. L.; Poppas, Dix Phillip; Ransley, Philip G.; Rink, Richard C.; Rodrigo, Romao; Sann, Léon; Schober, Justine; Sibai, Hisham; Wisniewski, Amy; Wolffenbuttel, Katja P.; Lee, Peter (2016). "Surgery in disorders of sex development (DSD) with a gender issue: If (why), when, and how?". Journal of Pediatric Urology. 12 (3): 139–149. doi:10.1016/j.jpurol.2016.04.001. ISSN1477-5131. PMID27132944.
Fausto-Sterling, Anne (2000). Sexing the Body: Gender Politics and the Construction of Sexuality. Basic Books. ISBN978-0-465-07714-4.
Ghattas, Dan Christian; Heinrich-Böll-Stiftung (2013). Human Rights between the Sexes: A preliminary study on the life situations of inter*individuals. Berlyn: Heinrich-Böll-Stiftung. ISBN978-3-86928-107-0.