Jagter | ||||
Latynse naam | Orion | |||
Genitief | Orionis | |||
Afkorting | Ori | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 5 h | |||
Deklinasie | +5º | |||
Grootte | 594 vk. grade (26ste) | |||
Kwadrant | NQ1 | |||
Besonderhede | ||||
Hoofsterre | Rigel (β Ori) | |||
Helderste ster | Rigel | |||
Naaste ster | GJ 3379 | |||
Sterre helderder as 3 m | 8 | |||
Sterre met planete | 8 | |||
Messier-voorwerpe | 3 | |||
Bayer-/Flamsteed-sterre | 81 | |||
Simboliek | Griekse mitologie | |||
Meteoorreëns | 2 | |||
Aangrensende sterrebeelde | ||||
Tweeling, Bul, Eridanus, Haas, Eenhoring | ||||
|
Die Jagter of Orion is ’n sterrebeeld op die hemelewenaar wat oral ter wêreld te sien is. Dit is een van die 48 konstellasies wat deur die 2de-eeuse sterrekundige Ptolemeus beskryf is en is steeds een van die 88 moderne sterrebeelde. Sy helderste sterre is Rigel (Beta Orionis) en Betelgeuse (Alpha Orionis), onderskeidelik ’n blouwit en rooi superreus.
Dit is een van die opvallendste en bekendste sterrebeelde.[1] Die naam "Orion" verwys na die Griekse mitologiese jagter Orion.
Die Jagter se Belt, Gordel van Orion of Drie Konings[2] is ’n asterisme of sterrepatroon in die sterrebeeld wat uit drie helder sterre bestaan: Alnitak, Alnilam en Mintaka. Deur na die drie sterre aan die naghemel te soek, is die maklikste manier om die Jagter te vind.
Rondom die Belt, teen rofweg dieselfde afstand, is nog vier helder sterre, wat die Jagter se buitelyne vorm. Van die Belt af is daar ’n kleiner ry van drie sterre (waarvan die middelste een nie werklik ’n ster is nie, maar die Orionnewel), bekend as die Jagter se Swaard.
In kunswerke word die omringende sterrebeelde soms uitgebeeld as verwant aan die Jagter: Hy staan langs die rivier Eridanus met sy twee jaghonde, die Groot Hond en die Klein Hond, en veg teen die Bul. Soms word hy uitgebeeld waar hy die Haas jag en soms het hy ’n leeukop in sy hand.
Die Jagter word maklik gesien van November tot Februarie elke jaar – die laat-lente tot somer in die Suidelike Halfrond en die laat-herfs tot winter in die Noordelike Halfrond. In die tydperk Mei tot Julie (winter in die Suidelike Halfrond en somer in die Noordelike Halfrond) is die Jagter aan die daghemel en dus in die grootste deel van die wêreld nie sigbaar nie.
Die sterrebeeld kan gebruik word om ander sterre te vind. Deur die lyn van die Belt suidooswaarts te verleng, kan Sirius (α CMa) gevind word, en noordweswaarts Aldebaran (α Tau). ’n Lyn ooswaarts oor die twee skouers dui die rigting aan na Procyon (α CMi). ’n Lyn van Rigel deur Betelgeuse wys in die rigting van Castor en Pollux (α en β Gem).
Naam | Sonradiusse | Oënskynlike magnitude |
~Afstand (ligjare) |
---|---|---|---|
Betelgeuse | 667 | 0,43 | 643 |
Rigel | 78 | 0,18 | 772 |
Bellatrix | 7.0 | 1,62 | 243 |
Mintaka | ? | 2,23 (3,2/3,3) / 6,85 / 14,0 | 900 |
Alnilam | 26 | 1,68 | 1 359 |
Alnitak | ? | 1,70/~4/4,21 | 800 |
Saiph | 11 | 2,06 | 724 |
Van die Jagter se belt af hang sy swaard, wat bestaan uit twee sterre, θ1 en θ2 Orionis, en die Orionnewel (Messier 42). Laasgenoemde is ’n skouspelagtige voorwerp wat met die blote oog van ’n ster onderskei kan word. Deur ’n verkyker kan sy newels van sterre in wording, helder gas en stof gesien word. Die Trapesium-sterreswerm bevat talle nuwe sterre, insluitende bruin dwerge, wat almal sowat 1 500 ligjare weg is. Dit is genoem na die vier helder sterre wat ’n trapesium (vierhoek met twee ewewydige sye) vorm en net ’n paar duisend jaar oud is.
Messier 78 (NGC 2068) is ’n newel in die Jagter. Met ’n algehele magnitude van 8 is dit aansienlik dowwer as die Groot Orionnewel wat suid van hom lê, maar dit is min of meer dieselfde afstand van die Aarde af, sowat 1 600 ligjare. Dit kan deur ’n teleskoop maklik vir ’n komeet aangesien word. M78 word verbind met die veranderlike ster V351 Orionis, waarvan die wisseling in magnitude in baie kort tydperke sigbaar is.[8] Nog ’n taamlik helder newel is NGC 1999, ook naby die Groot Orionnewel. Dit het ’n magnitude van 10,5 en is 1 500 ligjare van die Aarde af. Die veranderlike ster V380 Orionis lê in NGC 1999.[9]
Nog ’n bekende newel is die Perdekopnewel (IC 434), naby ζ Orionis. Dit bevat ’n donker stofwolk waarvan die vorm aan die newel sy naam gee.
Nog talle interessante diepruimtevoorwerpe kan met ’n klein teleskoop gesien word, soos die newels Messier 43 en Messier 78, en veelvoudige sterre soos Iota Orionis en Sigma Orionis. Met ’n groter teleskoop raak voorwerpe soos Barnard se Lus en die Vlamnewel (NGC 2024) sigbaar, asook dowwer en kompakter veelvoudige sterre en newels.
Al die newels is deel van die groter Orionkompleks, wat sowat 1 500 ligjare van die Aarde af en honderde ligjare in deursnee is. Dit is een van die dele van die kosmos met die meeste streke van stervorming wat in die Melkweg sigbaar is.
Orion is op die hemelewenaar geleë, maar sal weens die presessie van die aarde se as nie vir altyd daar bly nie. Teen die jaar 14000 sal dit so ver suid beweeg het dat dit nie meer van Brittanje se breedtegraad af gesien sal kan word nie.[10]
Verder die toekoms in sal die Jagter se sterre geleidelik van die sterrebeeld af wegbeweeg vanweë eiebeweging. Die helderste sterre van die Jagter lê egter ver van die Aarde af in vergelyking met byvoorbeeld Sirius. Die Jagter sal dus nog herkenbaar wees lank nadat die meeste van die ander sterrebeelde – wat uit relatief nabygeleë sterre bestaan – ander vorms aangeneem het. Die uitsondering is ’n paar sterre in die Jagter wat eindelik sal ontplof as supernovas, soos Betelgeuse, wat na verwagting binne die volgende miljoen jaar sal ontplof.[11]