Encyclosphere.org ENCYCLOREADER
  supported by EncyclosphereKSF

Joe Biden

From Wikipedia (Af) - Reading time: 15 min

Joe Biden
46ste President van die Verenigde State
Ampstermyn 20 Januarie 2021
Voorganger Donald Trump
Opvolger
Geboortedatum 20 November 1942 (1942-11-20) (82 jaar oud)
Geboorteplek Scranton, Pennsilvanië
Sterftedatum
Sterfteplek
Eerste Dame Jill Biden
Politieke party Demokraat
Visepresident Kamala Harris
Handtekening

Joseph Robinette (Joe) Biden Jr. (/ˌrɒbɪˈnɛt ˈbaɪdən/; gebore op 20 November 1942) is 'n Amerikaanse politikus wat op 20 Januarie 2021 as die 46ste president van die Verenigde State ingehuldig is. Hy het tussen 2009 en 2017 as die 47ste adjunkpresident onder Barack Obama gedien. Hy het ook van 1973 tot 2009 die deelstaat Delaware in die Amerikaanse Senaat verteenwoordig. Biden is 'n lid van die Demokratiese Party en was die Demokratiese presidentskandidaat vir die 2020-verkiesing teen die vorige president Donald Trump, wat die onderspit gedelf het. Biden se veldtogte van 1988 en 2008 om tot presidentskandidaat benoem te word, was onsuksesvol.

Biden het in Scranton, Pennsilvanië, en New Castle County, Delaware, grootgeword. Hy het aan die Universiteit van Delaware gestudeer, voordat hy 'n regsgraad aan die Universiteit van Syracuse behaal het.[1] Hy het in 1969 'n prokureur geword en is in 1970 tot die raad van New Castle County verkies. In 1972 is hy as senator vir Delaware verkies. Daarmee het hy die sesde jongste persoon geword wat tot die Amerikaanse senaat verkies is. Biden is ses keer herkies, en was die vierde mees senior senator toe hy bedank het om in 2009 die amp van adjunkpresident oor te neem.

As senator was Biden 'n jarelange lid en uiteindelik voorsitter van die Komitee vir Buitelandse Betrekkinge. Hy het die Golfoorlog in 1991 teengestaan, maar was 'n voorstander van Amerikaanse en NAVO-ingryping in die Bosniese oorlog in 1994 en 1995, die uitbreiding van NAVO in die negentigerjare en die bombardering van Serwië in 1999 tydens die Kosovo-oorlog. Hy het gestem vir die resolusie wat die oorlog in Irak in 2002 gemagtig het, maar die vergroting van die aantal troepe in 2007 teengestaan. Hy was ook die voorsitter van die regterlike komitee van die senaat tydens die nominasies van regters Robert Bork en Clarence Thomas.

In 2008 was Biden die Demokratiese presidensiële genomineerde Barack Obama se keuse as adjunkpresident. Hy was die eerste Rooms-Katolieke adjunkpresident van die Verenigde State.[2] As adjunkpresident het Biden toesig gehou oor die besteding aan infrastruktuur om die Groot Resessie teen te werk. Sy onderhandelinge met die Republikeine het die Obama-administrasie telkens gehelp om wetgewing deurgevoer te kry. Obama en Biden is in 2012 herkies.

In Oktober 2015, ná maande van bespiegeling, het Biden aangekondig dat hy nie die presidentskap in die 2016-verkiesing sou najaag nie. Ná sy tweede termyn as adjunkpresident het Biden hom by die fakulteit van die Universiteit van Pennsilvanië aangesluit, waar hy benoem is tot die Benjamin Franklin-professor in presidensiële praktyk.[3] Hy het op 25 April 2019 aangekondig dat hy aan die 2020-verkiesing sou deelneem as presidentskandidaat vir die Demokratiese Party. Met die opskorting van Bernie Sanders se veldtog op 8 April 2020 het Biden die aangewese Demokratiese genomineerde vir die presidentsverkiesing geword.

Met sy inhuldiging op 20 Januarie 2021 as 46ste Amerikaanse president, was hy reeds 78, en het hy Donald Trump se rekord as oudste Amerikaanse president oortref. Tydens sy verkiesing het hy ook meer stemme op hom verenig as enige vorige presidentskandidaat - die vorige hoogste stemtal is deur Barack Obama gehou. Hy is ook die eerste Amerikaanse president met 'n vroulike vise-president, naamlik Kamala Harris.[4]

In April 2024 het Biden sy herverkiesingsveldtog vir die presidensiële verkiesing van 2024 aangekondig en, na die voorverkiesing, die vermoedelike Demokratiese genomineerde geword. Hy het egter sy kandidatuur in Julie 2024 teruggetrek ná 'n reeks gesondheidsbekommernisse. Biden het vise-president Harris onderskryf om hom as kandidaat op te volg.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Opleiding en aanvang van loopbaan

[wysig | wysig bron]

Biden, die oudste seun van 'n Ierse Katolieke sakeman, het die eerste tien jaar van sy lewe in Pennsilvanië gewoon. Sy gesin verhuis daarna na Delaware, waar sy pa 'n verkoopsman vir gebruikte motors geword het. Biden het in 1965 sy Baccalaureus artium aan die Universiteit van Delaware en 'n regsgraad aan die Universiteit van Syracuse in New York in 1968 ontvang. As student was hy meer geïnteresseerd in sport as studies. Biden is in 1969 as advokaat ingesweer en het hom in Wilmington, Delaware, gevestig. Hy word vrygestel van militêre diens in Viëtnam weens asma; hy was nie polities aktief totdat hy in 1970 suksesvol by die New Castle County Council as kandidaat staan, waar hy tot 1972 gedien het.

Senaat

[wysig | wysig bron]

In 1972 word Biden vir die eerste keer as Senator vir Delaware verkies. As dertigjarige was hy een van die jongste senatore ooit. Hy was 'n kandidaat vir die Demokratiese nominasie in die Amerikaanse presidentsverkiesing in 1988. Tydens hierdie veldtog het hy in diskrediet gekom toe dit blyk dele van 'n toespraak deur die leier van die Britse Arbeidersparty, Neil Kinnock, deur hom geplagieer is. Biden onttrek hom daarna aan die wedloop, wat deur Michael Dukakis gewen is.

In 2002 verower Biden 'n sesde termyn van die Senaat met 58% van die stemme. Biden was voorsitter van die Komitee vir Buitelandse Betrekkinge en was 'n lid (en voormalige voorsitter) van die Justisiekomitee. Biden was in die Senaat bekend vir die kritiek op die Bush-administrasie se beleid in Irak. Biden is waardeer vir sy vele wetsvoorstelle en praktiese alternatiewe. Sy voorstel om Irak in drie outonome streke te verdeel, 'n Koerdiese, Soenniete en Sjiïete, is ook in Republikeinse kringe verwelkom. Biden het in terme van die konflik tussen Israel en die Palestyne en in die konteks van die diplomatieke konflik met Iran gesê dat hy 'n oortuigende Sionis is. In 'n onderhoud in 2007 het hy gesê: "Ek is 'n Sionis. Jy hoef nie 'n Jood te wees om 'n Sionis te wees nie." Biden beskou Israel as die belangrikste Amerikaanse bondgenoot in die Midde-Ooste en is 'n sterk voorstander van die massiewe finansiële en militêre steun wat die Verenigde State jaarliks aan die Joodse staat oordra. Biden besef dat 'n militêre sterk Israel van groot belang is vir die VSA se ambisies in daardie streek is. Na die aanvalle op 11 September 2001 het Biden gesê: "Baie Amerikaners kan nou ervaar hoe Israelitiese ouers voel as hulle hul kinders skool toe of met die bus stuur."

Presidentsverkiesing 2008

[wysig | wysig bron]

Biden was een van die kandidate vir die Demokratiese nominasie in die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2008. Op 30 Januarie 2007 het hy per e-pos aan sy ondersteuners aangekondig dat hy op 1 Februarie van daardie jaar 'n amptelike kandidaat is. Hy het sy kandidatuur op 3 Januarie 2008 na minder as 1% van die stemme in die Iowa-koukus onttrek.

Op 23 Augustus 2008 het presidentskandidaat Barack Obama aangekondig dat hy Biden as sy adjunkpresidentskandidaat gekies het. Biden het baie buitelandse beleidservaring gebring, iets wat Obama sou mis. In die presidensiële verkiesing op 4 November 2008 is Biden as adjunkpresident verkies. Hy is ook herkies as Senator uit Delaware. Aangesien 'n president of adjunkpresident van die Verenigde State nie toegelaat word om ander funksies kragtens die Amerikaanse grondwet te beklee nie, sou hy hom voor die inhuldiging op 20 Januarie 2009 aan die senaat onttrek. Die Demokratiese goewerneur van Delaware, Ruth Ann Minner, het Ted Kaufman, Biden se assistent vir baie jare, in sy plek in die Senaat aangestel.

Hy het ook oorweeg om aan die presidensiële verkiesing van die Verenigde State vir 2016 deel te neem, maar het in Oktober 2015 besluit om dit nie te doen nie.

Presidentsverkiesing 2020

[wysig | wysig bron]

In April 2019 het hy sy kandidatuur vir die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2020 aangekondig. In alle soorte peilings en debatte, slaag Biden in daardie jaar om as 'n "voorloper" na vore te tree in 'n veld van (aanvanklik) meer as twintig presidentskandidate. Meer as sy program, is sy spilpunt sy geloof dat hy die persoonlikheid en ervaring het om president Donald Trump te verslaan.

Teen die middel van 2019 word dit op 'n onvoorsiene wyse duidelik dat president Trump inderdaad Joe Biden as sy belangrikste mededinger vir die presidentsverkiesing in November 2020 beskou. Dit word openbaar gemaak dat 'n fluitjieblaser in die Withuis berig het dat president Trump 'n persoonlike guns van 'n buitelandse regeringshoof aangevra het. Laasgenoemde individu blyk die nuwe president van die Oekraïne, Volodymyr Zelenskyj te wees. Die persoonlike guns wat Trump versoek, is dat die land 'n korrupsie-ondersoek moet doen oor Joe en Hunter Biden. Die Oekraïne is baie van die VSA afhanklik vir finansiële en politieke steun.

Joe Biden se tweede seun en prokureur Hunter Biden word in 2014 aangestel vir 'n reuse-salaris (ten minste VS$ 50 000 per maand) as 'n bestuurslid van die Oekraïense gasonderneming Burisma. Hierdie aanstelling is verbasend omdat Hunter Biden oor weinige kwalifikasies vir hierdie posisie in daardie land het. Verrassend ook omdat sy pa Joe destyds adjunkpresident van die VSA was, en destyds betrokke was by aksies in die Oekraïne wat die bedanking van 'n korrupte prokureurgeneraal probeer afdwing het.[5]

Weens Trump se optrede wat ook deur sy persoonlike prokureur Rudy Giuliani gevoer word, vra die Demokratiese meerderheid in die Senaat dat 'n proses van beskuldiging teen Trump in die Kongres voorberei word. Met die uitsondering van 'n enkele Republikein word Trump egter deur sy partylede verdedig, dikwels met die argument wat hy gebruik het: "Waarom dit so moeilik maak? Dit was 'n uitstekende gesprek!" Geen bewys is gelewer van korrupsie en/of oortreding van die wet deur die Bidens in die Oekraïne nie. Nietemin belig Trump se verdediging in sy in-beskuldigstellingsverhoor die feite dat die seun van die adjunkpresident miljoene in salaris ontvang het vir werk by 'n verdagte onderneming in die Oekraïne, waarvoor die seun ook geen spesiale kwalifikasies gehad het nie. Tydens die verloop van die verhoor het steun vir Biden se presidensiële veldtog afgeneem.

In die eerste voorverkiesing vir die Demokrate se kandidatuur het Biden in Februarie 2020 'n teleurstellende vierde plek behaal. In 'n poging om die gety te keer, het die Biden-veldtog 'n neerhalende rolprent oor die mededinger Pete Buttigieg vrygestel.[6] Hy het op 29 Februarie 2020 die voorverkiesing in die deelstaat Suid-Carolina met 'n groot meerderheid gewen. Hy het baie steun van die Afro-Amerikaanse kiesers ontvang. Na die verkiesing in Suid-Carolina het Pete Buttigieg en Amy Klobuchar hul kandidatuur onttrek en hul steun vir Biden se kandidatuur uitgespreek. Op 3 Maart 2020, Super Tuesday, het Biden 'n merkwaardige verkiesingsterugkeer gemaak deur in tien van die veertien state te wen waarin voorverkiesings vir 'n Demokratiese kandidatuur plaasgevind het, waaronder Texas en Minnesota. Hy het onmiddellik 'n 'voorloper' geword in die stryd om as die Demokrate se presidentskandidaat benoem te word. Hy het Bernie Sanders, wat in die grootste deelstaat Kalifornië gewen het, uit die eerste plek gelig. Nadat Sanders op 8 April 2020 as kandidaat onttrek het, het Biden 'n gunsteling vir die Demokratiese nominasie geword.

Tydens die veldtog is Biden deur 'n voormalige werknemer, Tara Reade, daarvan beskuldig dat hy haar in 1993 onbehoorlik aangeraak het. Biden het die bewering ten sterkste ontken. Hy het wel aangedui dat elkeen wat Reade glo, nie vir hom moet stem nie.[7]

Aanvanklik het Reade in April 2019 na vore gekom met 'n bewering dat Joe Biden in 1993 haar aangeraak het op 'n manier wat haar “ongemaklik laat voel het” tydens sy ampstermyn as senator vir Delaware.[8] Reade, wat tussen 1992 en 1993 as personeellid in die senaatskantoor van Biden gedien het, het egter in Maart 2020 na vore getree en onthul dat die aantygings van ongewenste aanraking meer behels as wat sy die eerste keer teen die voormalige adjunkpresident in April 2019 aanhangig gemaak het. Sy het onthul dat die aantyging eerder 'n erge geval van seksuele aanranding is.[9]

Tydens 'n optrede op die radioprogram The Breakfast Club het Biden in Mei 2020 'n gevoelige saak aangeraak vanweë die voorstel dat swart kiesers natuurlik vir Demokrate moet stem weens hul etniese agtergrond. Hy het gesê: "As jy dit moeilik vind om te besluit of jy vir my of Trump is, is jy nie swart nie." Biden het later om verskoning gevra vir sy arrogante opmerking. Hy het opgemerk dat geen kieser vir enige party "gebaseer op sy of haar ras- of godsdienstige agtergrond" moet stem nie.[10]

Met die opskorting van die veldtog van Bernie Sanders op 8 April 2020, word Biden die vermoedelike benoemde van die Demokratiese Party vir die presidentsverkiesing.[11] Op 13 April onderskryf Sanders Biden in 'n regstreekse gesprek met hom.[12] Oudpresident Barack Obama het die volgende dag Biden gesteun as kandidaat.[13] In Maart 2020 het Biden hom daartoe verbind om 'n vrou te kies as adjunkpresidentskandidaat.[14] In Junie het Biden die drempel van 1 991-afgevaardigdes bereik om sy presidentskandidatuur te verseker.[15] Op 11 Augustus kondig hy Senator Kamala Harris van Kalifornië aan as sy adjunkpresidentskandidaat en maak haar die eerste Afro-Amerikaanse en Suid-Asiatiese Amerikaanse adjunkpresidentskandidaat op 'n groot party se verkiesingslys.[16]

Op 18 Augustus 2020 is Biden amptelik benoem as die Demokratiese Party-genomineerde vir president in die verkiesing in 2020.[17][18][19] Op 7 November 2020 is Biden deur nuusagentskappe as die nuutverkose president verklaar. Hy is op 20 Januarie 2021 ingehuldig.

Beleid

[wysig | wysig bron]

Uit die Demokrate se oogpunt was die Trump-jare uitputtend en ontwrigtend, en sou 'n terugkeer na tradisioneel-belangrike norme, idees en praktyke, veral wat Amerika se optrede in die buitewêreld aangaan, verwelkom word. Biden het hierdie verwagtinge minstens retories gestand gedoen, deur aan te kondig dat die Verenigde State sy betrekkinge met sy bondgenote sal herstel, 'n buitelandse beleid met Amerikaanse waardes sal navolg, in die staatsdepartement (d.i. buitelandse sake) sal belê en sy kundiges sal raadpleeg.[20]

Persoonlik

[wysig | wysig bron]

In 1966 trou Biden met Neilia Hunter. Hulle het drie kinders gehad, waaronder Beau Biden, wat van 2007 tot 2015 as die staatsprokureur van Delaware gedien het. In 1972 sterf Biden se vrou en sy eenjarige dogtertjie Naomi Christina in 'n motorongeluk. Albei seuns Beau en Hunter Biden is ook in die ongeluk beseer. Dit was 'n rede vir Biden om nie tydens sy senatorskap na Washington, D.C. te verhuis nie. Tot sy aanstelling as adjunkpresident, reis hy elke aand per trein terug na sy huis in Wilmington om tyd met sy seuns deur te bring.[21] Sy liefde vir treine het hom die bynaam "Amtrak Joe" gegee, na die Amtrak-spoorwegonderneming, en in 2011 word Wilmington Rail Station hernoem na die Joseph R. Biden jr. spoorwegstasie.[22][23]

Biden is in Junie 1977 met Jill Tracy Jacobs getroud. Die Bidens ontken dat hulle mekaar sedert 1972 geken en minstens van 1974 tot Mei '75 'n buite-egtelike verhouding gehad het terwyl Jill met haar eerste man, 'n vriend van Joe, getroud was.[24] Volgens Joe was dit liefde met die eerste oogopslag toe hy haar eers in Maart 1975 as enkellopende advertensiemodel opgemerk het, en 'n kollega vir hom 'n blinde afspraak gereël het. Die egpaar het 'n dogter, Ashley.

Biden was die eerste Rooms-Katolieke adjunkpresident. In 1988, na 'n ernstige hoofpyn, is Biden in 'n hospitaal opgeneem waar 'n breinaneurisme gediagnoseer is. Hy het eers sewe maande na die operasie na die Senaat teruggekeer. Op 30 Mei 2015 is sy seun Beau op 46-jarige ouderdom oorlede aan die gevolge van breinkanker.[25]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "Joe Biden | Biography & Facts". Encyclopedia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2020.
  2. (en) "The First Catholic Vice President?". NPR. 9 Januarie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 September 2019. Besoek op 20 Januarie 2021.
  3. (en) Berke, Jeremy (7 Februarie 2017). "Here's what Joe Biden will do after 8 years as vice president". Business Insider. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 April 2020. Besoek op 8 Februarie 2017.
  4. Beyond the Headlines: an unprecedented presidential handover, The National News, 2021
  5. Hunter Biden de uitverkorene die niet uitverkoren had moeten zijn, De Volkskrant, 13 Oktober 2019.
  6. Campagneteam Biden kleineert rivaal Buttigieg in reclame, AD, 8 Februarie 2020.
  7. Biden says voters who believe Tara Reade probably should not vote for me, NPR, 15 Mei 2020.
  8. (en) Riquelmy, Alan (4 April 2019). "Nevada County woman says Joe Biden inappropriately touched her while working in his U.S. Senate office". www.theunion.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2020.
  9. (en) North, Anna (27 Maart 2020). "A sexual assault allegation against Joe Biden has ignited controversy". Vox. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2020.
  10. Biden in opspraak wegens uitglijder over zwarte kiezers, De Volkskrant, 23 Mei 2020.
  11. (en) Ember, Sydney (8 April 2020). "Bernie Sanders Drops Out of 2020 Democratic Race for President". The New York Times. ISSN 0362-4331. Besoek op 20 Januarie 2021.{{cite news}}: AS1-onderhoud: url-status (link)
  12. (en) Ember, Sydney; Glueck, Katie (13 April 2020). "Bernie Sanders Endorses Joe Biden for President". The New York Times. Besoek op 20 Januarie 2021.
  13. (en) Merica, Dan (14 April 2020). "Obama endorses Biden for president in video message". CNN. Besoek op 20 Januarie 2021.{{cite news}}: AS1-onderhoud: url-status (link)
  14. (en) "Joe Biden commits to picking a woman as his running mate". Axios. 16 Maart 2020. Besoek op 20 Januarie 2021.
  15. (en) Linskey, Annie (9 Junie 2020). "Biden clinches the Democratic nomination after securing more than 1,991 delegates".
  16. (en) "Biden VP pick: Kamala Harris chosen as running mate". BBC News. 11 Augustus 2020. Besoek op 20 Januarie 2021.
  17. (en) "DNC Nominates Joe Biden to Lead Nation Through Pandemic". The Wall Street Journal. 18 Augustus 2020. Besoek op 20 Januarie 2021.
  18. (en) "Joe Biden officially becomes the Democratic Party's nominee on convention's second night". The Washington Post. 19 Augustus 2020. Besoek op 20 Januarie 2021.
  19. (en) Schultz, Marisa (18 Augustus 2020). "Democrats formally nominate Joe Biden for president in virtual roll call". Fox News. Besoek op 20 Januarie 2021.
  20. Cook, Steven A. (11 Februarie 2021). "Biden's Foreign-Policy Values Aren't'Normal': The new president wants his strategy to seem reassuring. It's anything but". Voice. Besoek op 15 Februarie 2021.
  21. (en) Michael D. Shear (30 Mei 2015). "Beau Biden, Vice President Joe Biden's Son, Dies at 46". The New York Times. Besoek op 20 Januarie 2021.
  22. (en) “Amtrak Joe” Biden Gets His Own Train Station, ABC News 16 Maart 2011, besoek op 13 Januarie 2017.
  23. (en) K. Bellware, Joe Biden Leaves Washington, D.C., Exactly How You’d Expect: On An Amtrak Train, The Huffington Post 10 Januarie 2017, besoek op 13 Januarie 2017.
  24. Jill Biden Denies Ex’s Claim That Her Relationship with Joe Started as an Affair, Steven Fabian, Inside Edition
  25. (en) Michael D. Shear (30 Mei 2015). "Beau Biden, Vice President Joe Biden's Son, Dies at 46". The New York Times. Besoek op 20 Januarie 2021.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Licensed under CC BY-SA 3.0 | Source: https://af.wikipedia.org/wiki/Joe_Biden
21 views | Status: cached on November 22 2024 00:34:01
↧ Download this article as ZWI file
Encyclosphere.org EncycloReader is supported by the EncyclosphereKSF