Joseph Brodsky | |
---|---|
Joseph Brodsky in 1988 | |
Gebore | Josif Aleksandrowitsj Brodski 24 Mei 1940 |
Sterf | 28 Januarie 1996 (op 55) |
Nasionaliteit | Sowjetunie (1940–1972) Staatloos (1972–1977) Verenigde State (1977–1996) |
Beroep | Digter en essayis |
Eggenoot | Marina Basmanova (lewensmaat, 1962−1967) Maria Kuznetsova (lewensmaat) Maria Sozzani (∞ 1990–1996) |
Kinders | Andrei Basmanov (gebore 1967) Anastasia Kuznetsova (gebore 1972) Anna Brodskaya (gebore 1993) |
Handtekening | |
Joseph Brodsky ([ˈbrɒdski]; gebore as Ио́сиф Алекса́ндрович Бро́дский [ɪˈosʲɪf ɐlʲɪˈksandrəvʲɪtɕ ˈbrotskʲɪj], Josif Aleksandrowitsj Brodski; 24 Mei 1940 in Leningrad – 28 Januarie 1996 in New York) was 'n Russies-Amerikaanse digter en essayis van Joodse afkoms.
Brodsky, wat in sy werk 'n verskeidenheid sosiale, ekonomiese en politieke wantoestande in die destydse Sowjetunie aangespreek het - soos byvoorbeeld die ondoeltreffendheid van 'n sentraal-beplande ekonomie, behuisingsnood en latente antisemitisme - is deur die Sowjet-Russiese owerheid as sosiale en militante «parasiet» bestempel (onder meer omdat «digter» nie as 'n werklike beroep beskou is nie), in hegtenis geneem en in 1964 tot vyf jaar in 'n werkkamp naby Archangelsk gevonnis. Nadat Sowet-Russiese en internasionale literêre kringe druk op die Sowjet-bewind uitgeoefen het, is die vonnis ná een jaar opgeskort.[2][3] Op 4 Junie 1972 is hy van sy Sowjet-burgerskap ontneem nadat hy geweier het om sy werk onder sensuur te laat plaas en in 'n vliegtuig na Wene gesit.
Brodsky het hom daarna met die hulp van ondersteuners, onder wie die Britse digter W. H. Auden, in die Verenigde State gevestig waar hy as dosent aan 'n verskeidenheid universiteite verbonde was, waaronder Yale, Columbia, die Universiteit van Cambridge in Massachusetts en die Universiteit van Michigan.
Van sy eerste salaris het hy 'n vliegkaartjie na Milaan en Venesië gekoop. Aan die winterlike Strandmeerstad, wat hy as sy «paradys» beskryf het, het hy sy werk Watermark gewy, 'n liefdesverklaring deur middel van mistiese meditasies.
In 1987 is die Nobelprys vir Letterkunde aan Brodsky toegeken vir sy «alomvattende» literêre werk, die «klaarheid van sy gedagtes» en die «poëtiese intensiteit» van sy digkuns.[4] In 1991 is hy as die Verenigde State se Poet Laureate benoem.[5]
Anders as wat sy gedwonge ballingskap in die VSA sou kon insinueer was Brodsky se literêre werk allesbehalwe sterk politiek gekleur. Eerder het hy in sy gedigte, wat dikwels in 'n meditatiewe styl geskryf is, universele vrae oor die menslike bestaan, lewe en dood gestel, en dit was juis sy standpunte ten gunste van individuele vryheid en anti-materialisme waaraan Sowjet-amptenare aanstoot geneem het.[6]
Alhoewel sy werke ook in post-Sowjetse Rusland gepubliseer is, het Brodsky as balling geweier om nog eens ‘n besoek aan sy geboorteland te bring. Die pyn, wat hy in sy eie land ervaar het, was so groot dat die tekste, wat hy postuum oor sy ouers geskryf het, nog net in Engels uit sy pen kon vloei - 'n besluit wat uit sy oortuiging voortgespruit het dat hy hulle sodoende nog uit die onderdrukkende en sielvernietigende Russiese konteks sou kon bevry.[7]
Op 28 Januarie 1996 is Joseph Brodsky in sy woonstel in Brooklyn Heights, New York aan 'n hartaanval oorlede.[8] Die skrywer het self geen wens oor sy laaste rusplek gehad nie. So het sy vrou, Maria Sozzani, besluit om sy liggaam na Venesië oor te bring, sy persoonlike paradys waaraan hy elke jaar in winter gedurende die Universiteitsvakansie 'n besoek gebring het. So is Joseph Brodsky op die begrafniseiland San Michele naby Venesië ter ruste gelê.