Die Jute (soms ook Jutte of Jutlanders) was 'n Germaanse volk van wie geglo word dat hulle oorspronklik in Jutland (Deens Jylland) in moderne Denemarke en dele van die Frieslandkus gewoon het. Die Jute, saammet die Angelle, Sakse en Friese, was van die eerste Germane wat oor die Noordsee geseil het en Engeland van die laat 4de eeu af ingeval het. Volgens die Eerbiedwaardige Beda, het hulle, hulle op die ou einde in Kent, Hampshire en op die eiland Wight gevestig. Daar is 'n aantal plekname wat dui op die teenwoordigheid van Jute in die gebiede, soos Ytene, wat Florence van Worcester as die destydse Engelse naam vir New Forest beskryf.
Terwyl Jutse invloede in Kent (b.v., die tradisionele gebruik van deelbare oorerwing wat bekend staan as gavelkind) algemeen uitgewys word, het die Jute in Hampshire en op die eiland Wight verdwyn, en het slegs die geringste tekens van hulle teenwoordigheid daar bewaar gebly. Een onlangse vakkundige, Robin Bush, voeraan dat die Jute van Hampshire en die eiland Wight die slagoffers van 'n beleid van etniese suiwering deur die Wes-Sakse was. Dit is egter nog nie 'n uitgemaakte saak nie en is besprekingspunt onder akademici.
Daar word geglo dat van die Jute in hulle kontinentale tuisland gebly het en dat hulle die inheemse bevolking van die moderne Jutland (Denemarke) geword het.
Sommige deskundiges glo dat die Jute en die Gaute na dieselfde mense, wat vroeër in die suide van Swede gewoon het, verwys (die "Jutse hipotese"). Dit sluit die Oxford English Dictionary (OED) in, wat spekulatief die Sweedse woord Götar (deur Eotas, Iótas, Iútan en Geátas) met die Deense woord Jyder verbind.
In beide Widsith en in Beowulf word die twee groepe egter netjies geskei. In Beowulf verskyn die Jute as die Eotenas in die Finn uittreksel (sien Die geveg by Finnsburg), wat hulle dan apart stel van die Geatas. Dit mag wees dat die twee stamname verwar is, wat byvoorbeeld gebeur het in bronne wat die dood van die Sweedse koning Östen dek.