Landbou in Namibië dra ongeveer 5% van die Bruto binnelandse produk en tussen 25% tot 40% van burgers is afhanklik op bestaansboerdery. Primêre produkte sluit in vee- en vleisprodukte, gewasboerdery en bosbou.[1] Net 2% van Namibië ontvang voldoende reënval om gewasse te kweek. Aangesien alle binnelandse riviere seisoenaal is, is besproeiing slegs moontlik in die valleie van die grensriviere Oranjerivier, Kunenerivier, en die Okavangorivier.[2]
Calle Schlettwein is vanaf 2010 is die Minister van Landbou, Water en Bosbou. Die Ministerie bedryf 'n aantal semistaatsinstellings, insluitend NamWater.
Alhoewel die Namibiese landbou - uitgesonderd visvang - tussen 2004-2009 tussen 5% en 6% van die BBP van Namibië bygedra het, is 'n groot persentasie van die Namibiese bevolking afhanklik van landbou, veral in die bestaansektor. Veeprodukte, lewende diere en uitvoer van gewasse is ongeveer 10,7% van die totale Namibiese uitvoer. Die regering moedig die koop van plaaslike landbouprodukte aan. Kleinhandelaars van vrugte, groente en ander gewasprodukte moet 27,5% van hul voorraad vanaf plaaslike boere koop.
In die grootliks blanke Namibiërs-gedomineerde kommersiële sektor bestaan die landbou hoofsaaklik uit vee-boerdery. Daar is ongeveer 4000 kommersiële plase in Namibië, waarvan 3000 deur blankes besit word.[3] Beeste is veral in die sentrale en noordelike streke oorheersend, en karakoel en boerbok is gekonsentreer in die droër suidelike streke. Druiwe, meestal langs die Oranjerivier in die land se dorre suide, word toenemend 'n belangrike kommersiële gewas. Mielies word veral deur boere geproduseer in die driehoek tussen Tsumeb, Otavi en Grootfontein.[4]