| |||||
Nasionale leuse: ສັນຕິພາບ ເອກະລາດ ປະຊາທິປະໄຕ ເອກະພາບ ວັດທະນາຖາວອນ (Lao vir: "Vrede, Onafhanklikheid, Demokrasie, Eenheid en Welvaart") | |||||
Volkslied: ເພງຊາດລາວ (Lao vir: "Volkslied van Laos") | |||||
Hoofstad | Vientiane | ||||
Grootste stad | Vientiane | ||||
Amptelike tale | Lao | ||||
Regering | Unitêre Marxisties-Leninistiese enkelparty sosialistiese republiek Thongloun Sisoulith Bounthong Chitmany Pany Yathotou Sonexay Siphandone | ||||
Onafhanklikheid Vorming
• Koninkryk Lan Xang • Luang Phrabang, Vientiane en Champasak • Vasal van Thonburi en Siam • Opvolgingsoorlog • Frans-Indochina • Verenigde Koninkryk • Onafhanklikheid verklaar • Onafhanklikheid erken • Burgeroorlog • Monargie afgeskaf • Huidige grondwet |
1353–1707 1707–1778 1778–1893 1826–1828 1893–1953 11 Mei 1947 19 Julie 1949 22 Oktober 1953 9 November 1953– 2 Desember 1975 2 Desember 1975 14 Augustus 1991 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
236 800 km2 (82ste) 91 400 myl2 2 | ||||
Bevolking - 2022-skatting - 2015-sensus - Digtheid |
7 749 595[1] (103de) 6 492 228[2] 26,7 / km2 (151ste) 69,2 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2022-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2022-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,607[4] (140ste) – medium | ||||
Gini (2018) | 38,8[5] – medium | ||||
Geldeenheid | Kip (LAK )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
ICT (UTC+7) nie toegepas nie (UTC+7) | ||||
Internet-TLD | .la | ||||
Skakelkode | +856 |
Laos (Lao: ລາວ, Lāo, [láːw]), amptelik die Demokratiese Volksrepubliek Laos (ສາທາລະນະລັດ ປະຊາທິປະໄຕ ປະຊາຊົນລາວ, Sathalanalat Paxathipatai Paxaxôn Lao), is 'n landingeslote land in Suidoos-Asië. Dit beslaan 'n oppervlakte van 236 800 km² en het 'n bevolking van 7 749 595 in 2022 gehad.
Laos is in die noordooste van Thailand, in die weste van Viëtnam, in die suidooste van Mianmar en die Volksrepubliek China, en in die noorde van Kambodja geleë. Die hoofstad en grootste stad is Vientiane wat aan die Mekongrivier net noord van Thailand geleë is.
Die Mekongrivier speel 'n belangrike rol in die ekonomiese lewe van Laos. Die riviervallei is die vrugbaarste gebied van die land en word intensief met rys bebou. Daar heers 'n moesonklimaat en tweederdes van die land is met oerwoud bedek. Sedert sy ontstaan met die stigting van die Koninkryk Lan Xang in 1355 het dele van Laos voortdurend in die hande van sy buurstate geval.
In 1893 het Indo-China onder Franse bestuur gekom en is die eenheid van Laos herstel. Na die Franse nederlaag by Dien Bien Phu (1954) in Viëtnam het Laos onafhanklik geword. Binnelands was die land egter steeds verdeel met die regse en neutrale groepe aan die een kant en die Kommunistiese Pathet-Laos aan die ander kant. In Desember 1975 het die Nasionale Volkskongres die Demokratiese Volksrepubliek Laos uitgeroep en die invloed van die regse en neutrale groepe is uitgeskakel. Laos is sentraal geleë in die Suidoos-Asiatiese skiereiland. Die land het geen kus nie en dus ook geen hawe wat hom met die buiteland verbind nie.
Laos grens in die noorde aan die Volksrepubliek China, in die ooste aan Viëtnam, in die suide aan Kambodja, in die weste aan Thailand en in die noordweste aan Mianmar. Die Mekongrivier is die land se enigste verbinding met die see, maar is weens stroomversnellings moeilik bevaarbaar. Laos het 'n tropiese moesonklimaat met 'n gemiddelde maandelikse neerslag van 300 mm in die dale en 600 mm teen die berghellings. Van einde Mei tot begin Oktober waai die suidwesmoeson en is dit warm en vogtig (gemiddelde temperatuur 28°C).
Van Oktober tot Februarie waai die noordoosmoeson, wat ’n droë en koel klimaat teweegbring. Na Februarie styg die temperatuur weer en bereik in April 'n maksimum van 36°C. Die Mekongvallei met sy dale en syriviere aan die westelike grens van Laos is die belangrikste woongebied van die bevolking. Die land is grotendeels bergagtig en bedek met oerwoude. Omtrent die helfte van die land lê hoër as 600 m bo seespieël, wat ernstige verkeershindernisse met die binneland vorm.
Die breë, noordelike deel van die land, die bergland tussen die Mekong- en die Rooirivier, bestaan uit diep klowe en plato's wat op plekke hoër as 2 000 m is. In die smal, middelste gedeelte te die hoogste berge in die land, naamlik Phu Bia (2 817 m) en Phu Xai Lai Lieng (2 711 m). In die suide van Laos, aan die grens met Vietnam, lê die Annamese Hoogland en die Plato van Bolovens.
Opgrawings naby Luang Prabang en in die bergland tussen die Mekong- en die Rooirivier het daarop gedui dat Laos reeds gedurende die Steentydperk bewoon is. Die geskiedenis van die huidige bevolking begin in die 12de eeu, toe Thaistamme uit Suid China verdryf is. Die stamme het suidwaarts getrek tot by die huidige Laos, wat toe skaars bewoon was.
In 1355 het prins Fa Ngoum die Koninkryk Lan Xang, die Ryk van Miljoen Olifante, gestig met Luang Prabang as die hoofstad. Tot in 1707 het Lan Xang omliggende gebiede geannekseer. In die jaar het die ryk egter in drie dele geskeur, met Luang Prabang, Vientiane in die noorde en Champassak in die suide as die onderskeie hoofstede. Onderlinge oorloë het die die staatjies verswak en Thailand, Birma en Vietnam het gebiede van Laos ingepalm. Aan die begin van die 19de eeu is eers Vientiane en daarna (1885) Luang Prabang deur Thailand verower.
Na 1893 het die ganse Indo-China onder beheer van die Franse gekom en Thailand moes noodgedwonge sy verowerde gebiede en later ook gebiede wes van die Mekong afstaan. In 1917 het Frankryk die eenheid van Laos herstel, met Luang Prabang as hoofstad. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Indo-China deur Japan verower en die gebied wes van die Mekong moes weer deur Laos afgestaan word. In dieselfde periode het ’n onafhanklikheidsbeweging ontstaan wat na die oorgawe van Japan ’n verenigde, onafhanklike staat uitgeroep het.
Laos is egter eers na die Franse se nederlaag by Dien Bien Phu (1954) in Viëtnam as onafhanklike staat erken. Op 'n konferensie van wêreldmagte in 1954 in Genève is die kwessie van Indo-China bespreek en daar is ooreengekom dat Laos ’n neutrale staat sou word. Intussen het daar in Laos verskillende kampe ontwikkel: die proKommunistiese Pathet-Lao, met Souvanna Phong as woordvoerder; die Westers georiënteerde, met Savang Vatthana van 1959 tot 1975 die grondwetlike monargie en genl. Phoumi Nosavan as die belangrikste leiers; en die neutraliste onder leiding van Souvanna Phouma, halfbroer van Souvanna Phong.
In 1957 het Souvanna Phouma die Pathet-Laos genooi om aan die regering deel te neem. Na ’n verkiesingsoorwinning deur die Neo Pathet-Laos (die wettige politieke party van die Pathet-Laos) is die mag egter in 1958 deur middel van ’n staatsgreep deur die konserwatiewes onder prins Bum Un Na oorgeneem.
Die Pathet-Laos het hom teruggetrek na die noordelike deel van die land, wat onder sy beheer gestaan het. 'n Burgeroorlog het uitgebreek wat in 1961 met 'n wapenstilstand tot 'n einde gebring is. In dieselfde jaar is in Genève ooreengekom dat 'n koalisieregering onder Souvanna Phouma aan die bewind sou kom. Die verskillende politieke partye wou egter nie versoen raak nie omdat die konserwatiewes nie bereid was om hul bevoorregte posisie prys te gee nie. Na die moord in 1962 op die minister van buitelandse sake, Pholsena, het die verteenwoordigers van die Pathet-Laos uit die regering bedank en hulle in Hanoi gevestig, van waar hulle die stryd hervat het. In 1967 het die Pathet-Laos drievyfdes van die land onder sy beheer gehad.
Die houvas van die Pathet-Laos het egter verswak omdat Noord-Viëtnam sy steun onttrek het weens die Amerikaanse aanvalle op die land. Die Verenigde State het in 1964 begin met bomaanvalle wat veral daarop gemik was om die Hồ Chí Minh-roete, die belangrikste toevoerroete van die Kommunistiese Viëtminh-magte wat deur die ooste van Laos geloop het, te vernietig. In 1971 het die Suid-Viëtnamese troepe geprobeer om die roete te beset, maar die poging het misluk met die Slag van Sepone.
Eers na die vredesooreenkoms in Parys in Januarie 1973 tussen die Verenigde State en die Kommunistiese Viëtnam kon Laos weer begin met die samestelling van 'n regering waarin al drie partye verteenwoordig is. In April 1974 is 'n koalisieregering in Vientiane gestig, met Souvanna Phouma as eerste minister. ’n Nasionale politieke raad is in Luang Prabang gestig en Souvanna Phong is as voorsitter aangewys. Die Pathet-Laos het met sy kragtige organisasie en politieke motivering 'n sterk posisie ingeneem, wat in die voorjaar van 1975 tot 'n finale magsoorname gelei het.
Op 4 Desember 1975 het die Volkskongres van Laos die mag van die koalisieregering formeel oorgeneem en die Demokratiese Volksrepubliek Laos uitgeroep. Hiermee het 'n einde gekom aan die 622-jarige bestaan van die Koninkryk Laos. Die koning Savang Vatthana het die erefunksie van raadgewer tot die nuwe president Souvanna Phong ontvang en die pale is in Luang Prabang ontruim. Souvanna Phouma, wat 13 jaar die premier van Laos was, is benoem tot raadgewer van die regering.
Laos, het 'n bevolking van sowat 6,7 miljoen met 'n bevolkingsdigtheid van 26,7 per km². Die bevolking neem jaarliks met 2,4% toe as gevolg van 'n geboortesyfer van 4,7% en 'n sterftesyfer van 2,3%. Afgesien van onhigiëniese toestande is daar ook beperkte mediese dienste: daar is een hospitaalbed per 1 000 inwoners en een dokter vir elke 73 000.
Die hoofoorsake van sterftes is malaria, griep, diarree, longontsteking en beri-beri (’n siekte wat veroorsaak word deur ’n gebrek aan vitamiene). Die gemiddelde lewensverwagting vir mans is 42 jaar en vir vroue 45 jaar. Die onderwys is nog grotendeels in die hande van Boeddhistiese kloosters. Leerplig is in 1951 ingestel, maar daar is slegs in die vrugbare dale skole en geen beheer kan uitgeoefen word nie. Daar is ongeveer 2 100 skole en 30 opleidingsentrums in die land en sowat 35% van die bevolking kan lees en skryf.
Die enigste universiteit is in Vientiane. Die grootste deel van die bevolking (sowat 88%) woon in dorpies op die platteland. Die res woon in groot stede soos Vientiane, Savannakhet, Pakse en Luang Prabang.
60% van die bevolking is Laos en minder as 2% is van Viëtnamese afkoms. Daarbenewens leef sowat 180 000 Thai in Laos. Die bevolking van Laos bestaan uit ’n verskeidenheid volke wat spruit uit duisende jare van verowerings, onderwerpings en die rondbeweeg van stamme. Ongeveer die helfte van die bevolking behoort tot die Laos-stam, 'n Thai-volk wat veral in die riviervalleie woon en rysbou beoefen, terwyl sowat 40% saamgestel is uit bergstamme wat veral van Suid-Chinese afkoms is. Hulle beoefen 'n primitiewe vorm van landbou en brand soms dele van die oerwoude af om meer grond te bekom.
Belangrike stamme is die Hos, Meos of Hmong, soos hulle hulleself noem, Mans, Khos, Lolos en Yaos. Die Meos-stam is bekend van wee sy strydvaardigheid en die verbouing van opium in die gebied tussen die Rooi- en die Swartrivier. Die Laos noem die minderheidsgroepe Kha (slawe) omdat hulle 'n minderwaardige posisie in die samelewing beklee en feitlik geen ontwikkeling toon nie. Ander minderheidsgroepe is Han-Chinese (ongeveer 35 000), wat hoofsaaklik in die stede woon, Viëtnamese (Annamiete), Indiërs en Europeërs, hoofsaaklik Franse wat hoër geskoolde arbeid verrig, en sedert die Verenigde State se optrede in Viëtnam ook Amerikaanse raadgewers.
Die verskillende bevolkingsgroepe praat ook verskillende tale. Die Yaos praat Lao, 'n Thai-taal en die amptelike taal van Laos. Die Meos, Hos, Khos en Yaos in die noorde van Laos praat Sino-Tibettaanse tale, terwyl die bergvolke Mon-Khmer-dialekte praat. Frans word steeds as voertaal in regerings- en handelskringe gebruik. Wat godsdiens betref, is daar ook geen eenvormigheid in Laos nie. Die Laos is Theravada-Boeddhiste, terwyl die bergvolke oorwegend natuuraanbidders is. Die Theravada-Boeddhisme is 'n vroeë vorm van Boeddhisme en is minder metafisies as later vorme. Die Rooms-Katolieke geloof het sowat 24 000 aanhangers.
Die meeste van die mense praat Lao, 'n Tai-Kadai-taal wat verwant is aan Thai en die amptelike taal van Laos vorm. Frans is die belangrikste lingua franca, gevolg deur Engels.
Theravada-Boeddhisme is die belangrikste godsdiens, gevolg deur klein minderhede soos Satsana Phi en Christene.
Die landbou lewer sowat 90% van Laos se inkomste en bestaan hoofsaaklik uit rysbou in klein, selfversorgende ondernemings. Rysbou word in die Mekongvallei en in die valleie van die talryke syriviere beoefen. Ander landbouprodukte, wat hoofsaaklik in die hoër liggende gebiede verbou word, is mielies, tabak, opium en kardamom ('n spesery). Bosbouprodukte is djatihout, skellak en bensoïne ('n stof wat gebruik word by die vervaardiging van wierook en parfuum).
Die Mekongrivier is ryk aan vis, wat 'n belangrike proteïenbron vir Laos is. Die mynbou in Laos is heeltemal onderontwikkel. Hoewel daar besonder ryk ysterertsafsettings is, word net tin en sout op groot skaal ontgin. Verder is daar aanduidings van die aanwesigheid van koper, steenkool en aardolie. Die nywerheid, wat in die omgewing van Vientiane gekonsentreer is, is hoofsaaklik beperk tot tradisionele bedrywe. Daar is 'n paar moderne ryspellerye, saagmeulens en sigaretfabrieke.
Die res van die produksie word deur ambagslui gelewer. Voorheen is elektrisiteit hoofsaaklik uit Thailand herlei, maar in 1972 is die Nam Hgum-studamkragsentrale aan die Mekongrivier in bedryf gestel. Laos het 'n negatiewe handelsbalans, aangesien sy invoere tussen 25 en 30 keer meer as sy uitvoere beloop. Uitvoerprodukte bestaan hoofsaaklik uit tinertskonsentraat hout, kardamom, opium, koffie en bosbouprodukte. Die Mekong is die belangrikste vervoerroete, maar die rivier is nie heeltemal bevaarbaar nie vanweë stroomversnellings op plekke.
Van die pad net van 7 400 km is slegs sowat 600 km geteer en sowat 3 000 km is gruispad. Die res is stof- of grondpaaie. 'n Pad tussen Vientiane en Savannakhet is met finansiële bystand van die Verenigde State gebou, terwyl 'n pad van 600 km uit die Suid-Chinese provinsie Yunnan tussen Dien Bien Phu en die grens met Thailand aangelê is. Daar is geen spoornet in Laos nie, maar Vientiane kan per trein vanuit Thailand bereik word.