London Borough of Hackney | ||||
Die ligging van Hackney in Groter-Londen | ||||
Politieke status | ||||
Land | Engeland ( Verenigde Koninkryk) | |||
Stigting | 1 April 1965 | |||
Bevolking | ||||
Totaal | 263 200 (Junie 2014)[1] | |||
Volgorde | 61ste | |||
Digtheid | 13 809/vk km | |||
Statistiek | ||||
Oppervlakte | 19,06km² | |||
Volgorde | 321ste | |||
Tydsone | GMT (+0) | |||
Somertyd | BST (+1) | |||
Webtuiste | www.hackney.gov.uk | |||
Wapen en vlag | ||||
|
Hackney, amptelik die London Borough of Hackney, is een van die distrikte in die middestad van Londen met 'n oppervlakte van 18 km² (7,4 vierkante myl) en 'n bevolking van sowat 'n kwartmiljoen. Die distrik, wat net noord van die City of London en Tower Hamlets geleë is en in die ooste deur die River Lea begrens word, het oorspronklik deel uitgemaak van die historiese graafskap Middlesex.
Die huidige stadsdistrik is in 1965 met die samesmelting van drie vroeëre metropolitaanse distrikte (metropolitan boroughs) geskep - Shoreditch, Hackney en Stoke Newington. Dit sluit historiese nedersettings en stadsbuurte soos (van noord na suid) Stoke Newington, Upper Clapton, Lea Bridge, Lower Clapton, Dalston, Homerton, Hackney Wick, Hackney, Kingsland, Haggerston, Hoxton en Shoreditch in.
Shoreditch, 'n stadsdeel wat digby die City of London geleë is, het baie kenmerke van 'n besigheidsdistrik, terwyl die res van Hackney sterk residensiële karakter het, met enkele nywerheidsgebiede soos dié langs die Lea Valley.
Daar is uitgebreide groen ruimtes soos Hackney Marshes, Hackney Downs, Clissold Park, Springfield Park, London Fields en Millfields, terwyl ook die historiese Grand Union Canal deur die distrik loop. Sy gerieflike historiese behuising, sy ligging in die tans vooruitstrewende, maar vroeër minder aantreklike East End van Londen en die nabyheid van die middestad het van Hackney tradisioneel 'n gewilde vestigingsgebied vir opeenvolgende golwe van immigrante gemaak. Etniese minderhede verteenwoordig tans 'n derde van Hackney se bevolking, waaronder 'n groot gemeenskap Afro-Karibiërs. Stamford Hill is 'n tradisionele woonplek van ortodokse Jode.
Hackney is 'n binnestedelike distrik van Groter Londen. Dit is noordoos van die City of London geleë en word deur die London Boroughs of distrikte Tower Hamlets in die suide, Islington in die weste (by Southgate Road), Haringey in die noorde en Newham in die suidooste begrens. Die River Lea vorm die oostelike distriksgrens met Waltham Forest. Die rivierloop was ook die historiese grens tussen die graafskappe Middlesex en Essex.
Hackney Town Hall, die distrik se raadsaal, is sowat agt km of vyf myl noord van Charing Cross geleë, met die St Pauls-katedraal halfpad tussen dié twee bakens, en 6,1 km of 3,8 myl vanaf die Greater London Authority (GLA) se administratiewe hoofgebou naby Tower Bridge.