Mandinka/Malinke | |
---|---|
Mansa Musa se besoek aan Mekka in 1324 met goud het Midde-Oosterse Moslems na Mandinka gelok (Prent uit die Katalaanse atlas van 1375)[1] | |
Totale bevolking: | ca. 35 miljoen (1996)[2] |
Belangrike bevolkings in: | Mali 7 638 988 (50%) Ivoorkus 5 123 420 (21%)[3] |
Taal: | Mandinka, Bambara, Frans, Engels, Portugees, Arabies |
Geloofsoortuiging: | Islam (99%), Animisme (1%) |
Verwante etniese groepe: | Ander Mandé-volke soos Bambara, Dialonké, Dyula, Khassonké en Soninke |
Die Mandinka of Malinke (letterlik: "Mense van Mali") is 'n etniese groep inheems aan Wes-Afrika wat Mandinka as moedertaal praat. Hulle leef veral in die vier lande Burkina Faso, Guinee, Ivoorkus en Mali, maar ook in aangrensende lande soos Gambië, Guinee-Bissau, Liberië, Mauritanië, Senegal en Sierra Leone. In Mali vorm hulle met sowat 50% die grootste etniese groep, in Gambië 42%, in Guinee 28%, in die Ivoorkus 21% en in Burkina Faso 15% van die bevolking.
Die Mandinka is veral bekend vir die Middeleeuse Maliryk (1235–1670), die grootste Afrika-ryk wat ooit in Wes-Afrika bestaan het. Dié ryk het die trans-Sahara-handel van die Magreb na Wes-Afrika met sy sentrum in Timboektoe langs die Nigerrivier beheer. Langs die Mali-ryk se handelsroetes het die Islam van Noord- na Wes-Afrika versprei en 'n belangrike faktor in die alledaagse lewe van die mense geword.
Tydens die Transatlantiese slawehandel is baie Mandinka na die Amerikas gedeporteer, veral die Suidelike Verenigde State, Wes-Indië en Brasilië, waar hulle 'n belangrike faktor van die Kreoolse kultuur geword het. Hulle wit eienaars het weddenskappe op georganiseerde gevegte tussen hul slawe gedoen; uit hierdie sogenaamde "gladiatorgevegte" het vegdanse soos die bekende Capoeira ontstaan. In die Verenigde State het hulle met nasate van ander Afrikavolke gemeng en uiteindelik die Afro-Amerikaners gevorm.