Maravi was ’n koninkryk wat in die 16de en 17de eeu oor die grense van die hedendaagse Malawi, Mosambiek en Zambië gestrek het. Daar word geglo die moderne naam "Malawi" is afgelei van "Maravi", wat "vuurvlamme" beteken.
Toe die staat op sy grootste was, het dit gebiede van die Tonga- en die Tumbuka-volk noord van die Benede-Shire en wes van die Luangwa- en die Zambeziriviervallei ingesluit. Die Maravi-heersers het tot die Mwale-matriargaat behoort en die titel "Kalonga" gehad. Hulle het regeer vanaf Manthimba, die administratiewe hoofstad, en was die dryfkrag agter die staat se stigting. Intussen het die patriargale Banda-clan, wat tradisioneel helers, wysgere en metallurge opgelewer het, die godsdienstige sake vanaf hul hoofstad, Mankhamba, behartig.
Ná kontak met die Portugese het handel in artikels soos krale en porselein toegeneem. In die 19de eeu het die staat begin agteruitgaan en die Maravi's is dikwels deur hul bure die Yao aangeval en as slawe geneem. David Livingstone het die Njassameer in 1859 besoek en Protestantse sendelinge het kort daarna gevolg.
"Maravi" is dus ’n algemene naam van die volke van Malawi, Zambië, Mosambiek en die ooste van Zimbabwe. Chichewa, wat ook Chinyanja genoem word en in Malawi en Zambië en in ’n mindere mate Mosambiek gepraat word, is die belangrikste taal wat in die ryk ontstaan het.