Marie Skłodowska-Curie | |
Geboortenaam | Maria Salomea Skłodowska |
---|---|
Gebore | 7 November 1867 Warskou, Russiese Ryk (tans Pole) |
Oorlede | 4 Julie 1934 (op 66) Passy, Haute-Savoie, Frankryk |
Blyplek | Pole, Frankryk |
Nasionaliteit | Pole (deur geboorte) Frankryk (deur huwelik) |
Vakgebied | Fisika, chemie |
Instelling(s) | Universiteit van Parys |
Alma mater | Universiteit van Parys, ESPCI |
Doktorale promotor(s) | Gabriel Lippmann |
Doktorale student(e) | André-Louis Debierne Óscar Moreno Marguerite Catherine Perey |
Bekend vir | Radioaktiwiteit, Polonium, Radium |
Toekennings | Nobelprys vir Fisika (1903) Davy-medalje (1903) Matteucci se medalje (1904) Elliott Cresson se medalje (1909) Albert se medalje (1910) Nobelprys vir Chemie (1911) Willard Gibbs se toekenning (1921) |
Handtekening | |
notas | Sy is die enigste persoon wat 'n Nobelprys in twee verskillende wetenskappe gewen het. |
Marie Curie (gebore Maria Salomea Skłodowska; 1867-1934) was 'n Poolse natuur- en skeikundige. Sy was 'n pionier op die gebied van elektromagnetiese straling en het twee nuwe radioaktiewe stowwe, polonium en radium, ontdek. Sy is met twee Nobelpryse bekroon en was ook die eerste vrou wat een ontvang het.[1] Marie Curie ontvang in 1903, saam met Henri Becquerel en haar eggenoot Pierre Curie, die Nobelprys vir Fisika[2] en in 1911 die Nobelprys vir Chemie.[3]
Curie is op 7 November 1867 as Maria Salomee Skłodowska in Warskou in Pole gebore. Sy verhuis na Parys om skeikunde en natuurkunde aan Sorbonne te studeer. Sy word daarna die eerste vroulike dosent aan hierdie universiteit. Daar ontmoet sy 'n Franse dosent, Pierre Curie, met wie sy later in die huwelik tree.
In die herfs van 1891 het 'n jong Poolse meisie, Marie Skodowska, uit Warschau in Parys aangekom en haar by die wetenskapfakulteit aan die beroemde Sorbonne-universiteit ingeskryf. Sy was baie arm, en sy het jare lank gespaar om genoeg geld vir haar studie bymekaar te maak.
Maar haar belangstelling in die wetenskap was so vurig dat niks dit kon demp en geen opoffering te groot was nie. In Parys het sy in 'n dakkamertjie gewoon wat winters ysig koud en somers weer verstikkend warm geword het. Soms het sy weke lank net van 'n stukkie brood en 'n bietjie sjokolade geleef. Maar Marie was gelukkig.
Al wat sy van die lewe begeer het, was om al meer en meer van die wetenskap te leer, en in Parys het sy die geleentheid gehad om dit te doen, en om die lesings van sommige van die wêreld se grootste wetenskaplikes by te woon. In dieselfde laboratorium as Marie het 'n geniale jong Franse wetenskaplike, Pierre Curie, en sy broer navorsing in die elektro-fisika gedoen. In 1894 het Marie en Pierre ontmoet. Hul gemeenskaplike belangstelling in die wetenskap het hulle dadelik tot mekaar aangetrek.
Geleidelik het die gevoel verdiep, en agtien maande na die ontmoeting is hulle getroud. So is hulle saamgevoeg tot die beroemde egpaar wat in die geskiedenis van die wetenskap as die Curies bekend staan. Marie en Pierre het twee dogters gehad, Ève en Irène. Marie Curie is op 4 Julie 1934 by Sallanches in Frankryk aan leukemie oorlede. Sy het dit waarskynlik as gevolg van haar werk opgedoen, omdat sy aan groot hoeveelhede bestraling blootgestel is.
In 1895 het Wilhelm Röntgen die bestaan van X-strale bevestig, alhoewel die meganisme waardeur dit vorm, toe nog nie begryp is nie.[4]
Terwyl die Curies in die klein laboratorium van professor Henri Becquerel met hul navorsing besig was, het daar iets merkwaardigs gebeur. Die professor het 'n pakkie uraansout in 'n donker kamer op 'n dig verpakte fotografiese plaat laat lê; later toe hy die plaat ontwikkel, was daar 'n afbeelding van die sout daarop. Becquerel het dadelik vermoed dat die een of ander spontane uitstraling van die uraansout daarvoor verantwoordelik moet wees.
Die professor was bewus van die Curies se bekwaamhede, en hy het hulle gevra of hul nie dalk die saak verder wil ondersoek nie. Marie was dadelik geesdriftig, en sy het haar man ook oortuig dat dit 'n unieke opdrag is. Hulle het hul navorsing met uraan begin, maar toe hulle van die uraanhoudende pikblende gebruik maak, het hulle ontdek dat die uitstraling drie maal sterker is as wat volgens die uraaninhoud verwag sou word.
Marie het dadelik tot die gevolgtrekking gekom dat pikblende ook 'n onbekende element moet bevat. Die Curies het nou al hul ander eksperimente laat vaar om na hierdie nuwe element te soek. 'n Klein pakkamertjie by die fakulteit vir natuurkunde is tot hul beskikking gestel. Dit het hulle in 'n laboratorium verander, en dit was in hierdie eenvoudige geboutjie waar sommige van die groot ontdekkings in die wetenskap gemaak is.
Die Curies het aan die Oostenrykse regering geskryf, verduidelik wat hul voorneme is, en gevra of 'n voorraad pikblende-afval uit Boheme, waar uraansout in die vervaardiging van glas gebruik is, nie tot hul beskikking gestel kon word nie. Binne 'n kort tydjie is 'n ton van die stof voor die Curies se laboratorium afgelaai. Nou het die groot werk begin.
Dag in en dag uit het hulle by die kokende pot pikblende gestaan, wat hulle met 'n lang ysterstaaf omgeroer het. Die verstikkende rook het hul oë en kele gebrand, maar hulle het moedig voortgegaan. Teen die tyd dat die ton pikblende tot omtrent 45 kg verkook was, het die Curies 'n nuwe element afgesonder waarvan die uitstraling 300 maal kragtiger as dié van uraan was. Marie het dit polonium genoem ter ere van haar geboorteland, Pole.
Hulle was egter nog nie tevrede nie, want daar het ʼn stof oorgebly wat nog kragtiger as polonium was, en hulle het van voor af begin. Steeds kragtiger konsentrate is in die pakkamer bewerk, totdat Marie en Pierre eindelik twee jaar na die begin van hul ondersoek die finale produk kon aanskou: 'n klein bietjie ondeursigtige wit stof wat omtrent soos tafelsout gelyk het, naamlik radiumchloried. Hulle het geslaag. Dit het egter nog twaalf jaar geduur voordat Marie Curie en A. Debierne daarin geslaag het om die element radium af te sonder, naamlik in die jaar 1910.
Die Curies het die wêreld van die nuwe element vertel wat twee miljoen maal meer radioaktief (soos Marie Curie dit eerste genoem het) as uraan was. Hul ontdekking is met geweldige geesdrif deur wetenskaplikes begroet. Die egpaar is met eerbewyse en toekennings oorlaai. In 1903 het die grootste eer hulle te beurt geval toe die Nobelprys aan hulle toegeken is. In 1905 is Pierre tot lid van die Franse Akademie verkies, en hy het hoogleraar in die natuurkunde aan die Sorbonne geword.