Menahem Pressler (gebore op 16 Desember 1923, Magdeburg) is 'n Duits-gebore Israels-Amerikaanse pianis.
Na Kristallnacht[1] het Pressler en sy gesinslede in 1939 uit Nazi-Duitsland gevlug.[2] Hulle het hulle aanvanklik in Italië bevind, en toe in die Palestynse Mandaatgebied. Sy grootouers, ooms, tannies, niggies en nefies het almal in konsentrasiekampe omgekom.[3] Sy loopbaan het stoom opgetel nadat hy in 1946 eerste prys tydens die Debussy Internasionale Klavierkompetisie in San Francisco gewen het. Sy Carnegie Hall buiging het hierop gevolg, met die Philadelphia Simfonieorkes onder leiding van Eugene Ormandy.[3]
Pressler[4] gee sedert 1955 by die klavierfakulteit van Indiana-universiteit se Jacobs Musiekskool klas, waar hy as die houer van die Charles Webb Stoel die posisie van buitengewone professor van musiek hou.[5] Sy buiging as kamermusikant het plaasgevind tydens die 1955 Berkshire-fees, waar hy verskyn het as die pianis van die Beaux Arts Trio met Daniel Guilet (viool) en Bernard Greenhouse (tjello).[5] Alhoewel hy 'n junior vennoot in die Beaux Arts Trio by die ontstaan daarvan was, sou hy die enigste oorspronklike lid wees wat vir die geheel van die trio se bestaan, tot die ontbinding daarvan in 2008, gespeel het (welke verskeie veranderinge in lidmaatskap ingesluit het).[6] In 2010 het hy tydens die Rheingau Musik-fees saam met Antônio Meneses, die laaste tjellis van die Beaux Arts Trio, gespeel en in die reeks Rendezvous verskyn.[2]
Pressler het in 2008 tydens die geleentheid van die 70ste herdenking van Kristallnacht na Duitsland teruggekeer.[1] In Januarie 2014 het hy op die ouderdom van negentig jaar sy buiging met die Berliner Philharmoniker gemaak.[7] Sy uitvoering met die Berliner Philharmoniker en Simon Rattle tydens die orkes se 2014 Nuwejaarskonsert was regoor die wêreld uitgesaai. Die Beaux Arts Trio het 'n uitgebreide reeks opnames vir die Philips plate-etiket gemaak.[6] Bykomend hiertoe het Pressler ook kommersiële opnames van solo klaviermusiek vir die La Dolce Volta plate-etiket en Deutsche Grammophon gemaak, lg. synde 'n opname van Franse musiek wat gewy is aan sy metgesel Annabelle Whitestone.[8] Hy het reeds teen die begin van die 1950's oor 'n uitgebreide diskografie van solo klaviermusiek beskik, asook oor 'n uitgebreide klavier - en orkestrale diskografie vir die Amerikaans-gebaseerde plate-etiket MGM.