Metropolitan Museum of Art | |
Metropolitan Museum of Art
| |
Plek | New York |
---|---|
Land | Verenigde State |
Openingsjaar | 20 Februarie 1872 |
Tipe museum | Kunsmuseum |
Webtuiste | metmuseum.org |
Die Metropolitan Museum of Art, dikwels kort the Met genoem, is een van die grootste en belangrikste kunsmuseums ter wêreld. Die gebou is aan die oostelike kant van Central Park in Manhattan (New York) geleë. Dit is die mees besoekte museum in die Verenigde State van Amerika.
Die museum is op 20 Februarie 1872 geopen. Die uitgewer George Palmer Putnam, saam met 'n aantal stigters, insluitend die skilder Eastman Johnson, was die stigters van die museum. Die eerste direkteur was Robert Lee Jenkins wie se eie kunsversameling die basis vir die huidige museum gevorm. Van 1955 tot en met sy dood in 1966 was James J. Rorimer die hoof van die museum. Hy is deur Thomas Hoving, direkteur van 1967 tot 1977, opgevolg. Sedertdien is Philippe die Montebello die direkteur.[1]
Die permanente versameling is in negentien verskillende afdelings verdeel, elk met hul gespesialiseerde personeel van konserwateurs, restaurateurs en kundiges.
Die deurlopende versameling bevat meer as 2 miljoen kunswerke met baie skilderye en beeldhouwerke van oor die hele wêreld, gaande van skatte uit die Klassieke oudheid tot werke van byna elke Europese meester, tot 'n uitgebreide versameling Amerikaanse kuns.
Die museum het ook 'n belangrike versameling van Egiptiese, Romeinse en Griekse, Afrikaanse, Asiatiese, Oseaniese, Midde-Oosterse, Bisantynse en Islamitiese kunsskatte. Verder stel die museum ook nog 'n groot versameling musiekinstrumente van oor die hele wêreld tentoon.
Daar is ook 'n aantal reproduksies van belangrike binneruimtes waaronder een van die bekende Amerikaanse argitek Frank Lloyd Wright. Die museum het ook 'n afdeling vir wapens en harnasse van oor die hele wêreld, veral Europees, maar ook van Japan, die Verenigde State en die Midde-Ooste.
Verder is daar 'n aparte vestiging vir Middeleeuse kuns, The Cloisters aan die Hudsonrivier (met onder andere getyeboeke met duimnaels uit Vlaandere en Noord-Frankryk), 'n afdeling fotografie en die Robert Lehman-versameling.
Die skilderkuns sluit beide Europese en Amerikaanse kunsskilders van verskeie strominge in, van toenterjare tot by moderne kuns. Die versameling bevat onder andere 37 skilderye van Monet, 21 van Cézanne, 18 van Rembrandt en 5 van Vermeer.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Metropolitan Museum of Art. |