From Wikipedia (Af) - Reading time: 2 min

Minitel is 'n Franse voorloper van die huidige Internet, wat as 'n videoteks-gebaseerde aanlyndiens sedert die jaar 1982 deur die Franse poskantoor PTT (Poste, Téléphone et Télécommunications; later France Télécom) aangebied word.
Die diens bied aanlynwinkels, die moontlikheid om treinkaartjies te bespreek, effektekoerse na te gaan, die telefoongids te raadpleeg en ook die eerste geselshoekies.

Minitel word 'n groot sukses in Frankryk, veral nadat die poskantoor die besluit neem om die intekenare van die diens met gratis hardeware te voorsien. Sowat nege miljoen eenhede is tot 1999 aan ondernemings en privaatpersone verskaf, en volgens ramings van France Télécom is daar meer as 25 miljoen gebruikers, of bykans die helfte van Frankryk se bevolking van sestig miljoen mense.
Die gewildheid van Minitel verswak in Frankryk aanvanklik die neiging om na die nuwe Internet oor te skakel. Die intekenare beskik oor 'n goedkope stelsel wat die aankoop van dure rekenaars oorbodig maak. Minitel ken ook geen kompatibiliteitsprobleme ten opsigte van harde- en sagteware nie en is 'n veilige stelsel vir aanlyntransaksies met kredietkaarte- en ander sensitiewe gegewens.
Minitel is 'n passiewe terminaal wat net uit 'n sleutelboord en 'n skerm bestaan en gevolglik ook geen verwerker nodig het nie.
Die ingeboude V.23-modem verskaf oor die telefoonlyn toegang tot alle Minitel-dienste; gegewens kan teen 'n snelheid van 1 200 bis per sekonde afgelaai en teen 75 bis per sekonde opgelaai word. Die gegewens kan egter nie gestoor word nie.
Teks word volgens die videoteks-modus in ag skakerings van grys vertoon; daarbenewens kan ook grafiese voorstellings gebruik en beelde bygevoeg word.

Die Minitel-aanlyndiens wek al vroeg belangstelling in ander lande.