Prehistoriese Grotte van Yagul en Mitla in die Sentrale Oaxacavallei* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Paleis in Mitla met ornamentele velde | |
Ligging van Mitla in Meksiko | |
Koördinate: 16°55′38″N 96°21′34″W / 16.92722°N 96.35944°W | |
Lande | Meksiko |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | iii |
Verwysings | 1352 |
Streek† | Noord-Amerika |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 2010 (34ste Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Mitla is 'n argeologiese terrein in die deelstaat Oaxaca, 44 km oos van die stad Oaxaca de Juárez in die suide van Meksiko.[1] Mitla is sowat 1 480 m bo seevlak en was die belangrikste godsdienstige sentrum van die Zapoteke, terwyl Monte Albán as belangrikste politieke sentrum gedien het. Die naam Mitla is afgelei van die Nahuatlnaam Mictlán wat na die "plek van dood" of die onderwêreld verwys. Sy Zapoteekse naam is Lyobaa wat "plek van rus" beteken. Die naam Mictlán is deur die Spanjaarde tot Mitla gehispaniseer.
Mitla is uniek onder Meso-Amerikaanse nedersettings weens sy uitgebreide en ingewikkelde mosaïekversiering en meetkundige ontwerpe wat grafte, panele, friese en selfs hele mure bedek. Hierdie mosaïeke is gemaak met klein, fyngekapte en gepoleerde klipstukke wat sonder die gebruik van beton of mortel saamgevoeg is. Daar is geen ander argeologiese terrein in Meksiko wat dit het nie.
Mitla was ten minste sedert die Klassieke periode (100–650 n.C.) bevolk, of miskien reeds in 900 v.C. Dit is as 'n versterkte dorpie aan die buitenste rand van die Oaxacavallei gestig en het later tot die belangrikste godsdienstige sentrum van dié gebied ontwikkel. Die Mixteke het die beheer van die gebied rondom 1000 oorgeneem, hoewel die gebied steeds deur Zapoteke bevolk was.[2] Die stad het sy hoogte en grootste uitbreiding tussen 750 en 1521 bereik,[2] met beide Zapoteekse en Mixteekse invloede op sy argitektuur in dié tyd. Mitla is een van die Voor-Colombiaanse terreine wat die Meso-Amerikaanse oortuiging van die dood as mees gevolglike deel van die lewe na geboorte verteenwoordig. Dit is gebou as 'n poort tussen die wêreld van die lewendes en die wêreld van die dooies.
Toe die Spanjaarde in die 1520's Mitla bereik het, het dit steeds as die belangrikste godsdienstige sentrum van die Zapoteke gedien. Die hoëpriester, Uija-tào genoem, het in Mitla gebly, en die Spanjaarde het hom met die pous in Rome vergelyk. Met die Spaanse verowering van die Asteekse Ryk (1521–1523) is die gebied by die Spaanse Ryk ingelyf. Sommige van die terrein se kamers is aansluitend deur Spaanse geestelikes bewoon. Aangesien die terrein groot politieke en godsdienstige betekenis vir die gebied gehad het, is die meeste geboue vernietiging en afgebreek met net 'n paar geboue wat gespaar is. Hierdie vernietiging is in 1553 deur die Aartsbiskop van Albuquerque bevel. Die oorblyfsels is gebruik as boumateriaal vir kerke, insluitende die kerk van Sint Paulus, wat bo-op 'n deel van die ruïnes sit. Die noordekant van die katedraal van Oaxaca toon ook ontwerpeienskappe van Mitla om die nuwe godsdienstige orde te simboliseer.
Die Prehistoriese Grotte van Yagul en Mitla in die Sentrale Oaxacavallei is in 2010 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.