Mos | |
---|---|
"Muscinae" uit Ernst Haeckel se Artforms of Nature, 1904 | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Subkoninkryk: | Bryobiotina
|
Filum | |
Mosse is klein plante wat selde hoër as 10 cm groei. Mos groei gewoonlik in digte trosse of matte in klam plekke of in skaduwee. Dit groei op bome, rotse, vrot hout en grond. Veenmosse versamel in neerslae wat verskeie honderd meter dik kan wees.[1] Mosplante, kom in die meeste landhabitatte voor en kan soms die dominante plantvorm wees.[2] Moskolonies is belangrike elemente van talle ekostelsels, van die toendra tot die tropiese reënwoud. Mosse help om gronderosie te bekamp, water en voedingstowwe op te vang, verskaf beskutting vir mikrofauna en dien as kwekerye vir saailinge.[3]
Mosse het nie blomme of wortels nie en hulle eenvoudige blare bedek dun, draadagtige stingels. Met tye produseer mosse spoorkapsules wat as snawelvormige kapsules kan verskyn wat deur dun stingels omhoog gehou word. Mosse is 'n plantegroep wat 'n belangrike deel vorm van die huidige kennis aangaande die ewolusie van lewe, in sy oorskakeling van water na land. Die groen blaaragtige uitloopsels (gametofiete) behou sommige van die eienskappe van die groenalg-voorouers, maar die naaldagtige uitloopsels wat spore produseer vertoon deurslaggewende vernuwings vir lewe buite water, soos huidmondjies, 'n eenvoudige string geleidende selle en spore wat in 'n enkele apikale kapsule (sporangium) geproduseer en deur die lug versprei word.[3]
Naas blomplante en varings is mosse die mees diverse plantegroep met meer as 10 000 spesies in 700 genera.[4]
Botanies gesproke is mosse nievaatplante. Hulle kan onderskei word in vier groepe[5] wat vandag die status van divisie of selfs fila[6] kry.
Die blaarmosse Bryophyta verskil van die oënskynlik soortgelyke lewermosse (Marchantiophyta of vroeër Hepaticae) en die horingblad (Anthocerotophyta) deur hulle meersellige risoïede.[7] Ander verskille is nie universeel vir alle mosse en alle lewermosse nie, maar die teenwoordigheid van duidelik onderskeibare "stingels" en "blare", die gebrek aan diep gelobte of gesegmenteerde blare en die gebrek aan blare wat in drie range gerangskik is, dui almal aan dat 'n plant 'n mos is.
Die divisie (of filum) Bryophyta het voorheen nie net mosse ingesluit nie, maar ook lewermosse en horingblad. Die ander twee briofietgroepe word nou baie keer in hulle eie divisies (of fila), Marchantiophyta (vroeër Hepatophyta) en Anthocerophyta, geplaas.[8][9]
Mosse word hoofsaaklik in vogtige plekke met lae ligvlakke in baie gebiede in die wêreld aangetref. Mosse is volop in beboste gebiede en op die rante van strome. 'n Paar spesies is geheel en al akwaties, soos Fontinalis antipyretica, en ander soos Sphagnum spp word in moerasse, veenlande en baie stadig bewegende waterweë aangetref. Sulke akwatiese of semi-akwatiese mosse kan baie langer wees as die normale lengtes van mosse wat op droë grond aangetref word. Individuele plante van 20 - 30 cm lank is byvoorbeeld algemeen in Sphagnum spesies. Mosse word ook in krake tussen plaveiklippe in klam stadstrate aangetref. Sommige tipes is baie goed tot stedelike omstandighede aangepas en word wêreldwyd in stede op mure en ander mensgemaakte voorwerpe aangetref. Van die spesies is self bestand teen moderne stedelike probleme soos suurreën.[10]
Waar ook al hulle voorkom benodig mosse vog om te oorleef as gevolg van die klein grootte en dunheid van die weefsel, gebrek aan opperhuid (wasagtige bedekking wat waterverlies verhoed), en die vereiste vir water om bevrugting te bewerkstellig. Party mosse kan uitdroging oorleef en ná 'n paar ure van rehidrasie weer lewendig word.
In suidelike breedtegrade sal die suidelike kante van bome meer mos ophê as elders. Daar word algemeen aanvaar dat dít gebeur as gevolg van die gebrek aan voldoende watervoorsiening vir voortplanting aan die kant van bome waar die son meer skyn. Noord van die ewenaar is die omgekeerde die geval. In digte bosse, waar sonlig nie deurdring nie, groei mosse ewe goed rég rondom 'n boomstam.
Mos word soms as 'n onkruid in grasperke beskou, maar dit word doelbewus in Japannese tuinbou aangemoedig om te groei onder estetiese beginsels. In baie ou tempeltuine vorm mos 'n tapyt in 'n woudtoneel. Een van die beste voorbeelde is die mostuin by Saiho-ji in Kyoto met 120 verskillende soorte mos wat onder die welige bome floreer.[11] Daar word geglo dat mos 'n gevoel van kalmte, ouderdom en stilte aan 'n tuin bring.
Reëls vir die verbouing van mos is nie algemeen gevestig nie. Mosversamelings is baie keer begin deur wilde monsters oor te plant. Dit kan egter baie moeilik wees om sommige spesies weg van hulle natuurlike habitat te onderhou (met die unieke kombinasie van lig, vogtigheid, beskutting van die wind, ensovoorts).
Die groei van mos van spore is selfs meer uitdagend. Mosspore reën voortdurend op blootgestelde oppervlaktes neer – die oppervlaktes wat geskik is vir sekere mosspesies sal tipies binne 'n paar jaar van blootstelling aan wind en reën deur daardie mos gekoloniseer word. Materiale wat poreus is en vog behou, soos baksteen, hout, en sekere growwe betonmengsels is mosgunstig. Oppervlaktes kan ook met suur stowwe, insluitend karringmelk, jogurt, urine, en versigtig fyn gemaakte mos, water en egte heide-kompos voorberei word.
'n Verbygaande gier in die laat 19de eeu het gelei tot die vestiging van mosserye in baie Engelse en Amerikaanse tuine. Die mossery is gewoonlik uit belatte hout gebou met 'n plat dak, oop aan die noorde kant (om skadu te bewaar). Mosvoorbeelde is in die krake tussen die houtlatte geïnstalleer. Die hele mossery is dan gereeld natgemaak om groei te handaaf.
Daar is 'n aansienlike mark vir die versameling van wilde mos. Die gebruik van ongeskende mos is hoofsaaklik in die bloemistehandel, kerskranse en ander tuisversiering. Vergane mos in die genus Sphagnum is ook die hoofkomponent van veen, wat ontgin word beide as 'n grond bymiddel en vir gebruik in die rook van mout in die vervaardiging van Skotse whisky. Daar is toenemende kommer in dele van die wêreld waar die handel aan die groei is dat beduidende omgewingskade deur die aktiwiteite van kommersiële mosoesers aangerig kan word. In Ierland en die Verenigde Koninkryk loop veenlande die gevaar om te verdwyn. Dit neem tot 25 jaar vir 'n veenland wat geoes is om te herstel.[12] In Skotland is veenmos selfs al deur dwelmhandel en ander georganiseerde misdaadbendes versamel vir verkoop aan tuinsentrums met ernstige gevolge vir natuurgebiede in Skotland.[13]
In die Tweede Wêreldoorlog is mos as 'n soort pleister gebruik vir soldate se wonde. Sommige vroeë mense het dit ook as babadoeke gebruik as gevolg van die hoë absorbsievermoë.
In die plattelandse dele van die Verenigde Koninkryk is Fontinalis antipyretica tradisioneel gebruik om brande te blus aangesien dit in groot hoeveelhede in stadigbewegende riviere aangetref kan word en die mos groot volumes water kon bevat wat met die uitdoof van vlamme gehelp het.
Mosse en lewermosse is goeie aanduiders van ekologiese toestande. Sekere watermosse is by voorbeeld goeie merkers vir kalsium en ander voedingstowwe in water. Sommige biofriete groei slegs in spesifieke pH bande en kan dus as 'n meting van grond se pH-waarde gebruik word. Sommige mosse dui weer op die teenwoordigheid van spesifieke minerale. Merceya Mielichhoferia elongata en M. mielichhoferia staan byvoorbeeld as kopermosse bekend omdat hulle in koperryke grond groei. Verder is mosse goeie aanduiders van suurreën en lugbesoedling aangesien hulle meer sensitief daarvoor is as vaatplante.[14]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Bryophyta. |