Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Italië |
Administratiewe gewes | Kampanië |
Koördinate | 40°50′N 14°15′O / 40.833°N 14.250°O |
Stigting | 8ste eeu v.C. |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 117,27 vk km |
Hoogte bo seevlak | 17 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Julie 2018) | 962 495 |
- Bevolkingsdigtheid | 8 207,5/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Burgemeester | Gaetano Manfredi |
Amptelike webwerf | comune.napoli.it |
Napels (Italiaans: Napoli, [ˈnaːpoli], ; Napolitaans: Napule, [ˈnaːpələ]; Latyn: Neapolis; Ou-Grieks: Νεάπολις, letterlik: "nuwe stad") is die grootste en welvarendste stad in die suide van Italië (die Mezzogiorno d'Italia of "Middag van Italië"), geleë teen die noordelike oewer van die Golf van Napels tussen die vulkaniese gebied van die Campi Flegrei in die weste en die vulkaan Vesuvius in die ooste. Napels dien as die administratiewe setel van die streek Kampanië en die provinsie Napels.
Napels en sy omgewing vorm een van die grootste verstedelikte gebiede in Italië, met 'n bevolking van 962 495[1] (soos op 31 Julie 2018). Dit het 'n groter metropolitaanse bevolking van ongeveer 3 085 447 wat van Napels die derde grootste Italiaanse metropool maak – na Rome en Milaan. Die inwoners van die stad staan bekend as Napolitane, napoletani of meer poëties partenopei in Italiaans.
Napels besit 'n indrukwekkende ryk geskiedenis, kuns en kultuur en het selfs 'n eie taaldialek, Napolitaans [Napulitano], wat soveel afwyk van Standaarditaliaans dat sommige taalkundiges dit as 'n taal in eie reg beskou. Napels word deur sy ligging, grootte en atmosfeer beskou as die argetipiese weerspieëling van die lewe in suide van "il bel paese" (die mooi land).
Napels is ook bekend vir sy bydrae aan die kulinêre wêreld. Die eerste pizza kom immers na bewering uit Napels en het ontstaan as verassingshappie vir die toenmalige vrou van die koning, die gelyknamige Margherita. Of miskien kan Napels tot die verbeelding spreek omdat een van die wêreld se mees beroemde vroue, Sophia Loren (gebore Sofia Villani Scicolone), in die krotwyke van die nabygeleë Pozzuoli grootgeword het.
Napels lê aan die westelike kant van die Italiaanse stewel, ten suide van Rome en geleë aan die pragtig beskermde Golf van Napels (Golfo di Napoli). Ten suide van die stad lê die skiereiland van Sorrento en die Amalfikus met die dorpe Amalfi, Positano, Atrani en Ravello. Vanuit die stad kan 'n mens oor die water die vulkaan Vesuvius (Vesuvio) sien, wat bo die ou ruïnes van Pompei en Herculaneum uitstyg. Ook is die eilande Capri, Procida en Ischia te vinde in die Golf van Napels, wat terloops ook te sien is vanaf die hoogliggende dele van die stad. 'n Paar kilometer uit die middestad na die weste toe, is met kronkelende kuspaaie die vingeragtige uitstulpings van Possilipo en Pozzuoli te sien, wat sorg vir merkwaardige uitsigte oor die golf.
Die middestad bestaan uit 'n moderne deel met wolkekrabbers rondom die treinstasie (Stazione Centrale/Piazza Garibaldi) en 'n ouer deel ten weste daarvan wat vanaf die water na bo oor 'n aantal heuwels loop. Hoewel 'n groot deel van die stad nog bestaan uit warrige, vuil, kronkelende straatjies en stegies met eindelose wasgoedlyne en singende Italianers, is 'n groot deel hiervan na die Italiaanse hereniging in 1860 gesloop om plek te maak vir breë boulevards met indrukwekkende palazzi (woonstelle uit die 1800's).
Napels het 'n tipies gematigde mediterreense klimaat met gematigde winters en warm somers. Die reënseisoen konsentreer ditself gedurende November en Desember en dan weer gedurende Maart en April. Die gemiddelde temperatuur tydens die koudste maande is ongeveer 8 °C. Die gematigde klimaat en die skoonheid van die Golf van Napels het in die Romeinse tyd daarvoor gesorg dat dit 'n populêre vakansiebestemming was vir die Romeinse keisers. Sowel keisers Augustus en Tiberius het byvoorbeeld besluit om die eiland Capri as hulle woonplek in te rig.
Napels word ook wel die stad van Parthenope (la città Parthenopea) genoem, wat verwys na die stad se mitiese stigtingsverhaal. Volgens oorlewering, het die Griekse godin van vrugbaarheid, Demeter, die nimf Parthenope, verander in 'n sirene (mitiese half-vrou/half-voël) omdat die god van die onderwêreld vir Persephone, die dogter van Demeter en die god Zeus, ontvoer het terwyl Parthenope haar moes oppas. Gedoem tot verblyf in die kaal grotte van die Golf verwerf sy bekendheid deur niksvermoedende seevaarders na hul dood op die rotse van die omringende gebiede te roep. Dit sou hier gewees het waar moedelose seevaarders aan land gekom het as hulle die bloedstollende krete van Parthenope oorleef het. Ten weste van Napels, in Cuma, is na oorlewering die grot van waar Aeneas in die boek van die Romeinse skrywer Vergilius, na 'n konsultasie met die sibille van Cuma (familie van die orakel van Delfi) die onderwêreld van die god Pluto betree. In Mergellina is dan ook 'n graftombe te vind waar Vergilius na bewering begrawe is.
Napels is een van die oudste stede in Europa en gestig as 'n kolonie deur die Grieke gedurende hulle uitbreiding vanuit Griekeland na die strategies geleë Italiaanse skiereiland. Die ou stad is gestig deur inwoners van die Griekse kolonie Cumae, in waarskynlik die agste eeu voor Christus. Daarom word die nuwe stad Νέα Πόλις - Néa Pólis (nuwe stad) genoem. Neapolis was in die tyd een van die belangrikste stede in Magna Graecia, die Griekstalige suide van Italië en daarmee een van die kulturele voorlopers van antieke Rome.
Napels word in die 4de eeu v.C. min of meer gedwing om 'n bondgenoot van republikeinse Rome te word. Gedurende die periode van die Romeinse Ryk bly Napels 'n belangrike stad, maar word Grieks stadig maar seker verdring deur Latyn, veral deur Latynsprekendes wat in die vele Romeinse kolonies rondom die stad kom woon. Deur die uitbarsting van Vesuvius in die 1ste eeu wat Pompeï verwoes, word Napels ook ernstig beskadig.
In Napels, in die Castel dell'Ovo, word Romulus Augustulus, die laaste keiser van die Wes-Romeinse Ryk, gevange gehou, nadat hy in 476 onttroon word. In die 6de eeu word Napels verower deur die Oos-Romeinse Ryk in 'n poging van keiser Justinianus om die vervalle Romeinse Ryk nuwe lewe in te blaas. Napels word 'n paar jaar later weer verower deur die Lombarde (barbaarse stam uit Noord-Italië). In die 8ste eeu en 9de eeu ly die stad swaar onder aanvalle deur Islamitiese seerowers. Die Wikings kom in dieselfde tyd ook meer gereeld daar aan land. Omstreeks 1000 kry die Wikings dit uiteindelik reg om 'n vaste voet aan die grond in Suid-Italië te behou en brei hulle hul besit daarna uit. In 1039 is Napels die laaste hertogdom wat in die hande van die Noormanne val tydens hulle stigting van die Koninkryk Sisilië. In 1224 stig die Wikingkoning Frederik II in Napels die universiteit.
In 1266 wys Pous Clemens IV die koningskap van die Koninkryk van Napels toe aan die Fransman Karel van Anjou. Hy verskuif sy hoofstad van Palermo na Napels. In 1284 word die Koninkryk in twee dele verdeel, maar albei eien hulself die naam Koninkryk van Sisilië toe.
In 1501 verower die Spanjaarde die koninkryk en in 1734 herkry dit sy onafhanklikheid onder die verligte vors Karel, koning van die twee Sisiliës ('Carolus Rex Utriusque Siciliarum'), wat later koning Karel III van Spanje word.
In 1816, na die Napoleontiese tyd, word die Koninkryk van die twee Sisiliës gevorm. Onder die konings van die huis van Bourbon (Italiaans: Borbone) breek 'n ekonomiese en kulturele bloeityd aan.
In 1860 word daar heelaas met die Bourbons afgereken: Giuseppe Garibaldi, met steun van koning Victor Emmanuel van Savoye (Vittorio Emmanuele di Savoia) val die koninkryk vanuit Sisilië met sy manskappe binne en verower dit. Tydens 'n twyfelagtige volksraadpleging in Oktober 1860 word die definitiewe einde van die koninkryk van die twee Sisiliës aangekondig. Napels is nie meer 'n hoofstad nie en gevolglik stroom baie kapitaal uit die stad uit na die noorde van die pasverenigde Koninkryk van Italië. Deur hierdie ernstige ekonomiese skade word daar ook nie meer in die Napolitaanse nywerhede belê nie. Die industrie in die noorde bloei al hoe meer op wat lei tot massiewe emigrasie van Italiaaners na die noorde met toenemende armoede en werkloosheid in die suide. Tot vandag toe is die driehoek Turyn – Genua – Milaan die ekonomiese hart van Italië terwyl die suide van die land deur die noorderlinge as agterlik beskou word. Uit dieselfde tyd stam die mafia in Napels, die Camorra, wat deur die verval van die stad en die armoede van die inwoners mettertyd meer magtig word.
Op 7 April 1906 bars die Vesuviusvulkaan uit en rig ernstige skade aan in Napels. Dit is die mees onlangse uitbarsting van die vulkaan.
Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945, toe die onderdrukkende fasciste van Benito Mussolini verdwyn het, kon die Camorra sy werksaamhede onversteurd hervat. Die buurt Spaccanapoli in die middestad van Napels, vernoem na 'n smal straat wat hierdie buurt in twee deel, straal nog steeds 'n baie misterieuse atmosfeer uit. Die lewe word hier grotendeels bepaal deur die onderlinge stryd tussen die verskillende mafia-bewegings, wat meestal draai om afpersing en dwelmhandel. Ondanks vele pogings deur die owerheid (onder andere deur die liberale burgemeester Antonio Bassolino in die jare 1990) het tot hede nog niemand daarin geslaag om die Camorra vir eens en altyd te kniehalter nie.
Baie van die disse wat internasionaal as eg Italiaans beskou word het hulle oorsprong in Napels, terwyl die populariteit hiervan nie noodwendig deur alle Italianers gedeel word nie. Die kulinêre tradisie in Italië is nog altyd sterk streekgebonde wat veroorsaak dat bepaalde dinge wat in Napels geëet word, nêrens anders in die land gevind kan word nie, en wanneer dit beskikbaar is, ook nog waarskynlik heeltemal anders voorberei word. Vir die Napolitani is kos een van die grootste vreugdes in die lewe, en dit is byna onmoontlik om nie heerlik te eet tydens 'n besoek aan die stad nie. Kos is oral op straat te vinde, daar is letterlik honderde klein bakkerytjies wat elke dag duisende vars pizzas en borde pasta opdis.
'n Tipiese Italiaanse ete bestaan uit antipasto (voorgereg), primo piatto (pasta/pizza), secondo piatto (vleis/groente), dolci (roomys/koek), koffie en likeur. Deur Napels se ligging aan die Middellandse See en die warm klimaat, word die kos sterk deur hierdie faktore beïnvloed. Daar is byvoorbeeld altyd 'n oorvloed aan seekos aanwesig, hetsy as antipasti (gemarineerde ansjovis, seekatslaai, mossels met swart peper, vars seekos-slaai) of as hoofgereg (spaghetti met klein mosseltjies in die skulp, kabeljou en calamari).
Napels is tradisioneel die tuiste van die pizza. Die enigste egte pizza is volgens die puriste die Margherita, wat sy ontstaan aan die einde van die 19e eeu in die stad gehad het. So eenvoudig moontlik met net tamatie, buffel-mozzarella en basiliekruid. Die kombinasie van groen, wit en rooi, is in 1889 vir die eerste keer opgedis aan koningin Margherita, die vrou van koning Umberto I. 'n Oorspronklike Napolitaan genaamd Raffaele Esposito, het op hierdie manier sy vaderlandsliefde gedemonstreer by wyse van 'n pizza met die kleure van die trotse Italiaanse vlag.
Die mees besondere Napolitaanse gebak is die sogenaamde "sfogliatella" (meervoud:sfogliatelle). Dit is 'n soort koeksister, maar dan gemaak van filodeeg, ryklik gevul met vars ricotta, lemoenskil en kaneel, wat dan vervolgens gebak word in olie. Die ontbyt, oftewel prima colazione, bestaan vir die gemiddelde Napolitaan uit sterk espresso, met 'n sfogliatella of croissant gevul met sjokolade. De babá is 'n soort sponskoek, gedoop in 'n soet sous van rum en stroop.
Napels beskik met die SSC Napoli oor 'n vername sokkerklub in die Italiaanse Serie A. Dit speel sy tuiswedstryde op die Stadio San Paolo wat ook tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1990 vir wedstryde ingespan is. Voor die Tweede Wêreldoorlog het hulle gebruik gemaak van die Stadio Giorgio Ascarelli wat ook tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1934 vir wedstryde ingespan is.
Partenope Rugby is Napels se suksesvolste rugbyklub en hulle het die Serie A twee keer gewen.
In 1995 word die ou stadskern van Napels tot 'n Unesco-wêrelderfenisgebied. Hoewel Napels deur baie beskou word as een van die mooiste stede in Europa, word dit ongelukkig baie vinnig afgeskryf as toeristebestemming en word baie minder besoek as die ander meer bekende Italiaanse stede. Des ondanks is daar 'n magdom van indrukwekkende plekke wat 'n besoek werd is:
Napels staan bekend om sy historiese kastele:
Die eilande Procida, (wat bekendheid verwerf vir die verfilming van Il Postino), Capri en Ischia kan maklik en vinnig bereik word op die goedkoop katamarans en passasiersbote wat gereeld uit de hawe van Napels vertrek. Sorrento en die Amalfi-kus is ten suide van Napels geleë, wat maklik per boot of met die Circumvesuviana trein bereik kan word. Die ruïnes van Pompeji en Herculaneum wat in die jaar 79 n.C. verwoes is tydens 'n uitbraak van Vesuvius, is ook nier ver uit die stad te besigtig nie. Verder is Napels naby aan die vulkaniese gebied bekend as die Campi Flegrei en die hawedorpe Pozzuoli en Baia, wat albei onderdeel was van die uitgebreide Romeinse vlootbasis Portus Julius. Sowel Vesuvius asook die Campi Flegrei is aktiewe vulkane en bedreig die miljoenestad met potensiële uitbarstings.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Napels. |