Nataniël | |
---|---|
Ateljeeportret deur Clinton Lubbe, Nov. 2016 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Nataniël le Roux |
Gebore | 30 Augustus 1962 Grahamstad |
Beroep(e) | Sanger, liedjieskrywer, skrywer, TV-sjef/aanbieder |
Jare aktief | 1987 — hede |
Webwerf | nataniel.co.za |
Nataniël is ’n Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, impresario, satirikus, dramaturg en skrywer. Nataniël het sy loopbaan in 1987 begin met die uitreiking van sy enkelsnit Maybe Time. Sedertdien het hy talle albums uitgereik, oorspronklike teaterproduksies op die planke gebring, en boeke gepubliseer. Hy bestuur ook 'n maatskappy, Kaalkop, wat leefstylware vervaardig.
Nataniël le Roux (beter bekend as Nataniël) is op 30 Augustus 1962 in Grahamstad gebore as die oudste van vier kinders en het twee broers, Ian (’n wiskundeprofessor) en Erik (’n sjef), en ’n suster, Madri (’n geleentheidskoördineerder; getroud met die Suid-Afrikaanse sanger Ike Moriz). Sy pa, Eben, was ’n predikant en omroeper wat later in die vervoerbedryf gewerk het, en sy ma, Marie, was ’n onderwyseres. As gevolg van sy pa se beroep verhuis hulle baie en woon onder meer op Riebeek-Kasteel, Porterville en in Kuilsrivier in die Kaap. Vanaf standerd twee is hy in die laerskool op Porterville en matrikuleer in Kuilsrivier. In sub B begin hy met klavierlesse en op skool speel hy reeds orrel in die kerk.
Na skool studeer hy musiek aan die Konservatorium van die Universiteit van Stellenbosch, maar staak sy B.Mus.-studies in sy derde jaar. In hierdie jaar (1983) begin hy met sy eie sang- en voordragopvoerings en raak bekend as vermaaklikheidskunstenaar wat gereelde opvoerings van sang en voordrag lewer. Aanvanklik is hy 'n konsertpianis en musiekdirekteur, maar na sowat drie jaar begin hy voltyds sing. In 1987 stel hy reeds sy eerste opname “Weird people” vry en maak daarna nog verskeie CD’s.
Omdat gevestigde agente en regisseurs hom ignoreer, begin hy sy eie opname- en publisiteitsmaatskappy, Nataniël House of Music. Hierna bou hy ’n kultusgevolg op en sy vertonings is feitlik altyd totaal uitverkoop. Hy bied ongeveer twee totaal nuwe vertonings elke jaar aan, waarvoor hy heeltemal nuwe musiek en monoloë skryf en splinternuwe uitrustings laat maak. By geleentheid tree hy ook in die Royal Albert Hall in Londen op. Twee van sy operas en verskeie ander komposisies van hom word deur die Stellenbosch Konservatorium opgevoer en opgeneem. Aanvanklik is hy ’n kabaretkunstenaar, maar hy brei algaande sy repertoire uit om soul, blues en selfs die klassieke en jazz in te sluit. In 2010 word hy by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees as beste manlike kunstenaar benoem vir sy vertoning “Nataniël – Die een konsert”.
Benewens sy eie solo-opvoerings skryf hy ook dramas en opvoerings vir ander. Hy behartig die rubriek “Kaalkop in Sarie” vir die tydskrif Sarie, maak verskeie optredes op televisieprogramme, bied ’n kookkursus aan en loods sy eie klerereeks. Vir KykNET bied hy die kosprogram “Die Nataniël Tafel” aan. Hy besit leefstylwinkels in Pretoria onder die naam Kaalkop Studio. In 2012 word hy ’n vennoot in Hardie en Abraham Laubscher se wynkelder, Altyd Lig, buite Kuilsrivier. Die wyne dra sy naam, soos die Nataniël Sauvignon Blanc, die Nataniël Rosé en die Nataniël Shiraz.
Sy naam word ook toenemend aan kinderwelsyn gekoppel en hy word aangewys as ambassadeur vir Kindersorg in Suid-Afrika. Hy stig ook sy eie liefdadigheidsorganisasie, die Nataniël Progress Project. Aanvanklik bly hy in Kaapstad, maar verhuis dan vir ’n ruk na Johannesburg, waarna hy op verskeie plekke in Pretoria woon voordat hy ’n huis in Irene in Centurion aanskaf.
Sy vertonings sluit in[1] “Combat” in 2011, waarin hy die tema van die uniform ontgin en die respek of vrees wat die draer daarvan ontlok. Ander aspekte wat hy aanspreek is die verskillende beroepe van uniformdraers en die mag, korrupsie, seksuele aantrekkingskrag, versoeking en skoonheid daarvan. Daar word ’n rolprent van “Combat” gemaak wat op die kringloop vertoon word en later ook op DVD uitgereik word. Hierdie stuk word ook in 2012 vir sewe Naledi-toekennings benoem en hy word eindelik bekroon vir beste optrede deur ’n man in ’n musiekspel, terwyl die spel ook die toekenning vir beste kostuumontwerp wen. Met “Black White Man Woman” van 2012 neem hy die sensus van 2011 as beginpunt om die oorklassifikasie van alles en almal op te stuur. “Pop-up!” wat onder andere in 2013 in die Centurion-teater opgevoer word, is ’n opvoering wat geïnspireer is deur die verwaarloosde kuns van die maak, stuur en ontvang van groetekaartjies. “fACTORy” open by Emperors Palace in Februarie 2013. Die klem op akteur in die skryfwyse van die titel dui aan dat die akteur in die middel is van die “fabriek” waar goed verander word in iets wat dit nie regtig is nie. Die opvoering stel die vraag of die mens onvolledig in die wêreld kom of onvolledig is as gevolg van die wêreld. “Jeffery and the Cold Feet” debuteer in 2014 en is saamgestel uit liedjies en verhale oor onbeantwoorde liefde, geheime passies, aaklige troues en liefdesteleurstellings. “Rainbow at midnight” (2014) is ’n vertoning oor selfverbetering, gebaseer op die reisende karnavalle uit die Victoriaanse tydperk. “After animals” debuteer in 2015 en is ’n stuk wat in die nabye toekoms afspeel, met die voortgesette uitwissing van diere die onderwerp. “How moon got her name” (2015) is ’n fantasie-verhaal wat afspeel in ’n rustelose tuin.
Hy publiseer verskeie van sy werke. In “Excuse me”,[2] “Oopmond”,[3] “Rubber”[4] en “Tuesday” bundel hy sketse en stories in Engels en Afrikaans wat hy meermale reeds in sy vertonings gebruik het. Sy verhale het telkens ’n sprokiesagtige element en spreek die kollektiewe onbewuste aan, met humor as die bindingselement. Telkens is die onderwerpe ook van so ’n aard dat dit subtiel sosiale kommentaar lewer en ’n spieël ophou waarin die lesers (hoorders) hulleself kan herken. Onderliggend aan die stories is meestal ook ’n tragiese element, wat dikwels in die lewendige vertonings verlore gaan omdat die gehoor nie daarop ingestel is nie. Die sketse en stories werk egter merendeels nie so goed op papier as wanneer dit met sy unieke vertelstyl voorgedra word nie.[5] “Maria Maria”[6] bevat stories uit sy vertonings van “The last witch”, “Pie Jesu”, “La Mano Fria”, “Violet”, “Slow tear” en “Stone shining”. “Dancing with John”[7] is die teks van sy tweetalige kabaret met dieselfde naam en bevat ook ’n aantal foto’s uit die verhoogproduksie. ’n Jongman besluit om sy verlore skoolvriend te gaan opsoek en dit is die verhaal van sy reis deur Suid-Afrika.[8] “When I was” is ’n versameling van voorheen ongepubliseerde verhale, waarvan sommiges aangepas is uit sy verhoogproduksies. Dit beslaan ’n magdom temas op sy unieke manier, wat dinge soos buitestanderskap, versugting, hunkering, verydelde drome en kleindorpse benepenheid dek. “Nicky & Lou” bevat 46 stories wat gebaseer is op vertonings wat hy sedert 2007 aangebied het.[9] “150 Stories” is ’n keur van verhale uit al sy vorige bundels en dit bevat ook tien stories wat nie voorheen gepubliseer is nie. Kenmerkend van die verhale is die absurde aard daarvan, vol van die unieke kwinkslae en eiesoortige humor wat hom beroemd gemaak het. Hy ontvang twee Dalro-toekennings, naamlik vir “Work of Art” in 1990 en vir “Dancing with John” in 1991.
Benewens die tekste vir sy eie vertonings, skryf hy ook die verhoogtekste vir “Head on” (vir Lydia von Hagen in 1994), “Bulldozer” (vir Anna Rossouw in 1994), “In glass” (vir Elsabé Zietsman in 1995) [10] en “Boom!” (vir Lizz Meiring in 1996). “Boom!” is ’n Gotiese komedie, waarin die sopraan Babson die hoofkarakter is. Eens het sy mense in die operahuise van New York, Milaan en Wene vermaak, nou is haar gehore die inwoners van die onderdorp in ’n plaaslike plattelandse dorpie. Onder hulle is nuuskierige kinders, haar skisofreniese ouer suster Bekka en dié se man Willem, ’n polisieman. Die tragikomiese geskiedenis van die twee armblanke-dogtertjies met hulle hemelse stemme word dan vertel. Een word ’n operaster en die ander bly agter. Babson onderbreek haar wêreldtoer om die pa te help begrawe en die ma in haar siekte by te staan, maar daar is net plek vir een suster op die werf. Die stuk is deurspek met satire en fyn spot met sommige Afrikaanse tipes en hul houding jeens kuns en andersoortigheid. Die teks van “Swanemeer: Die ware verhaal”, wat in 2010 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer is, word benoem as beste debuutwerk.
In “Kaalkop”[11][12] [13] en “Kaalkop²” bundel hy ’n keur uit sy gelyknamige rubriek wat in die tydskrif Sarie verskyn, asook kortverhale en ’n aantal resepte. Verskeie kookboeke verskyn ook uit sy pen, die resepte telkens afgewissel met stories, onthaalwenke en verklarings van kookboek-terminologie. Hierdie boeke sluit in “Nataniël kook”, “Die Nataniël-kombuis”, “Food from the White House”, “Gatherings” en “Die huis van rye”.[14][15][16]
Weens sy voorliefde vir wit klere vernoem De Leeuw Roses in Bronkhorstspruit ’n nuwe wit roos-variëteit wat hulle kweek na hom. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees vereer hom in 2014 met die Afrikaans Onbeperk-prys vir vernuwende denke, ’n prys wat toegeken word aan ’n individu wie se Afrikaanse skryfwerk in die algemeen as vernuwend en grensverskuiwend beskou kan word.
Jaar | Publikasies[17] |
---|---|
1990 | Excuse me |
1992 | Dancing with John |
1993 | Oopmond |
1994 | Nataniël kook |
1996 | Die Nataniël-kombuis |
Rubber | |
1999 | Maria Maria |
2001 | Tuesday |
2002 | Food from the White House |
2004 | Kaalkop |
2006 | Kaalkop Joernaal |
2008 | Kaalkop² |
When I was | |
2009 | Gatherings – a year of invitations |
2011 | Nicky & Lou |
2012 | Kaalkop³ |
2014 | 150 Stories |
2016 | Zip! |
2018 | Die Edik van Nantes Kookboek |
2019 | Look at me (Recollections of a childhood) |
Kyk na my (Herinneringe aan ’n kindertyd) | |
2020 | Dik Dun Thick Thin |
(LPs) | |
1988 | Weird people |
1989 | Work of Art |
(CDs)[18] | |
1993 | Recital |
1994 | Dying for Master |
1995 | The Wallflower |
1996 | The cover concert |
The diva divine (met Mimi Coertse) | |
1997 | Portfolio |
1998 | Slow tear |
2000 | Fall |
2002 | Dance ’til I Break |
2003 | Will he weep |
2005 | Fashion |
2006 | Act One |
2007 | I wear white |
2009 | Act Two |
2010 | Oh![19] |
2013 | Factory (Live at Emperors Palace)[20] |
2014 | Moodswing (Nataniël on Stage)[21] |
2017 | One Day in a Castle[22] |
Verhoogoptredes[23] | |
1983 | Nataniël joins the piano |
1984 | The purple pavane |
1988 | Weird people |
1989 | One life |
1990 | Work of art |
Summertime | |
Face lift | |
After dark horror show | |
Crazy | |
1991 | Dancing with John |
How to faint and cry | |
1992 | Paradise |
Naked | |
Untitled | |
1993 | White soul |
Spider | |
Mary and the others | |
1994 | Dying for master |
The Nataniël show | |
Sweat | |
1995 | The wallflower |
1996 | Doom-da-da |
The last witch | |
Pie Jesu | |
1997 | La Mano Fría |
1998 | Violet |
Slow tear | |
Stone shining | |
Word from Ben | |
2000 | Moments with Venus |
Wax | |
N Solo | |
Eleven ladies | |
2001 | Claude Bummel |
The spring collection | |
2002 | My brother Fonzo |
Soul, swing & stories | |
2003 | Finding Gabriel |
Santa Maria | |
Soul, swing & sugar | |
2004 | Walking with wizards |
The ladies of my life show | |
Songs of saints | |
2005 | My name is Diamond |
The London concert | |
Of heartbreak & hope | |
2006 | The Moses machine |
2007 | The Hong Kong kiss |
Predicting snow | |
2008 | Men who fly |
Egg whites & angel food | |
2009 | Coronåtion |
Room for dessert | |
Winter show | |
2010 | Cathedral |
Songs for August | |
Knowing your microwave and other magical moments | |
2011 | Combat |
Ryk Neethling doesn't talk to me | |
2012 | Nataniël & other blossoms |
Weeksaand Las Vegas | |
Black white man woman | |
Seven loud people | |
Pop-up! (2012) | |
2013 | Honeybee |
fACTORy | |
Moodswing | |
Glittergun for ceilings – comes with cartridges | |
N People (2013) | |
2014 | Menopouse en ander gloede |
Rainbow at midnight | |
Jeffrey and the cold feet | |
2015 | Die maak van ’n jas |
Prophets & painkillers | |
After animals | |
How moon got her name | |
2016 | Mannequin |
2018 | The Love Collection |
Messenger | |
Classic Nataniël | |
2019 | Anthem |
When Giantz Waltz | |
Lily Refuses To Listen | |
Musiekvideo's | |
1988 | Weird people |
One life | |
Dis te laat | |
Spook | |
Roses and Jazz | |
Bat | |
Maybe we still believe | |
Juice | |
Moon Jazz | |
Now I can die | |
Slow tear | |
None of Them | |
In Ev’ry Star | |
Hopeless Hand | |
Gold | |
Diamond | |
2005 | Fashion |
2019 | 100 Years |