Die Omo-oorblyfsels is ’n versameling Hominini-bene wat tussen 1967 en 1974 by Omo Kibish naby die Omorivier in Suidwes-Ethiopië ontdek is.[1] Die bene is ontdek deur ’n span van die Keniase Nasionale Museums onder Richard Leakey en ander.[2]
Die oorblyfsels van Kamoya Kimeu se Hominini-terrein (KHS) is Omo I genoem en dié van Paul I. Abell's se Hominini-terrein (PHS) Omo II.[3]
Die bene sluit in twee gedeeltelike skedels, vier kakebene, ’n been uit ’n ledemaat, sowat tweehonderd tande en verskeie ander dele.[1] Al die spesimens word geklassifiseer as anatomies moderne mense (Homo sapiens), maar verskil van mekaar wat morfologiese eienskappe betref. Die Omo I-fossiele toon moderner eienskappe, terwyl studies van die Omo II-oorblyfsels dui op ’n paar primitiewe eienskappe. Die fossiele kom uit ’n laag tuf, tussen ’n laer, ouer geologiese laag en ’n hoër, nuwer laag.[3] Hulle is in dieselfde laag ontdek.[3][4][5]
Weens die min diere-oorblyfsels en klipartefakte wat op die terreine ontdek is, is die oorblyfsels se ouderdom onseker.[2] In 2008 is nog bene in dieselfde laag ontdek: ’n tibia en fibula.[6]
Dele van die fossiele is van die vroegstes wat deur Leakey as Homo sapiens geklassifiseer is. In 2004 is die geologiese lae om die fossiele gedateer, en daar is bepaal dat die Kibish-fossiele ouer as 195 000 jaar is.[7][3] Vir ’n ruk was dit die oudste bekende fossiele wat as H. sapiens geklassifiseer is. (Die Florisbad-skedel is ouer, maar sy klassifikasie as H. sapiens is destyds betwis.) Intussen is ander oorblyfsels, soos die Florisbad-skedel, as ouer gedateer.[8][9]