'n Oog of fonteinoog is dikwels die sinoniem vir 'n natuurlike fontein of ondergrondse waterbron. Dit kan die opening wees waardeur die fontein sy water uitstoot, waar die ondergrondse water uitborrel of uitvloei of die oorsprong waaruit 'n rivier ontspring.[1][2] Hierdie gebied waar die oog voorkom sluit oor die algemeen vlaktes en moerasse in.[3]
Die gebruik van "oog" om na 'n fontein te verwys, kom nie in Nederlands, Engels, Duits of Frans voor nie. Die leenvertaling "eye" en die leenwoord "oog" kom albei wel in Suid-Afrikaanse Engels voor, onder die invloed van Afrikaans.[4] In Suid-Afrika vind mens onder meer die name Die Oog in Kuruman, Molopo Oog Natuurreservaat (naby Mahikeng) en "Malmane Oog" (nou Malmane Eye) tussen Lichtenburg en Ottoshoop.[5] Die -oog in Schiermonnikoog aan die noorde van Nederland het niks met die oogvormigheid uit te waai nie; dit is gewoon etimologies dieselfde as die ei in eiland en oy in die Nordiese tale.
Volgens Van Wyk het die betekenisverruiming van "oog" in Afrikaans self ontwikkel.[6] In Afrikaanse Etimologieë deur Boshoff en Nienaber word vermeld[7] die begrip is reeds so opgeneem in die Sweed Hendrik Jacob Wikar se Berigt van 1779, maar "o.a. ook in Boesmans en Maleisies".
Wikar het as soldaat by die VOC aangesluit, maar in 1773 'n klerklike posisie beklee, wat toon dat sy taalgebruik (Kaaps-Hollands) na wense was. Hy het weens sy dobbelskuld gedros en die binneland ingevaar, waar hy sy wederervaringe langs die Oranjerivier (Gariep, of Grootrivier), en die ontmoeting met drie Khoekoestamme opgeteken het (om later as verslag voorgelê te word om deur Baron Van Plettenberg begenadig te word en na die Kaap terug te keer).[8] In hierdie Berigt staan daar:[9]
Maar als ik haar vroeg of zy de beginzel of de oog wisten waar de rivier uyt komt, vroegen ze my of ik ook de end van de lugt wist aan haar te beduyden.
|
Afrikaans is inderdaad nie al taal wat van "oog" gebruik maak nie.
In Toponymica Hottentotica word vermeld hoe die frekwensie-opname toon dat die aanwesigheid van water die vernaamste toponimiese motief is en onomastiese prikkel was, omrede die Khoekhoen se leefruimte oor die algemeen maar dor en droog was, met 'n baie lae reënvalsyfer en min standhoudende bo-aardse water. Ook die agtervoegsel -moeb of -moes (wat van streek tot streek anders uitgespreek word), beteken "oog", byvoorbeeld Awamus ("Rooioog") en Keimoes ("groot oog" > groot fontein)[10]. Ander name in Toponymica Hottentotica sluit in: Amub, Animub, Animuchab(rivier), Daimub, Dymoeb, Garimuas, Garramoes, Geimusis, Haramoep, Hoamus, Kaaimoes, Kaimus, Khoromus, Kunemus, Namus(kluft), Namus(berge), Naramoep, Nigramoep en Umub.[11]
In Maleisies is daar mata air vir fontein of bron, wat letterlik "wateroog" beteken[12], waarvan daar ook spore te vinde is in die Malgassiese "maso" (oog) in "mason-drano" (letterlik "wateroog"; die betekenis wissel tussen fontein(opening), reservoir of rivierbedding)[13][14][15]
In die Suid-Amerikaanse Spaans bestaan die begrip "ojo de agua"[16], wat ook fontein beteken en veral in Mexiko en Argentinië as pleknaam dien. Sowel in Portugal as Brasilië is daar plekname wat "Olho-d'água" toebedeel is. En Katalaans gebruik by geleentheid "ull (d'aigua)".[17]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Portugese Wikipedia vertaal. |