Sjimpansees en bonobo’s | |
---|---|
Lede van die genus Pan: ’n sjimpansee (links) en ’n bonobo. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klas: | Mammalia |
Orde: | Primates |
Suborde: | Haplorhini |
Infraorde: | Simiiformes |
Familie: | Hominidae |
Subfamilie: | Homininae |
Tribus: | Hominini |
Subtribus: | Panina |
Genus: | Pan Oken, 1816 |
Tipespesie | |
Pan troglodytes Blumenbach, 1776
| |
Spesies | |
Die verspreiding van Pan troglodytes (sjimpansee) en Pan paniscus (bonobo, in rooi). |
Die genus Pan bestaan uit twee lewende spesies: die sjimpansee en die bonobo. Taksonomies word dié twee aapspesies saam die paniene genoem,[1][2] maar in niewetenskaplike taal word gewoonlik na albei saam as die "sjimpansee" verwys. Saam met die mens, gorilla en orangoetang is hulle deel van die familie Hominidae (die groot ape, of "hominiede").
Sjimpansees en bonobo’s is inheems aan Afrika suid van die Sahara en word albei in die Kongowoud aangetref, terwyl net die sjimpansee ook verder noord in Wes-Afrika voorkom. Albei spesies is bedreig volgens die IUBN-rooilys en in 2017 het die Bonn-konvensie oor bedreigde spesies die sjimpansee gekies vir spesiale beskerming.[3]
Die sjimpansee (P. troglodytes), wat noord van die Kongorivier voorkom, en die bonobo (P. paniscus) wat suid daarvan hou, is in die verlede as een spesie beskou, maar sedert 1928 word hulle as aparte spesies gereken.[4] Daarbenewens is P. troglodytes in vier subspesies verdeel, terwyl P. paniscus geen subspesies het nie. Gebaseer op genoom-volgordebepaling het die twee spesies omtrent ’n miljoen jaar gelede van mekaar geskei.
Die ooglopendse verskil is dat sjimpansees effens groter en aggressiewer as bonobo’s is en hulle word deur mannetjies oorheers, terwyl bonobo’s vreedsamer is en deur wyfies oorheers word. Hulle hare is gewoonlik swart of bruin. Die voorkoms en grootte van mannetjies en wyfies verskil. Albei spesies is sosiale groot ape, met sosiale bande in groot gemeenskappe. Vrugte is die hoofbestanddeel van ’n sjimpansee se dieet, maar hulle sal ook ander plante, boombas, heuning, insekte en selfs ander sjimpansees of ape eet. Hulle kan in beide die natuur en gevangenskap langer as 30 jaar lewe.
Sjimpansees en bonobo’s is albei die mens se naaste lewende verwante. Hulle het van die grootste breine en is van die intelligentste primate. Hulle gebruik 'n verskeidenheid gesofistikeerde gereedskap en skep elke nag ingewikkelde slaapnette uit takke en blare. Hulle leervermoëns is goed bestudeer. Daar kan selfs aparte kulture in bevolkings voorkom. Studies van Pan troglodytes is veral deur die primatoloog Jane Goodall geïnisieer.
Albei spesies van Pan word as bedreig beskou, want menslike bedrywighede het verskeie afnames in die bevolkings en habitats van albei veroorsaak. Bedreigings vir panienbevolkings in die natuur sluit in wilddiefstal, habitatverwoesting en onwettige troeteldierhandel. Verskeie rehabilitasie- en bewaringsorganisasies is behulpsaam met die oorlewing van Pan-spesies in die natuur.
Die genus Pan is deel van die subfamilie Homininae, waartoe die mens ook behoort. Die lyne van die sjimpansee en mens het 5 tot 12 miljoen jaar gelede geskei tydens 'n proses van spesievorming,[5] en sjimpansees is die mens se naaste lewende verwante.[6] Navorsing deur Mary-Claire King in 1973 het aangedui 99% van die DNS van mense en sjimpansees is identies.[7] Meer onlangse navorsing het dié klein verskil van sowat 1% – 1,2% herbevestig.[8][9]
Die sjimpansee se arms is langer as sy bene. Die manlike sjimpansee is sowat 1,2 m lank as hy regop staan. Manlike sjimpansees weeg tussen 40 en 60 kg[11][12] en wyfies tussen 27 en 50 kg.[12] Wanneer hulle arms na die kante uitgestrek is, is dit een en ’n half keer die lengte van die lyf.[4] Die bonobo is effens korter en skraler, maar het langer ledemate. Albei spesies klim boom met hulle lang, sterk arms; op die grond loop sjimpansees gewoonlik op hulle kneukels. Die bonobo loop meer dikwels regop as die sjimpansee.
Die sjimpansee het nie ’n stert nie. Sy hare is donker en sy gesig, vingers, handpalms en voetsole het nie hare nie. Die ontblote vel aan die gesig, hande en voete wissel van pienk tot baie donker in albei spesies, maar is gewoonlik ligter in jong individue. In ’n studie deur die Universiteit van Chicago se mediese sentrum is bevind daar is aansienlike genetiese verskille tussen sjimpanseebevolkings.[13]
Die sjimpansee se brein is gewoonlik tussen 282 en 500 cm3 groot.[14] Die mens se brein is in teenstelling omtrent drie keer so groot, met ’n gemiddelde van sowat 1 330 cm3.[15]
Sjimpansees bereik puberteit tussen agt en tien jaar oud. ’n Sjimpansee se testikels is ongewoon groot vir sy liggaamsgrootte, met 'n gesamentlike massa van sowat 110 g, in vergelyking met 'n gorilla s’n van 28 g en 'n mens s’n van 43 g.[16][17]