'n Parkade (ook bekend as 'n parkeergarage) is 'n gebou of gedeelte van 'n gebou wat parkeerplek aan motors verskaf.
Die eerste publieke parkeergarage in die VSA is op Mei 24, 1899 geopen in die stad Boston, Massachusetts.
Sedertdien het die behoefte aan parkering vir fietse aanleiding gegee tot die vestiging van parkeergeboue vir hierdie vervoermiddel. Die owerheid in Amsterdam, Nederland het bv. by die sentrale treinstasie, onderwater twee glimmende nuwe fietsmotorhuise weerskante van die stasie - een in die rivier en die ander in die hawe - met plek vir ongeveer 11 000 fietse ingerig [1].
Die nuwe motorhuise by Amsterdam Centraal Station is gratis vir 24 uur en is ontwerp om die 50% van pendelaars te bedien wat per fiets aankom.
Die konsep is oorspronklik daarop gerig om publieke motorvoertuigverkeer te konsentreer na sentrale gebiede in stedelike sentra. Parkeerplek langs strate in die sentrale sakegebied van groter dorpe en veral, stede, het met die toename in motorvoertuigverkeer mettertyd te min geraak. Plaaslike owerhede moes 'n plan bedink om verkeer doelmatig in sentrale sakegebiede te huisves. Die parkeergarage word ondergronds of bogronds opgerig, of in kombinasie bo- of ondergronds. Die multivlakstruktuur van versterkte betonblaaie wat op pilare rus, is onderworpe aan streng ontwerpvereistes, omdat ontsaglike massas (voertuie) deur die verskillende vlakke gedra moet word.
Uitgang vir passassiers word verleen deur loopgange, hysers en trappe wat skakel met aangrensende kantoorblokke of winkelsentra, of wat bloot net op straatvlak uitmond in die voetgangerverkeer op sypaadjies.
Met die koms van moderne sakesentra, waar verskeie spesialiteitswinkels gekonsentreer word in 'n een-stop inkopiesentrum, is die voorsiening van parkering van primêre belang. Die konsep van parkeergarage word hier in sy mees veelsydige vorm aangetref, waar die verbruiker feitlik tot op die voorstoep van die winkel of kantoor waar hy goedere en dienste aankoop, geneem word. Soortgelyke parkeergeriewe word op groot skaal by groter lughawens ingerig.
Parkeergarages het unieke eienskappe wat ook tot verkeersprobleme aanleiding gee. 'n Goeie voorbeeld ontstaan tydens spitsverkeerstye, wanneer absorbering van verkeer nie vinnig genoeg plaasvind nie, of wanneer die garage kapasiteit bereik het.
Toegang word verleen deur die outomatiese (elektronies-beheerde) uitreik van 'n parkeerkaartjie.
Parkering is 'n tydverwante aktiwiteit. In die tipiese parkeergarage word daarom 'n tydgebaseerde fooi gehef vir hierdie gerief. Aanmoediging tot kort besoeke word gevind in die gratis aanbod van staanplek, gewoonlik beperk van dertig tot sestig minute. Vir enige langer staantyd word gelde gehef teen 'n glyskaal per interval van bykomende dertig tot sestig minute.
Betaling van die fooi geskied gewoonlik deur 'n outomatiese (elektronies-beheerde) muntoutomaat. Skandering van die parkeerkaartjie vind plaas, die korrekte fooi word aangevra en betaal en die parkeerkaartjie word gemerk om die besoeker in staat te stel om die parkeergarage te verlaat.
In sommige parkeergarages word ontruimingsbeheer steeds uitgeoefen deur beamptes wat nog nie deur die koms van outomatisasie van die arbeidsmark uitgeskakel is nie.
Ander personeel verrig onontbeerlike verkeersbeheer wanneer outomatiese prosesse deur bv. kragonderbreking in die wiele gery word.