Raiatea Inheemse naam: Ra'iātea | |
---|---|
Raiatea uit die lug gesien. | |
Geografie | |
Ligging | Stille Oseaan |
Koördinate | 16°49′S 151°27′W / 16.817°S 151.450°W |
Argipel | Geselskapseilande (Frankryk)
|
Hoogste punt | Berg Tefatua, 1 017 m |
Administrasie | |
Sien teks. | |
Franse oorsese gebied | Frans-Polinesië
|
Hoofstad | Uturoa[1] |
Grootste stad | Uturoa (3 778)
|
Demografie | |
Bevolking | 12 545[2]
|
Die eiland se amptelike taal is Tahitiaans. |
Raiatea (Tahitiaans: Ra'iātea) is naas Tahiti die grootste eiland van die Geselskapseilande in Frans-Polinesië in die Stille Oseaan. Dit word algemeen bskou as die "middel" van die oostelike eilande in antieke Polinesië, en die georganiseerde migrasie na Hawaii, Aotearoa en ander dele van Oos-Polinesië het waarskynlik hier begin. ’n Tradisionele naam vir die eiland was vermoedelik Havai'i.
Aan die suidooskus is die historiese Taputapuatea-marae, wat van 1000 n.C. dateer. Dit word genoem in die tradisies van die Polinesiese volke, insluitende die Maori van Nieu-Seeland, wat dit beskou as ’n heilige marae van hul voorouers.
Die hoofdorp van die eiland is Uturoa, die administratiewe sentrum van die Benedewindse Eilande. Raiatea se kolleges is die vernaamste sentrum vir sekondêre skole van die omringende eilande soos Bora Bora, Tahaa, Huahine en Maupiti.
Die Tahitiaanse spelling van Raiatea is Ra'iātea, wat "helder lug" beteken; die transkripsie Ulieta is in die 19de eeu algemeen gebruik.
Die uitgestorwe Ulieta-voël en ander onbekende spesies het hul oorsprong op dié eiland – daar is net een tekening van die Ulieta wat in die Londense Natuurhistoriese Museum gehou word.
Die eilande Raiatea en Tahaa word deur een koraalrif en lagune omring en kon vroeër ’n enkele eiland gewees het. Raiatea is die grootste en digs bevolkte eiland van die Benedewindse Eilande; dit beslaan ’n gebied van 167,7 km2 en het in 2007 ’n bevolking van 12 024 gehad. Die grootste dorp is Uturoa, aan die eiland se noordekant. Die hele stedelike gebied het byna 10 000 inwoners.
Die eerste Europeër wat Raiatea gesien het, was Pedro Fernandes de Queirós, in 1606. Hy het dit as Fugitiva aangeteken.[3] Die Polinesiese seevaarder Tupaia, wat saam met die ontdekkingsreisiger James Cook gereis het, is omstreeks 1725 in Raiatea gebore. Omai (omstreeks 1751-1780), nog ’n jong man van die eiland, het in 1774 saam met Europese ontdekkingsreisigers na Londen gevaar en was ’n tolk vir kaptein Cook op sy tweede en derde besoek.
Koning Tamatoa VI was die laaste monarg. Hy het van 1884 tot 1888 regeer.
Daar is minder toeriste op Raiatea as op ander eilande in die argipel. Daar is losieshuise, twee marinas, ’n viersterhotel (die Hawaiki Nui) en ’n hawe vir besoekende bote. ’n Plaaslike nywerheid is skeepsbou en die onderhoud van seiljagte.
Die eiland het ’n klein pad wat reg rondom loop. Die Raiatea-lughawe is in Uturoa.