Rolbeton is die verkorte naam vir rollergekompakteerde beton, 'n besonderse betonmengsel wat dieselfde bestanddele as konvensionele beton bevat, maar in 'n veranderde verhouding. Portlandsement, wat tradisioneel as bindmiddel gebruik word, word vir rolbeton in toenemende mate gedeeltelik deur vliegas vervang. Rolbeton is sodoende 'n mengsel van sement, vliegas, water, sand en bymiddels, met 'n laer waterinhoud as gewone beton. Rolbeton se sementinhoud kan met tot vyftig persent verminder word. Sy tipiese vogtigheid is vergelykbaar met dié van gewone grond.
Dié droë mengsel is minder geneig om te set. In konvensionele beton word bindingsprosesse gewoonlik reeds na sowat een uur gestaak en die beton begin set. Die materiaal verloor sy sterkte en moet nie weer hermeng word nie. Rolbeton daarenteen lewer feitlik geen verharde beton (betonafval) op nie.
Voorafgemengde, vormhoudende rolbeton word deur swaarkapasiteitstoerusting soos storttrokke of vervoerbande na 'n struktuur vervoer, deur stootskrapers in lae gegiet en gelyk gemaak.[1] Vervolgens word dit deur swaar vibreerrollers verdig en ontlug. Aangesien dit minder krimp as gewone of massabeton, kan rolbeton in onafgebroke lengtes geplaas word. Die gebruik van gewone beton bly gewoonlik beperk tot enkelblokplasing.
Rolbeton het ingang tot dambou gevind met die Alpa Gera-damprojek in Noord-Italië tussen 1961 en 1964, al is die beton destyds nog nie gerol nie. Gedurende die 1970's is die voordele van rolbeton vir dambou en ander boutoepassings in ingenieurstydskrifte uitgelig. Rolbeton is egter aanvanklik hoofsaaklik aangewend vir terugvulling, fondamente en padbou. Bewese kostebesparings en ander voordele het van rolbeton 'n algemeengebruikte boumateriaal vir swaartekragdamme gemaak. Vir damboudoeleindes word lae van sowat 30 sentimeter op 'n slag gegiet.
Rolbetonlae vir paaie is tussen 18 en 25 cm dik. Die gehalte van rolbeton-deklae vir padboudoeleindes is egter beperk. Dit voldoen slegs aan die behoeftes van lande met lae padboustandaarde soos die Verenigde State, terwyl rolbeton in Duitsland nie as geskik geag word vir padboudoeleindes nie.[2] 'n Moontlike oplossing is die gebruik van konvensionele asfalt as boonste deklaag.