Rotterdam | |
---|---|
Munisipaliteit | |
Uitsig op die Erasmusbrug | |
Ligging van Rotterdam in Zuid-Holland-provinsie | |
Kaart van Rotterdam-munisipaliteit | |
Koördinate: 51°55′N 4°30′O / 51.917°N 4.500°O | |
Land | Nederland |
Provinsie | Zuid-Holland |
Stigting | 13de eeu |
Regering | |
• Burgemeester | Carola Schouten (CU) |
Oppervlak | |
• Totaal | 324,14 km2 (125,15 vk. myl) |
• Land | 218,42 km2 (84,33 vk. myl) |
• Water | 105,72 km2 (40,82 vk. myl) |
Hoogte | −3 m (−10 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 670 610 |
• Digtheid | 3 070/km2 (8 000/vk. myl) |
1 Januarie 2024 | |
Tydsone | UTC+1 (IST) |
• Somertyd | UTC+2 (IDT) |
Poskode | 3011–3199 |
Skakelkodes | 010 |
Bestuurlike sentrum | Rotterdam |
Webwerf | www.rotterdam.nl |
Rotterdam is 'n groot Nederlandse hawestad en die tweede grootste stad van Nederland. Rotterdam maak deel uit van die Randstadgebied en is in Zuid-Holland aan die Nieuwe Maas geleë, wat 'n tak van die Maas in die Ryn-Maas-delta is. Die Maasstad het ontstaan op dié rivier se noordelike oewer, maar het sedert ongeveer 1900 ook uitgebrei op die suidelike oewer, wat op die eiland IJsselmonde geleë is.
Die hawe van Rotterdam is een van die grootste en belangrikste hawens ter wêreld, en die grootste in Europa.
Met ongeveer 671 000 inwoners (2024) is Rotterdam die tweede grootste stad (naas Amsterdam) in Nederland.[1]
Rotterdam het sy naam te danke aan 'n dam in die Rotterivier. Die stad is geleë aan die Nieuwe Maas, een van die riviere in die delta wat deur die Ryn en die Maas gevorm word. Die hawe van Rotterdam was lank die grootste ter wêreld en is steeds die grootste en belangrikste in Europa. Die hawegebied strek oor 'n lengte van 40 kilometer en is 'n belangrike logistieke en ekonomiese sentrum. Deels vanweë die hawebedryf het Rotterdam die beeld van 'n werkersklasstad en die stad het 'n diverse bevolking.
Nadat die historiese middestad op 14 Mei 1940 grootliks deur 'n Duitse oorlogsbomaanval vernietig is, het Rotterdam 'n bakermat geword vir innoverende argitektuur, insluitend die Erasmusbrug, die kubushuise en 'n groot aantal wolkekrabbers. Die stad is ook bekend vir die Erasmus Universiteit, die kunsversamelings van Museum Boijmans Van Beuningen en die Sparta, Excelsior en Feyenoord sokkerklubs.
Stad:
Dorpies:
Gehuggies:
Nywerheidsterreine (amptelik woonplekke):
Die munisipaliteit bestaan uit veertien bestuursgebiede:[2]
Gebied | Inwoners (2021) [3] |
Deel |
---|---|---|
Centrum | 36 600 | Regter-Maasoewer |
Charlois | 69 490 | Linker-Maasoewer/Suid |
Delfshaven ¹ | 77 820 | Regter-Maasoewer |
Feijenoord | 76 960 | Linker-Maasoewer/Suid |
Hillegersberg-Schiebroek | 44 630 | Regter-Maasoewer |
Hoek van Holland | 10 405 | nie ingedeel nie |
Hoogvliet | 35 250 | Linker-Maasoewer |
IJsselmonde | 61 095 | Linker-Maasoewer/Suid |
Kralingen-Crooswijk | 54 375 | Regter-Maasoewer |
Noord | 52 570 | Regter-Maasoewer |
Overschie ² | 19 460 | Regter-Maasoewer |
Pernis | 4 890 | Linker-Maasoewer |
Prins Alexander | 95 465 | Regter-Maasoewer |
Rozenburg ³ | 12 495 | nie ingedeel nie |
Totaal | 651 505 | |
Totaal | 380 920 | Regter-Maasoewer |
Totaal | 247 685 | Linker-Maasoewer/(Suid) |
Totaal | 22 900 | nie ingedeel nie |
¹ Insluitend Nieuw Mathenesse
² Insluitend Spaanse Polder
³ Rozenburg is op 18 Maart 2010 by Rotterdam ingelyf.
Verkiesings sedert 2002:
Party | Setels | |||||
---|---|---|---|---|---|---|
2002 | 2006 | 2010 | 2014 | 2018 | 2022 | |
Leefbaar Rotterdam (LR) | 17 | 14 | 14 | 14 | 11 | 10 |
VVD | 4 | 3 | 4 | 3 | 5 | 6 |
GL | 3 | 2 | 3 | 2 | 5 | 5 |
D66 | 2 | 1 | 4 | 6 | 5 | 5 |
PvdA | 11 | 18 | 14 | 8 | 5 | 4 |
DENK | 4 | 4 | ||||
Volt | 2 | |||||
PvdD | 1 | 1 | 2 | |||
BIJ1 | 2 | |||||
50+ | 1 | 1 | ||||
CU | 1 | |||||
SP | 1 | 3 | 2 | 5 | 2 | 1 |
CDA | 5 | 3 | 3 | 3 | 2 | 1 |
FVD | 1 | |||||
NIDA Rotterdam | 2 | 2 | ||||
PVV | 1 | |||||
SGP–CU | 1 | 1 | 1 | 1 | 1 | |
Stadspartij Rotterdam | 1 | 0 | ||||
Totaal | 45 | 45 | 45 | 45 | 45 | 45 |
Die seehawe, wat naas Nederland ook groot dele van Duitsland en dele van Wes-Europa bedien, is die oorheersende ekonomiese faktor in Rotterdam. Daarnaas speel groot maatskappye 'n beslissende rol in die plaaslike ekonomie - so verskaf twee persent van die Rotterdamse maatskappye meer as vyftig persent van alle werkgeleenthede.
Rotterdam se ekonomie baseer daarnaas op bedrywe waar die werkgeleenthede net soos in ander nywerheidslande verminder word - vervoer, logistiek en verwerkende nywerhede. Die opbrengs per werknemer is met €67 000 per jaar merkbaar hoër as die nasionale gemiddeld (€62 000 in Den Haag, €58 000 in Amsterdam), veral danksy die kapitaalintensiewe petrochemiese bedryf in die hawegebied.[4]
Die Rotterdamse hawe, wat oor 'n afstand van veertig kilometer strek en 'n oppervlakte van 10 500 hektaar het, is een van die grootstes ter wêreld en verreweg die grootste in Europa. In 2006 het dit 378,4 miljoen ton se goedere gehanteer (2009: 385 miljoen ton)[5] en was sodoende die derde belangrikste hawe na Sjanghai (China) (537 miljoen ton) en Singapoer (448,5 miljoen ton). Die naas-grootste Europese hawens was in daardie jaar Antwerpen, België (167,4 miljoen ton) en Hamburg, Duitsland (135,3 miljoen ton).[6] Die hawe en hawe-gebaseerde ondernemings dra sowat sewe persent tot die Nederlandse bruto geografiese produk by en bied sowat 320 000 werksgeleenthede, waarvan 60 000 in die hawe self.[7]
In 2000 was sowat die helfte van alle gehanteerde goedere sogenaamde "nat massagoedere" (waarvan sowat 80 persent ruolie, daarnaas chemikalieë, maar ook olies, vette en vrugtesap), 30 persent "droë massagoedere" en 20 persent houers.[8]
Die Rotterdamhawe is verreweg die grootste handelsplek vir ruolie in Europa. Hier is in 2004 altesaam 101 miljoen ton olie ingevoer, waarvan die helfte via pyplyne na die Duitse Ruhrgebied en na Antwerpen vervoer is. Die ander helfte is in die hawegebied verwerk. Vier raffinaderye, wat dikwels in besit van meerdere ondernemings is, is in die hawe gesetel - naas veertig ander maatskappye uit die olie- en chemiese bedryf, vier gasprodusente en dertien ondernemings wat hulle op die stoor van olie en sy verspreiding toespits. 'n Aantal pyplyne loop vanuit die hawe na Duitsland en België, en 'n produktepyplyn via die Ruhrgebied tot by die Rynhawe Ludwigshafen in Duitsland. Die hawegebied beskik oor interne pyplyne met 'n totale lengte van 1 500 kilometer.[9]
Rotterdam se hawe hanteer daarnaas 'n groot persentasie van die Europese steenkoolinvoere. 102 houerkrane het in 2005 9 286 757 TEU ("Twenty-foot Equivalent Unit") se houers ontlaai - Rotterdam was sodoende nog voor Hamburg Europa se grootste houerhawe. Dit is ook Europa se voorste invoerhawe vir vrugte, groente en vrugtesap. In 2000 is 900 000 ton groente en vrugte gehanteer, en die Europese Sitrusvrugtebeurs is ook in Rotterdam gesetel.