'n Beeld van die galaktiese middelpunt, met die posisie van S2 aangedui. Erkenning: ESO / Max Planck-instituut vir Buiteaardse Fisika / Gillessen et al.
Die veranderende skynbare posisie van die ster word sedert 1995 deur twee groepe gemonitor (by die UCLA en die Max Planck-instituut vir Buiteaardse Fisika) as deel van 'n poging om bewyse te kry vir die bestaan van 'n supermassiewe swartkolk in die middel van die Melkweg. Die bewyse dui al hoe meer aan dat Sgr A* deel van so 'n swartkolk is. Teen 2008 is S2 vir 'n hele omwenteling waargeneem.[5]
'n Span sterrekundiges, hoofsaaklik van die Max Planck-instituut, het waarnemings van S2 se wenteldinamika om Sgr A* gebruik om die Aarde se afstand van die galaktiese middelpunt af te meet. Hulle het bepaal dié afstand is byna 26 000 ± 2 000 ligjare (7,94 ± 0,42 kiloparsek), wat baie nou ooreenstem met vorige berekenings.[3][6] Dié afstand is belangrik in die kalibrering van astronomiese afstandskale.
S2 is presies gemonitor tydens sy nabye afstand in Mei 2018 van Sgr A* af, en die resultate stem ooreen met voorspellings volgens algemene relatiwiteit.[7]
Die naam S0-2 is in 1998 die eerste keer gebruik. "S0" dui 'n ster aan binne 'n boogsekonde van Sgr A*, die middelpunt van die Melkweg, en S0-2 was die tweede naaste ster toe die afstande gemeet is.[8]
Vroeër is die ster bloot as S2 aangeteken, omdat dit die tweede van 11 infrarooibronne naby die galaktiese middelpunt is (die sterre is by benadering antikloksgewys genommer).[9] Dit is toevallig dat die ster op albei lyste die nommer "2" het; ander katalogusse nommer dit anders.[8]
Die hoogs eksentrieke wentelbaan van S2 sal sterrekundiges die geleentheid gee om vir verskillende uitwerkings wat deur algemene relatiwiteit voorspel word en selfs vir buitedimensionele effekte te toets.[10] Dié effekte het 'n maksimum bereik met S2 se naaste afstand in die middel van 2018.[11][12] As in ag geneem word die onlangse raming van 4,31 miljoen sonmassas vir die massa van Sgr A* en S2 se naaste afstand, maak dit S2 se wentelbaan die vinnigste ballistiese wentelbaan, wat snelhede van vinniger as 5 000 km/s (of 1⁄60 van die ligsnelheid) bereik, en in snelheid toeneem met sowat 1,5 m/s2 (amper 'n sesde van die Aarde se oppervlaksnelheid).[13]
Die beweging van S2 is ook nuttig om die teenwoordigheid van ander voorwerpe naby Sgr A* te bespeur. Daar is vermoedelik duisende sterre, sowel as donker steroorblyfsels (sterswartkolke, neutronsterre en witdwerge) wat versprei is in die volume waardeur S2 beweeg. Dié voorwerpe sal S2 se wentelbaan versteur en veroorsaak dat dit geleidelik afwyk van die Keplerwentelbaan, wat beweging om 'n enkele puntmassa kenmerk.[14] Tot dusver is die enigste beperking wat op dié oorblyfsels geplaas kan word, dat hulle totale massa minder beslaan as 1% van die massa van die supermassiewe swartkolk.[15]
In 2018 het S2 die naaste aan Sgr A* gekom: 120 AE, of sowat 1 400 keer sy Schwarzschild-radius, met 'n snelheid van 7 650 km/s of amper 3% van die ligsnelheid.[16][17] S2 het sy naaste afstand op 19 Mei 2018 bereik. Sy vinnigste snelheid van die Aarde af gesien was in April, en sy stadigste snelheid laat in Augustus en vroeg in September.[16]
Onafhanklike ontleding deur die GRAVITY-samewerking[18][19] (onder Reinhard Genzel) en die KECK/UCLA-galaktiesesentrumgroep[20][21] (onder Andrea Ghez) het 'n gesamentlike omgekeerde Doppler-effek en gravitasionele rooiverskuiwing van tot 200 km/s/c onthul, in ooreenkoms met voorspellings volgens algemene relatiwiteit. Bykomende ontledings het 'n Schwarzschild-presessie van 12 boogminute (0,2 grade) onthul in S2 se wentelbaan wat deur die nabye afstand veroorsaak is, wat ten volle ooreenstem met algemene relatiwiteit.[22][23][24]
↑Paumard, T.; Genzel, R.; Martins, F.; Nayakshin, S.; Beloborodov, A.M.; Levin, Y.; Trippe, S.; Eisenhauer, F.; Ott, T.; Gillessen, S.; Abuter, R.; Cuadra, J.; Alexander, T.; Sternberg, A. (2006). "The two young star disks in the central parsec of the galaxy: Properties, dynamics, and formation". The Astrophysical Journal. 643 (2): 1011–1035. arXiv:astro-ph/0601268. Bibcode:2006ApJ...643.1011P. doi:10.1086/503273. S2CID14440768.
↑"Galactic Center Research"(PDF). Infrared/Submillimeter Astronomy. Max-Planck-Institut für extraterrestrische Physik. Geargiveer vanaf die oorspronklike(PDF) op 6 September 2006. Besoek op 26 Maart 2013.
↑Eckart, A.; Genzel, R. (1997). "Stellar proper motions in the central 0.1 pc of the Galaxy". Monthly Notices of the Royal Astronomical Society. 284 (3): 576–598. Bibcode:1997MNRAS.284..576E. doi:10.1093/mnras/284.3.576.
↑Sabha, Nadeen; Eckart, Andreas; Merritt, David; Zamaninasab, Mohammad; Witzel, Gunther; García-Marín, Macarena; Jalali, Behrang; Valencia-S., Monica; et al. (September 2012). "The S-Star Cluster at the Center of the Milky Way: On the nature of diffuse NIR emission in the inner tenth of a parsec". Astronomy and Astrophysics. 545: A70. arXiv:1203.2625. Bibcode:2012A&A...545A..70S. doi:10.1051/0004-6361/201219203. S2CID118358113.