Sachalin-tonnel | |
---|---|
Beplande roete van die Sachalin-tonnel.
Roetekaart.
| |
Plaaslike naam | Сахалинский тоннель Строительство № 507 |
Ligging | Rusland (Sachalin-oblast en Chabarofsk-krai) |
Stelsel | Russiese Spoorweë |
Status | Uitgestel |
Strekking | Kaap Lazaref tot Kaap Pogibi |
Werk begin | 6 September 1950[1] |
Gesluit | 26 Mei 1953 [2] |
Soort | Spoorlyn (vrag) |
Lengte | 11 750 km[3] |
Die Sachalin-tonnel (Russies: Сахалинский тоннель) is 'n onvoltooide en tans uitgestelde bouprojek, wat ná voltooiing die eiland Sachalin met die Russiese vasteland sal verbind deur middel van 'n tonnel van sowat 10 km lank onder die Straat van Newelskoi (die smalste deel van die Straat van Tartarye).
Die idee van 'n tonnel onder deur die Straat van Newelskoi bestaan reeds sedert die 19de eeu, maar dit is nooit aangepak nie weens die ekonomiese implikasies. Studies oor die uitvoerbaarheid van die projek is die eerste keer in die laat 1930's deur die Sowjetunie gedoen, hoewel die Tweede Wêreldoorlog dit in dié stadium onmoontlik gemaak het. Josef Stalin het later, in 1950, sy plan aangekondig om 'n spoorverbinding na Sachalin te vestig, deur middel van óf 'n treinveerboot óf 'n straatweg óf 'n tonnel. Die Sowjetregering het op 5 Mei 1950 die besluit aangekondig om 'n tonnel te bou, asook 'n treinveerboot as 'n tydelike oplossing. Die projek het hoofsaaklik 'n militêre doel gehad, om 'n beter verbinding daar te stel tussen Sachalin en die Russiese vasteland vir afdelings van die Rooi Leër wat op die eiland gestasioneer was.
Die bou van die spoorverbinding van Selichino naby Komsomolsk aan die Amoer na die beplande hoofhalte op die vasteland by Kaap Lazaref is toegewys aan die departement van binnelandse sake, met die departement van vervoer in beheer van die tonnel self. In 1952 is die hele projek onder beheer van die departement van binnelandse sake geplaas.
Die roete op Sachalin is beplan om vir 327 km vanaf Kaap Pogibi te strek, waar die tonnel bo die oppervlak sou uitkom, na die gewese noordelike terminus van die Sachalin-spoornetwerk by Pobedino, 10 km noord van Smirnich. Die lengte van die tonnel tussen Kaap Pogibi en Kaap Lazaref sou sowat 10 km wees. Op die vasteland sou 'n spoorlyn gebou word na die spoorverbinding tussen Komsomolsk aan die Amoer en Sowjetskaja Gavan, wat nou deel van die Baikal-Amoer-hooflyn is.
Die projek sou teen einde 1953 voltooi en teen einde 1955 in volle gebruik wees. Goedere wat vervoer sou word, is op vier miljoen ton geraam. Die projek het drie hoofdele ingesluit: spoorverbindings op die vasteland en eiland, 'n verbinding met die res van die spoornetwerk en die tonnel self. Dit was eintlik bedoel as 'n tydelike spoorlyn, wat gevolg sou word deur 'n groot herbouprojek nadat konstruksie voltooi is. Die tonnel self sou gebou word deur militêre ingenieurs en tonnelkundiges van die Moskouse Moltreinmaatskappy.
Werk aan die projek het tot stilstand gekom ná Stalin se dood, en daar is beweer die tonnel is feitlik halfpad onder deur die seestrate voltooi, hoewel latere ondersoek getoon is dat net twee skagte gebou is. Hulle was sowat 55 m diep en 9 m breed.[4] Die redes vir die kansellasie is onduidelik, maar sommige bronne beweer daar was nie meer die nodige mannekrag nie vanweë talle amnesties wat ná Stalin se dood aan gevangenes toegeken is. Sonder 'n verbinding aan die spoornetwerk was die tonnel nutteloos.[5]
Sowat 120 km van die spoorlyn aan die regteroewer van die Amoerrivier van Selichino tot by Tsjorni Mis is voltooi, hoewel dit nie naby die beplande ingang by Kaap Lazaref kom nie. Die spoorlyn tussen Selichino en Tsjorni Mis is later gebruik vir die vervoer van hout, maar is in die 1990's gesluit. 'n Groot deel van die spoor is afgebreek.
Sedert 1973 verbind 'n treinveerboot Wanino op die vasteland met die dorp Cholmsk op Sachalin.
Selfs ná die verbrokkeling van die Sowjetunie was daar beroepe deur politici dat die projek weer aangepak word, maar daar is kommer dat die koste groter sal wees as die voordele.[6] Daar is egter tekens dat dit beplan word, veral ná 'n aankondiging in November 2008 deur die destydse president, Dmitri Medwedef.[7] Die projek kan teen 2030 voltooi wees. Op 16 Januarie 2009 het die Russiese regering voorgestel dat 'n brug in plaas van 'n tonnel gebruik word.[8]
In 2019 is werk voltooi om die smal treinspore op Sachalin te verbreed na die Russiese standaard.[9] Die smal spore is 'n erfenis uit die dae toe Japan in beheer was van die suidelike deel van die eiland.
Daar was ook al voorstelle dat die suidelike punt van Sachalin aan die Japannese eiland Hokkaido verbind word deur middel van 'n 40 km lange brug of tonnel. Dit sal 'n direkte verbinding daarstel vir vragverkeer van Japan na die vasteland van Asië en Europa.[10][11]
In Julie 2018 het president Wladimir Poetin 'n ontleding gelas na die bou van 'n brug oor die noordelikste deel van die Straat van Tartarye. Poetin het gesê die projek is baie belangrik vir die bewoners van Sachalin en sal mense aanmoedig om in die streek te bly. Hy het gesê hy het die regering opdrag gegee om die saak te ondersoek, veral die ekonomiese aspekte daarvan.[12]
{{cite web}}
: CS1 maint: archived copy as title (link)
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)