Samalas | |
---|---|
Ligging | Lombok, Indonesië |
Hoogte | 2 376 meter bo seevlak |
Koördinate | 8°24′36″S 116°24′30″O / 8.41000°S 116.40833°O |
Bergtipe | Ultrapliniese vulkaan |
Laaste uitbarsting | 1257 |
Ligging in Indonesië. |
Die berg Samalas is 'n vulkaan op die eiland Lombok in Indonesië. 'n Enorme uitbarsting in 1257 het 'n reusagtige kaldera in sy middel laat ontstaan, wat deesdae gevul is met die Segara Anak-meer. Segara Anak beteken "kind van die see" en verwys na die meer se kleur, wat net so blou soos die see is.
Die vulkaankeël Gunung Barujari lê aan die oostekant van die meer en veroorsaak sy halfmaanvormige voorkoms. Gasborrels ontsnap van die meer se bodem en help dat die water 'n pH van 7-8 het.[1]
Die oppervlak van Segara Anak is 2004 m bo die seevlak en is Indonesië se tweede hoogste kalderameer met 'n aktiewe vulkaan. Gunung Barujari se piek is 2 376 m bo die seevlak. Die meer is 7,5 x 6 km groot en het 'n oppervlakte van 45 km2. Die maksimum diepte is 230 m.[2]
In 1257 het 'n katastrofiese uitbarsting op Samalas plaasgevind, wat waarskynlik een van die grootstes in die huidige epog, die Holoseen, was. Dit was waarskynlik van magnitude VEI-7[3]. Dit dui op 'n uitbarsting wat minstens 100 km3 ejekta uitwerp.
Sulke uitbarstings kom net een of twee keer in 'n millennium voor, hoewel dit onseker is vanweë onvoldoende geologiese en historiese rekords.[4]
Die uitbarstingskolom het tientalle kilometers hoog opgeskiet en piroklastiese strome veroorsaak wat 'n groot deel van Lombok bedek en oor die see na die naburige eiland Sumbawa versprei het. Menslike nedersettings, onder meer die stad Pamatan, is verwoes. As het tot 340 km ver op Java geval.
Die uitbarsting is gesien deur mense wat dit op 'n dokument van palmblare, die Babad Lombok, aangeteken het. Die aërosols wat in die atmosfeer beland het, het die son se straling geblokkeer en temperature wêreldwyd vir 'n paar jaar laat afneem, met mislukte oeste en hongersnood in Europa en elders as 'n gevolg. Die uitbarsting het 'n groot kaldera agtergelaat wat nou die Segara Anak-meer huisves. Latere vulkaniese aktiwiteit het vulkaniese sentrums in die kaldera gevorm, insluitende die Barujari-keël, wat steeds aktief is.