| |||||
Nasionale leuse: Country Above Self (Engels vir: "Land bo homself") | |||||
Volkslied: O Land of Beauty! (Engels vir: "O land van skoonheid!") Koninklike volkslied: God Save the King (Engels vir: "God beskerm die koning") | |||||
Hoofstad | Basseterre | ||||
Grootste stad | Basseterre | ||||
Amptelike tale | Engels | ||||
Regering | Federale parlementêre grondwetlike monargie Charles III Dame Marcella Liburd Terrance Drew | ||||
Onafhanklikheid | 27 Februarie 1967 19 September 1983 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
261 km2 (188ste) 101 myl2 feitlik niks | ||||
Bevolking - 2021-skatting - 2011-sensus - Digtheid |
47 606[1][2] (213de) 46 204 164 / km2 (64ste) 424,8 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2023-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,777[4] (75ste) – hoog | ||||
Geldeenheid | Dollar (XCD )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
AST (UTC-4) nie toegepas nie (UTC-4) | ||||
Internet-TLD | .kn | ||||
Skakelkode | +1-869 |
St. Kitts en Nevis (Engels: Saint Kitts and Nevis, ), amptelik die Federasie St. Kitts en Nevis of Federasie St. Christopher en Nevis (Federation of Saint Christopher and Nevis of Federation of Saint Kitts and Nevis[5]), is 'n eilandstaat in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 261 km² en 'n bevolking van 47 606 in 2021. Dit bestaan uit twee eilande: St. Kitts en Nevis wat albei aan die Klein-Antille behoort.
St. Kitts en Nevis is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit is in die suidooste van Sint Eustatius, Saba, Sint Bartolomeus, Saint-Martin/Sint Maarten en Anguilla, in die suidweste van Antigua en Barbuda en in die noordweste van Montserrat geleë. Die hoofstad en grootste stad is Basseterre, wat op die hoofeiland St. Kitts geleë is.
Die eilande St. Kitts en Nevis is in 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek; hulle is onderskeidelik San Martín (vir Nevis) en Sant Yago (vir St. Kitts) genoem. Die naam van sy beskermheilige San Cristóbal is deur Christophorus Columbus nie aan St. Kitts gegee nie, maar aan die eiland Saba, sowat 20 myl verder noordwes. Dit het egter deur 'n karteringsfout by St. Kitts beland en die Engelse het die vertaling daarvan – St. Christopher – vir dié eiland gebruik. In die 17de eeu was "Kit(t)" 'n algemene bynaam vir Christophorus, waaruit St. Kitts vir dié eiland ontstaan het.
In 1623 het Engelse op dié eilande gevestig, binnekort gevolg deur Franse, en albei het saamgestem om dié eilande te deel. St. Kitts en Nevis het die beginpunt vir die kolonisasie van die Engelse en die Franse in die Karibiese gebied geword. Die Britte het vanaf hier Antigua en Barbuda, Montserrat en Anguilla gekoloniseer en die Franse Guadeloupe en Martinique. Tydens die laat 17de eeu het die Engelse en Franse oor die beheer van dié eilande gebaklei en dit is in 1713 deur Frankryk aan Engeland afgestaan. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie. Op 27 Februarie 1967 het St. Kitts en Nevis volle outonomie oor sy binnelandse sake ontvang en 'n geassosieerde land van die Verenigde Koninkryk geword.
Op 19 September 1983 het St. Kitts en Nevis van die Verenigde Koninkryk onafhanklik geword. St. Kitts en Nevis is 'n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond en Charles III van die Verenigde Koninkryk is die staatshoof van dié land. St. Kitts en Nevis is die kleinste soewereine land in die Amerikas en die Westelike Halfrond, sowel volgens oppervlak asook bevolking. Dié eilande is gesogte vakansieplekke en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.[6]
Krieket is St. Kitts en Nevis se gewildste sportsoort. St. Kitts en Nevis is een van die eilandstate wat met ander Karibiese state spelers beskikbaar stel vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan, een van die "nasionale spanne" in internasionale krieket met toetsstatus. Die Wes-Indiese nasionale krieketspan het aan amper elke krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, die eerste twee toernooie in 1975 en 1979 gewen en slegs die 2023-toernooi misgeloop. Saam met Antigua en Barbuda, Barbados, Grenada, Guyana, Jamaika, St. Lucia en Trinidad en Tobago het dié eilandstaat die Krieketwêreldbeker 2007 aangebied, wat deur Australië gewen is.