Ligging in die provinsie Liège | Wapen |
Vlag | |
Land | België |
Gewes (deelstaat) | Wallonië |
Gemeenskap | Franse Gemeenskap |
Provinsie | Liège (Luik) |
Koördinate | 50°23′N 5°55′E / 50.383°N 5.917°O |
Stigting | 648 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 85,07 vk km |
Bevolking: | |
- Totaal (1 Januarie 2017) | 7 128 |
- Bevolkingsdigtheid | 83,7/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
Burgemeester | Thierry de Bournonville (MR) |
Amptelike Webwerf | stavelot.be |
Stavelot (Wallonies Ståvleu, Duits Stablo) is 'n stad in die Franssprekende Belgiese gewes Wallonië. Stavelot is in die ooste van die provinsie Liège (Nederlands Luik) geleë, sowat 50 kilometer van die stad Liège (Luik) en 150 kilometer van Brussel af. Die munisipale gebied het 'n bevolking van 6 919 (soos op 1 Januarie 2015) en 'n oppervlakte van 85 km².
Stavelot het internasionale bekendheid vir sy Maaslandse metaal- en goudsmeekuns verwerf.
Stavelot is in die Hoog Ardenne-bergreeks en in die sentrum van 'n uitgestrekte vrugbare gebied geleë, vlakby die grens met Duitsland. Die stad het langs die oewers van die Amel-rivier ontwikkel.
Stavelot is een van die oudste nedersettings in België wat sy ontstaan aan die plaaslike abdy te danke het. Die klooster is in 648 in opdrag van die hofmeier Grimoald deur Sint Remaclus gestig. Die Merowingies-Frankiese koning Sigibert III het uitgestrekte landerye aan die abdy geskenk.
As deel van die diosese van Luik het die abdy saam met die klooster van Malmédy in die diosese van Keulen in die laat middeleeue 'n ryksgebied ("Ryksabdy van Stavelot-Malmédy") gevorm wat onmiddellik van die Heilige Romeinse Ryk afhanklik was en oor sy eie setel en stem in die Raad van Ryksvorste beskik het. Die ab van die Stavelot-klooster het sodoende die titel vors-ab gevoer. Die vorstedom het sy politieke outonomie eers tydens die Franse Rewolusie in 1794 kwytgeraak.
Volgens 'n besluit van die Kongres van Wene is Stavelot van sy susterstad en -klooster Malmédy, wat by Pruise ingelyf is, geskei. Stavelot het eers deel van die Verenigde Koninkryk van die Nederlande geword en is in 1830 by die nuutgestigte Belgiese koninkryk ingesluit.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Stavelot. |